2 KRONIEKE 8:1-10
2 KRONIEKE 8:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Salomo het 20 jaar lank gebou om die tempel en sy paleis klaar te maak. Daarna het hy die stede reggemaak wat Hiram vir hom gegee het. Hy het Israeliete daar laat woon. Salomo het na die stad Hamat-Soba gegaan en hy het die mense van die stad oorwin. Hy het die stad Tadmor in die woestyn gebou en al die stede in die land Hamat. Hy het sy goed daar gebêre. Hy het die stede Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder gebou. Dit was stede wat sterk mure gehad het en poort-deure en sluitbalke. Hy het die stad Baälat gebou en ook al die stede waar hy sy goed gebêre het en die stede waar sy oorlogkarre en sy ryperde was. Salomo het alles gebou wat hy wou bou in Jerusalem en op die Libanon-berg en in die hele land waar hy koning was. In die land was daar mense wat nie Israeliete was nie, dit was die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. Hulle was die nageslag van die mense wat oorgebly het in die land, die Israeliete het hulle nie doodgemaak nie. Salomo het hulle almal baie hard laat werk, hulle doen dit nou nog. Maar Salomo het gesê die Israeliete mag nie slawe word nie. Hulle was sy soldate en die offisiere van die soldate op die oorlogkarre en die perde. Salomo het 250 belangrike amptenare gehad wat moes kyk dat die mense hulle werk doen.
2 KRONIEKE 8:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die huis van die HERE en sy huis gebou het, het Salomo die stede opgebou wat Huram aan Salomo gegee het, en die kinders van Israel daar laat woon. Daarna het Salomo na Hamat-Soba getrek en dit oorweldig. En hy het Tadmor in die woestyn opgebou, en al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. Verder het hy Bet-Horon-Bo en Bet-Horon-Onder as vestingstede opgebou met mure, poorte en grendels. Ook Báälat en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en al die stede vir die strydwaens en die stede vir die perderuiters en alles wat Salomo graag wou gebou het in Jerusalem en in die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy. Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, wat nie uit Israel was nie — van hulle kinders wat ná hulle oorgebly het in die land, wat die kinders van Israel nie uitgeroei het nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe. Maar van die kinders van Israel het Salomo geen slawe gemaak vir sy diens nie, maar hulle was krygsmanne en owerstes van sy beste vegsmanne en owerstes van sy strydwaens en sy perderuiters. En dit was die hoofopsigters van koning Salomo, tweehonderd-en-vyftig wat oor die mense bevel gevoer het.
2 KRONIEKE 8:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die huis van die Here en sy eie paleis gebou het, het hy die stede wat Hiram aan hom oorgedra het, weer opgebou en Israeliete daar gevestig. Hy het na Hamat-Soba toe gegaan en dié ingeneem. Hy het Tadmor in die woestyn versterk, en ook al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. Hy het Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder herbou, vestingstede met mure, poortdeure en sluitbalke; net so ook Baälat en al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Verder het hy al die bouwerk waarop hy besluit het, voltooi in Jerusalem, op die Libanon en dwarsdeur die land waaroor hy geregeer het. Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, dwangarbeid laat doen. Dit is vandag nog so. Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik vir sy projekte nie, want hulle was die soldate en die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag. Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: twee honderd en vyftig wat gesag oor die volk uitgeoefen het.
2 KRONIEKE 8:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aan die einde van twintig jaar, waarin Salomo die huis van die HERE en sy paleis gebou het, het Salomo die dorpe wat Huram vir hom gegee het, herbou en Israeliete daar gevestig. Salomo het toe na Hamat-Soba gegaan en dit oorwin. Hy het Tadmor in die woestyn versterk, asook al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. Hy het Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder as versterkte stede met mure, poortdeure en sluitbalke herbou, ook Baälat en al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, al die stede vir die strydwaens en vir die perde, ja, alles wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het. Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, almal wat nie van Israel was nie, dié van hulle nageslag wat ná hulle in die land oorgebly en wat nie deur die Israeliete vernietig is nie, hulle is deur Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk; dit is vandag nog so. Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens vir sy werk nie, want hulle was krygsmanne, bevelvoerders van sy adjudante en •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery. Hulle was ook die hoofopsigters van koning Salomo – tweehonderd-en-vyftig wat bevel gevoer het oor die mense.
2 KRONIEKE 8:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die huis van die HERE en sy huis gebou het, dat Salomo die stede wat Huram aan Salomo teruggebring het, gebou het en die kinders van Israel daar laat woon het. En Salomo het na Hamat-Soba gegaan en dit oorwin. En hy het Tadmor in die woestyn gebou en al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. Hy het ook Bet-Horon die boonste en Bet-Horon die onderste gebou, omheinde stede met mure, poorte en grendels; En Baälat en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en al die strydwastede en die stede van die ruiters en alles wat Salomo wou bou in Jerusalem en op die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy. Wat die hele volk betref wat oorgebly het van die Hetiete en die Amoriete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete wat nie uit Israel was nie, Maar van hulle kinders wat ná hulle in die land oorgebly het, wat die kinders van Israel nie verteer het nie, hulle het Salomo laat belasting betaal tot vandag toe. Maar van die kinders van Israel het Salomo geen slawe gemaak vir sy werk nie; maar hulle was krygsmanne en owerstes van sy owerstes en owerstes van sy strydwaens en ruiters. En dit was die owerstes van koning Salomo se opsigters, twee honderd en vyftig, wat oor die volk geheers het.
2 KRONIEKE 8:1-10 Die Boodskap (DB)
Na twintig jaar as koning het Salomo die groot bouwerk aan die Here se tempel en sy eie paleis voltooi. Hy het toe begin aandag gee aan die stede wat koning Hiram vir hom gegee het en hy het Israeliete in die stede gevestig. Ook in dié tyd het Salomo teen Hamat-Soba opgetrek en dit ingeneem. Hy het Tadmor in die woestyn opgebou, asook die voorraadstede in die omgewing van Hamat. Hy het die susterstede Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder versterk, hulle stadsmure opgebou en die stadspoorte met sluitbalke versterk. Hy het ook Baälat en sy voorraadstede versterk, asook die stede waar die strydwaens en die perderuiters gestasioneer was. Verder het hy alles aangepak wat hy graag wou doen in Jerusalem, die Libanon en in die res van die gebied onder sy beheer. Salomo het al die mense wat nie Israeliete was nie, soos die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, maar wat in die land oorgebly het, vir dwangarbeid opgeroep. Dit is vandag nog die geval. Hy het egter nie dwangarbeid op die Israeliete afgedwing nie. Hy het hulle gebruik as soldate, as offisiere in die leër en as bevelvoerders en bemanning van sy strydwaens. Koning Salomo het 250 van hulle aangestel as toesighouers oor sy projekte.
2 KRONIEKE 8:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit was al twintig jaar sedert Salomo koning geword het. Die groot bouprojekte van die HERE se tempel en sy koninklike paleis was afgehandel. Salomo het toe sy aandag gewy aan die herbou van die dorpe wat koning Hiram vir hom gegee het, en Israeliete daar gevestig. In hierdie tyd het Salomo teen die stad Hamat-Soba geveg en dit verower. Hy het Tadmor in die woestyn herbou en ook baie dorpe in die omgewing van Hamat as voorraadstede. Hy het die stede van Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder versterk, die mure herbou en hekke by die poorte aangebring. Hy het in hierdie tyd ook Baälat en ander voorraadstede herbou, en stede gebou waar sy strydwaens en perde aangehou kon word. Hy het al die beplande bouwerk in Jerusalem, die Libanon en deur sy hele ryk voltooi. Daar was nog mense in die land wat nie Israeliete was nie, soos die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Hulle was afstammelinge van die volke wat Israel nie heeltemal uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgeroep vir dwangarbeid, soos dit vandag nog is. Maar Salomo het niemand uit die Israeliete as slawe gebruik nie. Hy het hulle aangestel om te dien as soldate, offisiere in sy leër, bevelvoerders oor sy strydwaens, en sy berede mag. Koning Salomo het ook 250 van hulle aangestel om toesig te hou oor die verskillende projekte.