2 Kronieke 8:1-10

2 Kronieke 8:1-10 AFR20

Aan die einde van twintig jaar, waarin Salomo die huis van die HERE en sy paleis gebou het, het Salomo die dorpe wat Huram vir hom gegee het, herbou en Israeliete daar gevestig. Salomo het toe na Hamat-Soba gegaan en dit oorwin. Hy het Tadmor in die woestyn versterk, asook al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. Hy het Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder as versterkte stede met mure, poortdeure en sluitbalke herbou, ook Baälat en al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, al die stede vir die strydwaens en vir die perde, ja, alles wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het. Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, almal wat nie van Israel was nie, dié van hulle nageslag wat ná hulle in die land oorgebly en wat nie deur die Israeliete vernietig is nie, hulle is deur Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk; dit is vandag nog so. Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens vir sy werk nie, want hulle was krygsmanne, bevelvoerders van sy adjudante en •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. Hulle was ook die hoofopsigters van koning Salomo – tweehonderd-en-vyftig wat bevel gevoer het oor die mense.