Die volk van die land het Jehoagas, seun van Josia, geneem en hom in Jerusalem koning gemaak in die plek van sy vader. Jehoagas was drie-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank as koning geheers in Jerusalem. Die koning van Egipte het hom in Jerusalem afgesit en die land 'n boete opgelê van honderd kikkar silwer en een kikkar goud. Die koning van Egipte het toe Eljakim, sy broer, koning gemaak oor Juda en Jerusalem. Hy het sy naam verander na Jojakim. Nego het sy broer Jehoagas weggevat en hom na Egipte geneem.
Jojakim was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE sy God. Teen hom het Nebukadnesar, die koning van Babilonië, opgetrek en hom met bronsboeie geboei om hom na Babel te neem. Van die toebehore in die huis van die HERE is deur Nebukadnesar na Babel geneem. Hy het dit in sy paleis in Babel neergesit. Die verdere geskiedenis van Jojakim, sy afstootlike dinge wat hy gedoen het, en wat teen hom gevind is, kyk, dit is opgeteken in die boekrol van die konings van Israel en Juda. Sy seun Jojagin het in sy plek koning geword.
Jojagin was agttien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande en tien dae lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Teen die jaarwending het koning Nebukadnesar mense gestuur, en hy het hom na Babel laat neem, saam met kosbare voorwerpe uit die huis van die HERE. Hy het toe sy broer Sedekia koning gemaak oor Juda en Jerusalem.
Sedekia was een-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE sy God. Hy het hom nie verootmoedig voor Jeremia, die profeet, wat die mondstuk van die HERE was nie. Selfs teen koning Nebukadnesar, wat hom by God 'n eed laat aflê het, het hy in opstand gekom. Hy was hardnekkig en het sy hart verhard, en nie na die HERE, die God van Israel, teruggekeer nie. Ook al die leiers van die priesters en die volk het, in navolging van die afstootlike gebruike van die nasies, al hoe meer ontrou opgetree. Hulle het die huis van die HERE wat Hy in Jerusalem geheilig het, verontreinig.
Die HERE, die God van hulle voorouers, het telkens weer aan hulle boodskappe gestuur by monde van sy boodskappers, want Hy het omgegee vir sy volk en sy woonplek. Hulle het egter telkens die gek geskeer met die boodskappers van God en sy woorde versmaai, terwyl hulle met sy profete die spot gedryf het, totdat die HERE se woede teen sy volk opgelaai het, totdat geen herstel meer moontlik was nie.
God het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek. Hy het hulle jong manne binne-in hulle heiligdom met die swaard doodgemaak. Hy het geen jong man of maagd, oumens of verswakte gespaar nie. Almal is in sy hand gegee. Al die toebehore in die huis van God, groot en klein, die skatte van die huis van die HERE en van die koning en sy •hoë amptenare, alles het hy na Babel geneem. Hulle het die huis van God afgebrand, die stadsmure van Jerusalem afgebreek, al die stad se vestings verbrand en so alle kosbare voorwerpe daarin vernietig. Hy het dié wat oorgebly het ná die gevegte, in ballingskap weggevoer na Babilonië, waar hulle slawe was vir hom en sy nageslag, totdat die koninkryk van Persië aan die bewind gekom het. Dit het gebeur, sodat die woord van die HERE, aangekondig by monde van Jeremia, vervul is. Totdat die land sy verlore Sabbatsjare ingehaal het, het dit gerus, die hele tyd wat dit onbewerk gelê het, om die profesie van sewentig jaar te vervul.