Toe het hy voor die altaar van die HERE gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel, en sy hande uitgestrek. Ja, Salomo het 'n verhoog van brons gemaak en dit in die middel van die buitehof gesit. Dit was vyf el breed, vyf el lank en drie el hoog. Hy het daarop gaan staan en daar voor die hele geloofsgemeenskap van Israel op sy knieë neergesak, sy hande na die hemel uitgestrek, en gesê:
“HERE, God van Israel,
daar is geen god soos U
in die hemel of op die aarde nie;
U wat die verbond en troue liefde
in stand hou vir u diensknegte
wat met hulle hele hart
voor U leef;
U wat ter wille van u dienskneg,
my vader Dawid,
gehou het by wat U hom beloof het.
U het dit met u mond gesê
en met u hand volbring,
soos dit vandag is.
Daarom, HERE, God van Israel,
ter wille van u dienskneg,
my vader Dawid,
hou nou by wat U hom beloof het
toe U gesê het,
‘Daar sal vir jou nooit
iemand ontbreek
wat voor my aangesig
op die troon van Israel sit nie,
as jou seuns maar net ag slaan
op hulle optrede
deur binne my wet te leef
soos jy voor My geleef het.’
Daarom, HERE, God van Israel,
laat u belofte wat U gemaak het
aan u dienskneg, my vader Dawid,
tog waar word.
“ Maar kan God werklik
by mense op aarde woon?
Kyk, die hemelruim
en die hoogste hemele
kan U nie omvat nie –
hoeveel minder hierdie tempel
wat ek gebou het?
“U moet aandag gee
aan die gebed van u dienskneg,
aan sy smeekbede, HERE my God,
deur te luister na die klaagroep,
na die gebed wat u dienskneg
telkens voor U bid –
dat u oë dag en nag oop sal wees
na hierdie tempel,
na die plek waarvan U gesê het
dat U u Naam daar sal vestig,
sodat U sal luister na die gebed
wat u dienskneg in die rigting
van hierdie plek rig.
Luister dan na die smeekbede
van u dienskneg
en van u volk Israel wat hulle bid
in die rigting van hierdie plek.
U self moet dit hoor uit die plek
waar U woon, uit die hemel;
U moet dit hoor,
en U moet vergewe.
“Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self uit die hemel hoor en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige te vergeld, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en deur die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien.
“Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle terugkeer, u Naam prys en bid en voor U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor uit die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel, en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle en aan hulle voorouers gegee het.
“ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het.
“ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiekte uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane en kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en wanneer daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel, wat elkeen sy teistering en pyn ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor uit die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê, deur u paaie te volg solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het.