2 Korinthiërs 11:22-33

2 Korinthiërs 11:22-33 AFR20

Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle nakomelinge van Abraham? Ek ook. Is hulle dienaars van •Christus? – nou praat ek sonder verstand – ek nog meer: oorvloediger in harde werk, meer dikwels in die tronk, uitermate geslaan, en dikwels in doodsgevaar. Van die Jode het ek vyf keer veertig houe minus een gekry; drie maal is ek met stokke geslaan; een maal is ek gestenig; drie maal het ek skipbreuk gely; 'n nag en 'n dag lank het ek die diepsee trotseer; dikwels op reis, met gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van die kant van my eie volk, gevare van die kant van die heidene, gevare in die stad, gevare in die woestyn, gevare op see, gevare onder vals broers, met harde werk en swaarkry, dikwels met slapelose nagte, honger en dors, dikwels sonder kos, koud en nakend. En afgesien van nog ander ongenoemde dinge, is daar daaglikse druk op my – my kommer oor al die •gemeentes. Wie is swak, en ek is nie ook swak nie? Wie kom tot struikeling, en ek brand nie van ontsteltenis nie? As daar dan gespog moet word, sal ek oor my swakhede spog. God, die Vader van die Here Jesus, wat lofwaardig is tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. In Damaskus het koning Aretas se etnarg die stad Damaskus bewaak om my te arresteer. Deur 'n venster in die stadsmuur is ek toe in 'n mandjie laat sak, en het ek aan sy hande ontkom.