2 Kronieke 33:1-20

2 Kronieke 33:1-20 AFR20

Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. In ooreenstemming met die afstootlike gebruike van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, het hy die offerhoogtes wat sy vader, Hiskia, afgebreek het, weer opgebou. Hy het altare vir die Baäls opgerig, asjeras gemaak, voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en hulle gedien. Hy het selfs altare in die huis van die HERE gebou, die plek waarvan die HERE gesê het: “In Jerusalem sal my Naam vir altyd wees.” In die twee voorhowe van die huis van die HERE het hy altare gebou vir al die hemelliggame. Hy is die een wat sy seuns in die vuur geoffer het in die Ben-Hinnomdal, voortekens gelees het, wiggelary en towery beoefen het en dodebesweerders en waarsêers aangestel het. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, om Hom uit te tart. Hy het ook 'n gesnede beeld wat hy gemaak het, in die huis van God neergesit, die huis waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem, wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. Ek sal nie weer Israel se voet verwyder van die grond wat Ek aan julle voorouers toegewys het nie, maar slegs as hulle alles wat Ek hulle beveel het by monde van Moses – die hele wet, die vaste voorskrifte en bepalings – nougeset uitvoer.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat afdwaal om selfs meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die Israeliete uitgedelg het. Die HERE het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het nie geluister nie. Die HERE het toe die leëraanvoerders van die koning van Assirië teen hulle laat optrek. Hulle het Manasse gevange geneem met hake in sy neus, hom met bronsboeie geboei, en hom na •Babel geneem. Maar toe hy in die noute was, het hy die HERE sy God se guns gesoek, hom ernstig verootmoedig voor die God van sy voorouers en tot Hom gebid. God is geraak deur sy pleitrede en het sy smeekbede verhoor. Hy het hom na Jerusalem, na sy koningskap, laat terugkeer. Manasse het toe erken dat die HERE God is. Daarna het hy die buitenste muur van die Stad van Dawid gebou, aan die westekant van Gihon in die dal, tot by die Vispoort. Hy het dit baie hoog gebou en die Ofel ingesluit. Hy het leëraanvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel. Hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die HERE verwyder, asook al die altare wat hy op die berg van die huis van die HERE en in Jerusalem gebou het. Hy het dit buite die stad weggegooi. Hy het die altaar van die HERE herstel en daar •maaltydoffers en •dankoffers geslag. Hy het Juda aangesê om die HERE, die God van Israel, te dien. Die volk het egter nog steeds offers geslag op die offerhoogtes, maar net vir die HERE hulle God. Die verdere geskiedenis van Manasse, sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat hom in die Naam van die HERE, die God van Israel, aangespreek het, kyk, dit staan in die Geskiedenis van die Konings van Israel. Sy gebed, die verhoring van sy pleitrede, al sy sonde en ontrou, die plekke waar hy offerhoogtes gebou het en waar hy die asjeras en gesnede beelde opgerig het voor sy verootmoediging, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van Gosai. Manasse het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom by sy paleis begrawe. Sy seun Amon het in sy plek koning geword.