2 KRONIEKE 6:12-31
2 KRONIEKE 6:12-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit. Hy het op 'n bronsverhoog gestaan wat hy gemaak het en in die voorhof gesit het. Dit was twee en 'n half meter lank, twee en 'n half meter breed, een en 'n half meter hoog. Hy het daarop gaan staan en toe kniel hy voor die hele gemeente van Israel en strek sy hande uit na die hemel toe en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so, soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul. “Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het. “Here, God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar Dawid gedoen het, ook verder vas staan. “Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! “Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar tot U rig. Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog! “As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade ondergaan en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas. “As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle en hulle voorvaders gegee het. “Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel. “Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; luister tog uit die hemel, u woonplek, en vergeef en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken die mens se hart, sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees en u weg sal bewandel die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.
2 KRONIEKE 6:12-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het hy voor die altaar van die HERE gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel, en sy hande uitgestrek. Ja, Salomo het 'n verhoog van brons gemaak en dit in die middel van die buitehof gesit. Dit was vyf el breed, vyf el lank en drie el hoog. Hy het daarop gaan staan en daar voor die hele geloofsgemeenskap van Israel op sy knieë neergesak, sy hande na die hemel uitgestrek, en gesê: “HERE, God van Israel, daar is geen god soos U in die hemel of op die aarde nie; U wat die verbond en troue liefde in stand hou vir u diensknegte wat met hulle hele hart voor U leef; U wat ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, gehou het by wat U hom beloof het. U het dit met u mond gesê en met u hand volbring, soos dit vandag is. Daarom, HERE, God van Israel, ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, hou nou by wat U hom beloof het toe U gesê het, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek wat voor my aangesig op die troon van Israel sit nie, as jou seuns maar net ag slaan op hulle optrede deur binne my wet te leef soos jy voor My geleef het.’ Daarom, HERE, God van Israel, laat u belofte wat U gemaak het aan u dienskneg, my vader Dawid, tog waar word. “ Maar kan God werklik by mense op aarde woon? Kyk, die hemelruim en die hoogste hemele kan U nie omvat nie – hoeveel minder hierdie tempel wat ek gebou het? “U moet aandag gee aan die gebed van u dienskneg, aan sy smeekbede, HERE my God, deur te luister na die klaagroep, na die gebed wat u dienskneg telkens voor U bid – dat u oë dag en nag oop sal wees na hierdie tempel, na die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar sal vestig, sodat U sal luister na die gebed wat u dienskneg in die rigting van hierdie plek rig. Luister dan na die smeekbede van u dienskneg en van u volk Israel wat hulle bid in die rigting van hierdie plek. U self moet dit hoor uit die plek waar U woon, uit die hemel; U moet dit hoor, en U moet vergewe. “Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self uit die hemel hoor en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige te vergeld, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en deur die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien. “Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle terugkeer, u Naam prys en bid en voor U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor uit die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel, en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle en aan hulle voorouers gegee het. “ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het. “ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiekte uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane en kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en wanneer daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel, wat elkeen sy teistering en pyn ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor uit die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê, deur u paaie te volg solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het.
2 KRONIEKE 6:12-31 Die Boodskap (DB)
Salomo het voor die hele volk by die altaar van die Here gaan staan en sy hande uitgesteek. Hy het op ’n bronsverhoog gestaan wat hy in die binneruimte van die tempel gesit het. Die verhoog was vierkantig met sye van twee en ’n half meter lank. Dit was ’n meter en ’n half hoog. Hy het op die verhoog geklim en voor die hele gemeente van Israel neergekniel en sy hande na die hemel uitgesteek. Toe sê hy: “O Here, God van Israel! Daar is nie in die hemel of op die aarde nog ’n god soos U nie. U hou u beloftes en bewys liefde aan almal wat aan U gehoorsaam is en wat graag doen wat U vra. U het u belofte gehou wat U aan u dienaar Dawid, my pa, gemaak het. U het die belofte gemaak en nou het U dit uitgevoer. O Here, voer tog nou ook die ander beloftes uit wat U aan hom gemaak het. U het vir hom gesê: ‘As jou nakomelinge reg optree en doen wat Ek vra, soos jy gedoen het, sal Ek sorg dat daar altyd een van hulle oor Israel regeer.’ Laat dit tog nou waar word, o Here. “Sal God nou werklik op aarde tussen mense kom woon? Die ganse hemel is te klein vir U. Hoeveel minder kan hierdie tempel wat ek gebou het U huisves! Luister tog na my gebed en my versoek, o Here. Hoor my uitroep tot U! Pas tog die tempel wat U self as woonplek gekies het, dag en nag op. Dan sal U my gebede hoor wat ek na hierdie tempel toe rig.” “Mag U altyd die nederige en ernstige gebede hoor wat ek en my volk na hierdie plek toe rig. Mag U luister van waar U in die hemel woon en mag U ons vergewe as ons teen U sonde doen. “As iemand ’n ander te na kom en hy word deur ’n vloek verplig om hier by die altaar in die tempel ’n belofte voor U af te lê, luister tog uit die hemel daarna. Laat reg geskied. Laat die skuldige sy straf kry en die onskuldige vry uitgaan, soos wat reg is. “As ’n vyand u volk Israel verslaan omdat hulle sonde gedoen het, en as hulle hulle dan bekeer en dit erken en hier in die tempel tot U kom bid, luister tog uit die hemel. Vergewe hulle sonde en gee weer vir hulle die land wat U aan hulle voorouers gegee het. “As dit ophou reën as gevolg van hulle sonde en hulle kom bid in die tempel, as hulle U vra om hulle te vergewe nadat U hulle verneder het en hulle hou op met hulle sonde, luister dan tog uit die hemel. Vergewe u volk se sondes. Leer hulle wat reg is en gee weer reën oor die land wat U vir hulle gegee het. “As daar hongersnood in die land kom; of siektes, plae, sprinkane of ruspes bedreig u mense; of as die vyand hulle stede aanval; watter gevaar daar ook al dreig, en u volk bid hier oor hulle probleme tot U, luister dan tog uit die hemel waar U woon. Vergewe hulle. Gee aan elkeen wat hulle verdien, want U ken mense se diepste motiewe. Dan sal hulle leer wat reg is vir U en dit doen. So sal hulle dan lank lewe in die land wat U vir ons voorouers gegee het.
2 KRONIEKE 6:12-31 Bybel vir almal (ABA)
Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek. Salomo het 'n brons verhoog laat maak en hy het dit in die oop stuk grond gesit. Die verhoog was vyf el lank en vyf el breed en drie el hoog. Salomo het op die verhoog gaan staan en hy het voor die hele volksvergadering van Israel gekniel. Hy het sy hande uitgesteek na die hemel en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie 'n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê. U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het. En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’ En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat 'n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde. “Wanneer iemand sê 'n ander persoon het verkeerd gedoen teen hom, en hy wil hê die ander persoon moet voor U kom sê dat U hom moet straf as hy dit gedoen het, dan sal die ander persoon miskien voor die altaar in hierdie tempel kom staan en sê hy is onskuldig. Dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet oordeel tussen u dienaars. Die persoon wat skuldig is, moet die straf kry vir dit wat hy gedoen het en die persoon wat onskuldig is, moet vry wees omdat hy onskuldig is. “U volk Israel sal miskien 'n oorlog verloor teen vyande omdat u volk sonde gedoen het teen U. As u volk dan hulle lewe verander en hulle doen wat U wil hê en hulle prys u Naam en hulle bid tot U in hierdie tempel en hulle soebat vir U, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u volk Israel se sonde vergewe en U moet hulle laat terugkom na die land wat U vir hulle voorvaders gegee het. “U sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie omdat u volk sonde doen teen U. As hulle dan na hierdie plek kyk en bid, en hulle prys u Naam en hulle verander hulle lewe en hulle doen wat U wil hê en hulle vra dat U moet luister na hulle gebed, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u dienaars en u volk Israel se sonde vergewe. U moet iets doen om hulle te help, U moet reën gee op die land wat U vir u volk gegee het. So sal U vir hulle leer om reg te lewe. “Daar sal miskien hongersnood in die land wees, of almal sal begin siek word en sterf, of daar sal siektes kom in die koring op die land, of daar sal swerms sprinkane kom, of vyande van die volk sal kom en hulle sal die stede aanval van al die kante, of ander slegte dinge sal gebeur. Dan moet U asseblief luister wanneer iemand of u volk Israel bid en soebat, U moet luister wanneer elke persoon sy hande uitsteek na hierdie tempel en sê wat met hom gebeur het. Luister dan asseblief in u woonplek, die hemel, en vergewe sy sonde en help hom. Gee vir elkeen wat hy moet kry, want net U weet hoe 'n mens se hart regtig is. Dan sal hulle altyd gehoorsaam wees aan U terwyl hulle in die land woon wat U vir hulle voorvaders gegee het.
2 KRONIEKE 6:12-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het hy gaan staan voor die altaar van die HERE teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande uitgebrei; want Salomo het 'n koperverhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei en gesê: HERE, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart, wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is. Hou nou ook, HERE, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit 'n man voor my aangesig ontbreek wat sal sit op die troon van Israel nie, as jou seuns net op hulle weg ag gee, deur te wandel in my wet soos jy voor my aangesig gewandel het. Laat dan nou, HERE, God van Israel, u woord tog bewaarheid word wat U tot u kneg Dawid gespreek het. Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het! Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg voor u aangesig bid; sodat u oë oop mag wees dag en nag oor hierdie huis, oor die plek waar U van gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid. Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom 'n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer, wil U dan hoor uit die hemel en handel en aan u knegte reg verskaf deur die skuldige te vergelde en sy wandel op sy hoof te lê, en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid. En as u volk Israel verslaan word voor 'n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul bekeer en u Naam bely en bid en smeek voor u aangesig in hierdie huis, wil U dan hoor uit die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het. As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as 'n erfenis gegee het. As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of kaalvreters is, as sy vyande hom in sy land vol stede dit benoud maak, watter plaag of watter siekte ook al, enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei — wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van die mensekinders — sodat hulle U kan vrees om te wandel in u weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.
2 KRONIEKE 6:12-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het voor die altaar van die HERE gestaan voor die aangesig van die hele vergadering van Israel en sy hande uitgebrei. Want Salomo het 'n kopersteier gemaak, vyf el lank en vyf el breed en drie el hoog, en hy het dit in die middel van die voorhof opgestel; en hy het daarop gaan staan en op sy knieë voor die hele vergadering neergeval van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei, en gesê: HERE, God van Israel, daar is geen God soos U in die hemel en ook nie op die aarde nie; wat die verbond hou en barmhartigheid bewys aan u dienaars wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart. U wat by u kneg my vader Dawid gehou het wat u hom beloof het; en met jou mond gespreek en dit met jou hand vervul soos dit vandag is. Nou dan, HERE, God van Israel, hou by u kneg, my vader Dawid, wat U hom beloof het deur te sê: Daar sal vir U geen man in my oë ontbreek om op die troon van Israel te sit nie; nogtans sodat u kinders op hulle weg ag gee om in my wet te wandel, soos U voor my aangesig gewandel het. Nou dan, HERE, God van Israel, laat u woord wat U tot u dienaar Dawid gespreek het, bewaarheid word. Maar sal God werklik by die mense op die aarde woon? kyk, die hemel en die hemel van die hemele kan jou nie bevat nie; hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het! Neem dan ag op die gebed van u kneg en sy smeking, HERE my God, om te luister na die geroep en die gebed wat u dienaar voor U aangesig bid. Sodat jou oë dag en nag oop mag wees oor hierdie huis, oor die plek waarvan jy gesê het dat jy jou naam daar wil vestig; om te luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe bid. Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal doen; luister na u woonplek, uit die hemel; en as jy hoor, vergewe. As iemand teen sy naaste sondig en hom 'n eed besweer word om hom te laat sweer, en die eed kom voor u altaar in hierdie huis; Hoor dan uit die hemel en doen en oordeel u dienaars deur die goddelose te vergeld, deur sy weg op sy eie hoof te vergeld; en deur die regverdige te regverdig, deur hom te gee volgens sy geregtigheid. En as jou volk Israel voor die vyand vererger word, omdat hulle teen jou gesondig het; en sal terugkom en u Naam bely en bid en smeek voor u aangesig in hierdie huis; Hoor dan uit die hemel en vergewe die sonde van u volk Israel, en bring hulle terug na die land wat U aan hulle en aan hulle vaders gegee het. Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het; maar as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en hulle bekeer van hulle sonde as U hulle verdruk; Hoor dan uit die hemel en vergewe die sonde van u knegte en van u volk Israel, wanneer U hulle die goeie weg geleer het waarin hulle moet wandel; en laat reën oor jou land wat jy aan jou volk as erfenis gegee het. As daar gebrek in die land is, as daar pes is, as daar brandstortings of muf, sprinkane of ruspes is; as hulle vyande hulle beleër in die stede van hulle land; enige seer of watter siekte daar ook al mag wees: Watter gebed of watter smeking sal dan ook al gedoen word van iemand of van jou hele volk Israel, wanneer elkeen sy eie pyn en sy eie smart sal ken en sy hande uitbrei in hierdie huis; Hoor dan uit die hemel jou woonplek, en vergewe en vergeld elkeen volgens al sy weë wie se hart jy ken; (want U ken net die harte van die mensekinders:) sodat hulle U kan vrees, om in u weë te wandel solank hulle in die land woon wat U aan ons vaders gegee het.
2 KRONIEKE 6:12-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het Salomo met sy hande uitgestrek gaan staan voor die altaar van die HERE en voor die hele gemeente van Israel. Hy het ’n bronsplatform van twee en ’n half meter lank, twee en ’n half meter breed en een en ’n half meter hoog gemaak. Dit het in die middel van die voorhof van die tempel gestaan. Hy het op die platform voor die hele gemeente gestaan, en gekniel met sy hande hemelwaarts uitgestrek. Toe het hy gebid: “HERE, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul. En nou, HERE, God van Israel, bevestig tog u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy gedoen het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’ HERE God van Israel, laat tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, vervul word. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde tussen mense sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het! Luister tog na my gebed en smeking, HERE my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar tot U rig. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld moet aflê, hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry soos hy verdien. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek, luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk Israel en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle en hulle voorouers gegee het. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het, hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het. “Indien daar ’n hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, sprinkaanplae en voetgangers, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al mag tref, luister dan. Luister na die gebed en die smeking van enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen na verdienste, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan. Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het.