Ná hierdie maatreëls en bewyse van trou het Sanherib, die koning van Assirië, gekom, Juda binnegeval en die versterkte stede onder beleg geplaas, met die gedagte om hulle vir homself te verower. Toe Hiskia sien dat Sanherib kom en dat sy doel oorlog teen Jerusalem was, het hy saam met sy •hoë amptenare en sy krygshelde besluit om die waterfonteine wat buite die stad was, te bedek. Hulle het hom gehelp. Baie mense het byeengekom en al die fonteine bedek, asook die stroom wat onder die grond vloei. Hulle het gesê: “Waarom moet die konings van Assirië kom en baie water vind?” Hy het hom ingespan en die hele muur waarin 'n bres was, herbou en torings daarop aangebring, met 'n ekstra muur aan die buitekant. Hy het die terrasse in die Stad van Dawid herstel, en baie wapens gemaak, ook kleinskilde. Hy het militêre bevelvoerders oor die manskappe aangestel en hulle by hom op die plein van die stadspoort byeengebring. Hy het hulle bemoedig en gesê: “ Wees dapper en sterk. Moenie bang wees nie, en moet julle nie laat afskrik deur die koning van Assirië en die hele menigte saam met hom nie, want by ons is meer as by hom: By hom is 'n menslike mag, maar by ons is die HERE ons God om ons te help en ons oorlog te voer.” Die manskappe is bemoedig deur die woorde van Hiskia, koning van Juda.
Hierna het Sanherib, koning van Assirië, terwyl hy self by Lagis was met sy volle strydmag by hom, sy amptenare na Jerusalem gestuur, na Hiskia, koning van Juda, en na die hele Juda wat in Jerusalem was, met die boodskap: “So sê Sanherib, die koning van Assirië, ‘Waarop vertrou julle, dat julle 'n beleëring afwag in Jerusalem? Mislei Hiskia julle nie om julle maar net aan die dood deur honger en dors oor te gee as hy sê “Die HERE ons God sal ons red uit die greep van die koning van Assirië” nie? Is dit nie hy, Hiskia, wat God se offerhoogtes en altare verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het “By net een altaar sal julle in aanbidding buig en daarop offers verbrand” nie? Weet julle nie wat ek, ek en my voorvaders aan al die volke van lande gedoen het nie? Was die gode van die nasies van die lande enigsins in staat om hulle lande uit my hand te red? Wie onder al die gode van daardie nasies, wat my voorvaders aan volledige vernietiging oorgegee het, was in staat om sy volk uit my hand te red? Ja, sou julle God dan in staat wees om julle uit my hand te red? Moet dan nou nie dat Hiskia julle bedrieg en julle op hierdie manier mislei nie. Moet hom nie glo nie, want geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my hand, of uit die hand van my voorvaders nie. Hoeveel minder sal julle God julle uit my hand kan red?’ ”
Sanherib se amptenare het nog meer te sê gehad teen die HERE God, en teen sy dienskneg Hiskia. Sanherib het selfs briewe geskryf om die HERE, die God van Israel, uit te tart deur oor Hom te sê: “Net soos die gode van die nasies van die lande hulle mense nie uit my hand kon red nie, net so sal die God van Hiskia nie sy volk uit my hand red nie.” Hulle het dit in Judees uitgeskreeu vir die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om hulle bang te maak en hulle te verskrik, sodat hulle die stad kon inneem. Hulle het gepraat oor die God van Jerusalem soos oor die gode van die volke van die aarde, wat maar net 'n maaksel van mensehande is.
Koning Hiskia en die profeet Jesaja, seun van Amos, het hieroor gebid en na die hemel om hulp geroep. Toe stuur die HERE 'n •engel, en dié het elke dapper kryger, leier en bevelvoerder in die kamp van die koning van Assirië uitgewis. Hy het beskaamd na sy land teruggekeer. Toe hy in die huis van sy god kom, het sy eie seuns hom daar met die swaard neergevel.
Die HERE het Hiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, koning van Assirië, ja, uit almal se hand. Hy het vir hulle aan alle kante rus gegee. Baie mense het voortdurend vir die HERE offers na Jerusalem gebring, ook kosbaarhede vir Hiskia, koning van Juda. Hy het ná hierdie gebeure hoë aansien geniet in die oë van al die nasies.