2 KORINTIËRS 11:22-33

2 KORINTIËRS 11:22-33 Bybel vir almal (ABA)

Hulle spog dat hulle Hebreërs is. Ek is ook 'n Hebreër. Hulle spog dat hulle Israeliete is. Ek is ook 'n Israeliet. Hulle spog dat hulle die nageslag van Abraham is. Ek is ook van die nageslag van Abraham. Hulle spog dat hulle dienaars van Christus is. En nou praat ek regtig soos 'n dom mens: Ek is 'n beter dienaar van Christus. Ek het baie harder gewerk as hulle, ek was meer in die tronk, mense het my baie meer geslaan as vir hulle, ek was baie maal amper dood. Die Jode het my vyf maal met 'n stok geslaan, elke maal het hulle my 39 houe geslaan. Die Romeine het my drie maal met 'n stok geslaan, mense het my een maal met klippe gegooi om my dood te maak, ek was op drie skepe wat stukkend gebreek het, en ek het een maal 'n hele nag en dag op die see rondgedryf. Ek het baie maal ver gereis. Ek het deur gevaarlike riviere gegaan, en daar was baie ander gevaarlike dinge: Daar was diewe, my eie Jode-mense, heidene, daar was stede waar ek swaargekry het, plekke ver van die stede, die see, en mense wat gesê het hulle is Christene maar hulle was vals. Ek het hard gewerk en swaargekry, ek kon baie maal nie slaap nie, ek was honger en dors, ek het baie maal nie kos gehad nie, ek het koud gekry en ek het nie genoeg klere gehad nie. Daar is nog baie ander dinge wat ek nie genoem het nie. Ek is ook bekommerd oor die werk wat ek elke dag moet doen, ek is bekommerd oor al die gemeentes. As iemand in 'n gemeente swak is, dan is ek saam met hom swak. En as iemand 'n ander persoon sonde laat doen, dan word ek baie kwaad. As ek moet spog, dan sal ek daaroor spog dat ek swak is. God weet dat ek nie lieg nie. Hy is die God en Vader van die Here Jesus. Ons moet God altyd prys. Ek was eendag in Damaskus. Koning Aretas het iemand gekies en aangestel om te regeer oor die stad. Daardie persoon het wagte aangestel en hy het probeer keer sodat ek nie uit die stad kon vlug nie. Hy wou my vang. Maar vriende het my in 'n mandjie deur 'n venster in die stadsmuur laat afsak. En so het ek gevlug, hy kon my nie vang nie.

2 KORINTIËRS 11:22-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Stam hulle van Abraham af? Ek ook. Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede. Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid! Toe ek in Damaskus was, het die verteenwoordiger van koning Aretas die stad laat bewaak om my te vang. Maar deur 'n venster in die muur is ek in 'n mandjie laat afsak en het ek aan sy hande ontkom.

2 KORINTIËRS 11:22-33 Die Boodskap (DB)

Daardie mense wat by julle preek, vertel vir almal dat hulle opregte Hebreërs is wat nog Hebreeus kan praat. Wel, ek ook. Hulle sê hulle is Israeliete. Ek ook. En lede van Abraham se nageslag. Ek ook. Dink hulle miskien dat hulle sulke wonderlike dienaars van Christus is? Wel, ek is ’n nog beter dienaar van Christus as hulle. Nou raak ek totaal uitspattig! Ek het harder gewerk as al daardie mense. Male sonder tal is ek in die tronk gegooi. Ek is meer kere geslaan as wat ek kan onthou. Dikwels het my lewe aan ’n draadjie gehang. Vyf maal het die Jode my laat gesel deur my die gebruiklike 39 houe te slaan. Drie maal is ek met stokke toegetakel. Een keer is ek met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Drie keer het die skip waarop ek was, gesink. ’n Ander keer moes ek ’n hele dag en nag op die oop see ronddryf. Ek het ook al die wêreld vol gereis. En ek moes al ’n groot klomp gevare trotseer: vol riviere; rowers wat my wou aanrand; my eie volksgenote en ander mense wat nie aan Israel behoort nie wat my prediking verwerp het; gevare in die stede en in woestyne; storms op die see en vals gelowiges wat my in die steek gelaat het. Ek moes ook baie hard werk. Baie nagte het ek nie ’n oog toegemaak nie. Dikwels het ek niks gehad om te eet of te drink nie. Kos was maar altyd ’n skaarste. Ek het ook nie altyd genoeg warm klere gehad om my teen die koue te beskerm nie. Asof dit nie genoeg is nie, moet ek ook nog elke dag ’n groot klomp krisisse hanteer. Die verskillende gemeentes se probleme lê swaar op my hart. Wanneer party gelowiges wil tou opgooi, voel ek hulle pyn aan my eie lyf. En wanneer hulle in die sonde val, voel dit vir my asof ek self deur die vuur stap. As ek dan nou oor myself moet spog, sal ek liewer oor al my swakhede spog. Ek lieg nie as ek al hierdie dinge vir julle sê nie. Ons wonderlike God weet dit. Hy is die Vader van ons Here Jesus. Sy Naam moet vir altyd grootgemaak word. O ja, toe ek vroeër in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas sy soldate beveel om die stad op te pas sodat ek nie kon ontsnap nie. Toe het die gelowiges my in ’n mandjie versteek en deur ’n venster in die stadsmuur laat afsak. So het ek daarin geslaag om te ontsnap.

2 KORINTIËRS 11:22-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die saad van Abraham? Ek ook. Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is! Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry; drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ’n dag en ’n nag op die oop see oorleef. Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges. Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees. Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes. Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie? Wie word tot struikeling gebring, en ek raak nie uiter-mate ontsteld nie? As daar dan grootgepraat móét word, sal ek spog, maar dan veel eerder oor my swakhede. Die God en Vader van die Here Jesus weet – aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid – dat ek nie ’n leuen vertel nie. Toe ek in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas die stad Damaskus laat bewaak om my te arresteer. Deur ’n venster in die muur is ek in ’n mandjie neergelaat en het ek sy hande ontglip.