2 KRONIEKE 32:1-23

2 KRONIEKE 32:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Nadat koning Hiskia dit alles gedoen het en gewys het dat hy wil doen wat die Here wil hê, het koning Sanherib van Assirië gekom. Sanherib het in die land Juda gekom en hy het sy leër se tente laat opslaan rondom al die stede, want hy wou die stede se mure afbreek om in te kom. Toe Hiskia hoor dat Sanherib gekom het en dat hy oorlog wil maak teen Jerusalem, het Hiskia planne gemaak saam met sy amptenare en sy ander offisiere. Hy wou die water van die fonteine buite die stad toemaak, en sy mense het hom gehelp. 'n Groot klomp mense het bymekaargekom en hulle het al die fonteine toegemaak en ook die waterstroom wat deur die vallei in die land vloei. Hulle het gedink: Wanneer die konings van Assirië hier kom, moet hulle nie water hier kry nie. Hiskia het vinnig gewerk en hy het die hele muur wat koning Joas van Israel laat afbreek het, weer gebou en hy het torings bo-op die muur gebou en hy het nog 'n muur buite daardie muur gebou. Hy het ook die terras van die Dawidstad sterker laat maak en hy het baie spiese en skilde laat maak. Hy het offisiere gekies en aangestel om sy manne te lei en hy het hulle laat bymekaarkom by hom op die oop stuk grond by die poort van die stad. Hy het met hulle gepraat en gesê: “Julle moet sterk en dapper wees. Julle moenie bang wees en skrik vir die koning van Assirië en vir die klomp soldate by hom nie, want daar is meer by ons as by hom. Hy het net mense om hom te help, maar ons God die Here is by ons. Ons God sal ons help en Hy sal ons oorloë vir ons veg.” Die manne het weer sterk en dapper gevoel nadat koning Hiskia van Juda met hulle gepraat het. Later het koning Sanherib van Assirië boodskappers gestuur na koning Hiskia en na al die mense van Juda wat in Jerusalem was. Sanherib en sy hele leër was by die stad Lakis. Die boodskappers het kom sê: “Koning Sanherib van Assirië sê: Wie dink julle sal vir julle help? Julle bly sit in Jerusalem agter die mure, maar Hiskia bedrieg julle. Hy sê: ‘Ons God die Here sal ons red van die koning van Assirië,’ maar dit is nie waar nie. Hiskia wil julle laat sterf van honger en dors. Dit was hierdie Hiskia wat die offer-plekke en die altare van die Here laat wegvat het en hy het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê: ‘Julle mag die Here net by hierdie een altaar dien en julle moet op hierdie altaar offer.’ Julle weet wat ek en die konings wat vóór my regeer het, gedoen het met die mense van ander lande. Die gode van daardie lande kon nie die mense red van my nie. Die konings vóór my het volke heeltemal verwoes, en hulle gode kon hulle nie red nie. Julle God kan julle ook nie red van my nie. Daarom, julle moenie dat Hiskia julle so bedrieg nie. Julle moenie vir hom glo nie, want daar is nie een god van enige volk en land wat sy mense kon red van my en van die konings vóór my nie. Julle God sal julle ook nie kan red van my nie.” Die boodskappers van Sanherib het nog meer dinge gesê teen die Here God en teen sy dienaar Hiskia. Sanherib het ook briewe geskryf en hy het die Here, die God van Israel, in die briewe beledig, hy het teen die Here gepraat. Hy het geskryf: “Die gode van ander volke kon nie hulle mense red van my nie, en so sal die God van Hiskia ook nie sy mense kan red van my nie.” Die boodskappers van Sanherib het hard geskree vir die mense van Jerusalem wat op die mure was. Hulle het in die Judeërs se taal geskree. Die boodskappers wou die mense bangmaak en laat skrik sodat die Assiriërs die stad kan oorwin. Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat soos hulle gepraat het oor die gode van die ander volke op die aarde. Maar mense het daardie gode gemaak. Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het gebid. Hulle het na die hemel gekyk en gevra dat die Here hulle moet help. En die Here het toe 'n engel gestuur wat elke soldaat en offisier en leier in die kamp van die koning van Assirië laat sterf het. Sanherib kon nie doen wat hy wou doen nie. Hy het teruggegaan na sy land, en toe hy 'n eendag in die tempel van sy god ingaan, het een van sy eie seuns hom doodgesteek met 'n swaard. So het die Here vir Hiskia en die mense van Jerusalem gered van koning Sanherib van Assirië en van almal by hom. Die Here het sy mense beskerm teen die vyande rondom hulle. Baie mense het vir die Here presente gebring na Jerusalem, en hulle het vir koning Hiskia kosbare dinge gebring. Al die volke het van toe af geweet dat hy 'n belangrike koning is.

2 KRONIEKE 32:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

NÁ hierdie dinge en hierdie bewys van getrouheid het Sánherib, die koning van Assirië, gekom en Juda binnegedring en die vaste stede beleër en bedoel om hulle vir hom te verower. En toe Jehiskía sien dat Sánherib kom met die doel om teen Jerusalem te veg, het hy raad gehou met sy owerstes en sy helde, om die fontein-oë buitekant die stad toe te stop; en hulle het hom gehelp: baie mense het byeengekom en al die oë toegestop, ook die spruit wat dwarsdeur die land stroom, met die gedagte: Waarom moet die konings van Assirië kom en baie water vind? En hy het moed geskep en die hele muur opgetrek wat afgebreek was, en daar torings op gebou, ook die ander muur buitekant het hy gebou; en hy het Millo in die stad van Dawid versterk en werpspiese en skilde in menigte laat maak. En hy het krygsowerstes oor die manskappe aangestel en hulle by hom op die plein van die stadspoort byeen laat kom en na hulle hart gespreek en gesê: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vanweë die koning van Assirië of vanweë die hele menigte wat saam met hom is nie; want by ons is meer as by hom. By hom is 'n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer! En die manskappe het gesteun op die woorde van Jehiskía, die koning van Juda. Hierna het Sánherib, die koning van Assirië — hy self en sy hele ryksmag was saam met hom by Lagis — sy dienaars na Jerusalem gestuur, na Jehiskía, die koning van Juda, en na die hele Juda wat in Jerusalem was, om te sê: So sê Sánherib, die koning van Assirië: Waarop vertrou julle, dat julle daar ingesluit bly sit in Jerusalem? Verlei Jehiskía julle nie, om julle van honger en dors te laat sterwe deur te sê: Die HERE onse God sal ons red uit die hand van die koning van Assirië? Het dieselfde Jehiskía nie sy hoogtes en sy altare verwyder en aan Juda en Jerusalem dít gesê nie: Voor één altaar moet julle jul neerbuig en daarop offerrook laat opgaan? Weet julle nie wat ék en my vaders aan al die volke van die lande gedoen het nie? Het die gode van die nasies van die lande ooit hulle land uit my hand kon red? Wie was daar onder al die gode van daardie nasies wat my vaders met die banvloek getref het, wat sy volk uit my hand kon red — dat julle God julle uit my hand sou kan red? Laat Jehiskía julle dan nou nie bedrieg en julle nie op so 'n manier verlei nie; en glo hom nie, want geen enkele god van enige nasie of koninkryk het sy volk uit my hand of uit die hand van my vaders kon verlos nie; hoeveel minder sal julle God julle uit my hand kan verlos? Sy dienaars het nog meer teen die HERE God gespreek en teen sy kneg Jehiskía. Hy het ook 'n brief geskrywe om die HERE, die God van Israel, te smaad en teen Hom te spreek deur te sê: Soos die gode van die nasies van die lande wat hulle volk uit my hand nie gered het nie, so sal die God van Jehiskía sy volk uit my hand nie red nie. En hulle het hardop in die Joodse taal geroep na die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om dié bevrees en verskrik te maak, sodat hulle die stad kon inneem. En hulle het oor die God van Jerusalem gespreek soos oor die gode van die volke van die aarde — 'n maaksel van mensehande. Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het, stuur die HERE 'n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met 'n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan. En die HERE het Jehiskía en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sánherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle rondom tot rus gebring. En baie het geskenke aan die HERE na Jerusalem gebring en kosbare geskenke aan Jehiskía, die koning van Juda, sodat hy daarna in die oë van al die nasies hoog gestaan het.

2 KRONIEKE 32:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Na dié gebeure, waarin Hiskia sy trou betoon het, het koning Sanherib van Assirië op die toneel gekom. Hy het Juda ingeval en die vestingstede beleër met die bedoeling om deur hulle verdediging te breek. Toe Hiskia hoor van die koms van Sanherib en dat hy op oorlog teen Jerusalem uit is, het hy in oorleg met sy amptenare en offisiere besluit om die water van die fonteine wat buite die stad was, af te sny. Hulle het met hom saamgestem, en 'n groot klomp mense het bymekaargekom en al die fonteine en ook die watervoor wat deur die omgewing geloop het, toegegooi. Hulle het gesê: “Hoekom moet die konings van Assirië baie water kry as hulle hier kom?” Hiskia het al die mure wat afgebreek was, herbou, die forte hoër gebou, nog 'n muur buite-om opgetrek en die terras by die Dawidstad laat versterk. Hy het ook 'n groot klomp spiese en skilde laat maak. Nadat hy bevelhebbers oor die volksleër aangewys het, het hy hulle by hom laat bymekaarkom op die plein by die stadspoort en hulle moed ingepraat: “Wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie, moenie skrik vir die koning van Assirië en die menigte by hom nie. By ons is meer as by hom. By hom is menslike mag, by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg.” Die manskappe was bemoedig deur dié woorde van koning Hiskia van Juda. 'n Tyd daarna het koning Sanherib van Assirië, wat toe met sy hele krygsmag by Lakis was, van sy ondergeskiktes na Jerusalem toe gestuur met 'n boodskap vir koning Hiskia van Juda, en vir al die mense van Juda in Jerusalem. Die boodskap het gelui: “So sê koning Sanherib van Assirië: Op wie steun julle dat julle in Jerusalem in die vesting bly? Hiskia sê: ‘Ons God sal ons red van die koning van Assirië,’ maar mislei hy julle nie, sodat julle van honger en dors sal sterwe? Dit is mos dié Hiskia wat die hoogtes en die altare van julle God verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet by net een altaar aanbid en offers bring.’ Julle weet mos wat ek en my voorvaders aan al die volke in ander lande gedoen het. Kon die gode van die nasies in daardie lande hulle lande red uit my mag? Wie van al die gode van daardie nasies wat al deur my voorvaders uitgeroei is, kon sy volk red uit my mag? Kan júlle God julle dan red uit my mag? Moet dan nou nie dat Hiskia julle so bedrieg en julle mislei nie. Moet hom nie glo nie. Geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my mag of uit dié van my voorvaders nie. Júlle God sal julle ook nie red uit my mag nie.” Die boodskappers het nóg dinge gesê teen God die Here en teen sy dienaar Hiskia. Sanherib het ook briewe geskryf waarin hy die Here die God van Israel gehoon het en dinge teen Hom gesê het. Hy het geskryf: “Soos die gode van die nasies van ander lande hulle volke nie kon red uit my mag nie, so sal die God van Hiskia sy volk nie red uit my mag nie.” Om die mense van Jerusalem wat op die mure was, bang te maak en hulle die skrik op die lyf te ja sodat die Assiriërs die stad kon inneem, het die boodskappers hard in die Judese taal geroep en oor die God van Jerusalem gepraat soos oor die gode van die volke van ander lande, gode wat die werk van mensehande is. Koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos het daarom gebid en na die hemel geroep. Toe stuur die Here 'n engel, en dié het elke soldaat en leier en offisier in die kamp van die koning van Assirië doodgemaak. Hy moes beskaamd die aftog blaas terug na sy land toe. Toe hy daar in die tempel van sy god ingaan, het van sy eie seuns hom vermoor. So het die Here vir Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered uit die mag van koning Sanherib van Assirië en uit die mag van almal by hom. Die Here het sy volk aan alle kante beskerm. Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en kosbare geskenke vir koning Hiskia van Juda, wie se aansien onder die nasies hoog gestyg het ná dié gebeure.

2 KRONIEKE 32:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ná hierdie maatreëls en bewyse van trou het Sanherib, die koning van Assirië, gekom, Juda binnegeval en die versterkte stede onder beleg geplaas, met die gedagte om hulle vir homself te verower. Toe Hiskia sien dat Sanherib kom en dat sy doel oorlog teen Jerusalem was, het hy saam met sy •hoë amptenare en sy krygshelde besluit om die waterfonteine wat buite die stad was, te bedek. Hulle het hom gehelp. Baie mense het byeengekom en al die fonteine bedek, asook die stroom wat onder die grond vloei. Hulle het gesê: “Waarom moet die konings van Assirië kom en baie water vind?” Hy het hom ingespan en die hele muur waarin 'n bres was, herbou en torings daarop aangebring, met 'n ekstra muur aan die buitekant. Hy het die terrasse in die Stad van Dawid herstel, en baie wapens gemaak, ook kleinskilde. Hy het militêre bevelvoerders oor die manskappe aangestel en hulle by hom op die plein van die stadspoort byeengebring. Hy het hulle bemoedig en gesê: “ Wees dapper en sterk. Moenie bang wees nie, en moet julle nie laat afskrik deur die koning van Assirië en die hele menigte saam met hom nie, want by ons is meer as by hom: By hom is 'n menslike mag, maar by ons is die HERE ons God om ons te help en ons oorlog te voer.” Die manskappe is bemoedig deur die woorde van Hiskia, koning van Juda. Hierna het Sanherib, koning van Assirië, terwyl hy self by Lagis was met sy volle strydmag by hom, sy amptenare na Jerusalem gestuur, na Hiskia, koning van Juda, en na die hele Juda wat in Jerusalem was, met die boodskap: “So sê Sanherib, die koning van Assirië, ‘Waarop vertrou julle, dat julle 'n beleëring afwag in Jerusalem? Mislei Hiskia julle nie om julle maar net aan die dood deur honger en dors oor te gee as hy sê “Die HERE ons God sal ons red uit die greep van die koning van Assirië” nie? Is dit nie hy, Hiskia, wat God se offerhoogtes en altare verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het “By net een altaar sal julle in aanbidding buig en daarop offers verbrand” nie? Weet julle nie wat ek, ek en my voorvaders aan al die volke van lande gedoen het nie? Was die gode van die nasies van die lande enigsins in staat om hulle lande uit my hand te red? Wie onder al die gode van daardie nasies, wat my voorvaders aan volledige vernietiging oorgegee het, was in staat om sy volk uit my hand te red? Ja, sou julle God dan in staat wees om julle uit my hand te red? Moet dan nou nie dat Hiskia julle bedrieg en julle op hierdie manier mislei nie. Moet hom nie glo nie, want geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my hand, of uit die hand van my voorvaders nie. Hoeveel minder sal julle God julle uit my hand kan red?’ ” Sanherib se amptenare het nog meer te sê gehad teen die HERE God, en teen sy dienskneg Hiskia. Sanherib het selfs briewe geskryf om die HERE, die God van Israel, uit te tart deur oor Hom te sê: “Net soos die gode van die nasies van die lande hulle mense nie uit my hand kon red nie, net so sal die God van Hiskia nie sy volk uit my hand red nie.” Hulle het dit in Judees uitgeskreeu vir die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om hulle bang te maak en hulle te verskrik, sodat hulle die stad kon inneem. Hulle het gepraat oor die God van Jerusalem soos oor die gode van die volke van die aarde, wat maar net 'n maaksel van mensehande is. Koning Hiskia en die profeet Jesaja, seun van Amos, het hieroor gebid en na die hemel om hulp geroep. Toe stuur die HERE 'n •engel, en dié het elke dapper kryger, leier en bevelvoerder in die kamp van die koning van Assirië uitgewis. Hy het beskaamd na sy land teruggekeer. Toe hy in die huis van sy god kom, het sy eie seuns hom daar met die swaard neergevel. Die HERE het Hiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, koning van Assirië, ja, uit almal se hand. Hy het vir hulle aan alle kante rus gegee. Baie mense het voortdurend vir die HERE offers na Jerusalem gebring, ook kosbaarhede vir Hiskia, koning van Juda. Hy het ná hierdie gebeure hoë aansien geniet in die oë van al die nasies.

2 KRONIEKE 32:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ná hierdie dinge en die oprigting daarvan, het Sanherib, die koning van Assirië, gekom en Juda ingetrek en laer opgeslaan teen die omheinde stede en gedink om dit vir hom te wen. En toe Hiskia sien dat Sanherib gekom het en dat hy van plan was om teen Jerusalem te veg, Hy het raad gehou met sy vorste en sy helde om die waters van die fonteine wat buite die stad was, te stop, en hulle het hom gehelp. En daar het baie mense bymekaargekom wat al die fonteine en die spruit wat deur die land loop, toegemaak en gesê het: Waarom sou die konings van Assirië kom en baie water vind? En hy het homself versterk en die hele muur opgebou wat gebreek was, en dit opgerig tot by die torings en 'n ander muur daarbuite, en Millo in die stad van Dawid herstel en pyle en skilde in menigte gemaak. En hy het krygsmanne oor die volk aangestel en hulle by hom bymekaar laat kom op die straat van die stadspoort en met hulle gemaklik gespreek en gesê: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vir die koning van Assirië of vir die hele menigte wat by hom is nie, want daar is meer by ons as by hom. By hom is 'n arm van vlees; maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer. En die volk het gerus op die woorde van Hiskía, die koning van Juda. Hierna het Sanherib, die koning van Assirië, sy dienaars na Jerusalem gestuur (maar hy het self teen Lagis en al sy mag saam met hom beleër) na Hiskia, die koning van Juda, en die hele Juda wat in Jerusalem was, en gesê: So sê Sanherib, die koning van Assirië: Waarop vertrou julle dat julle in die beleëring in Jerusalem bly? Moet Hiskia julle nie oorreed om julleself oor te gee om van hongersnood en dors te sterwe nie, deur te sê: Die HERE onse God sal ons verlos uit die hand van die koning van Assirië? Het dieselfde Hiskía nie sy hoogtes en sy altare weggeneem en Juda en Jerusalem bevel gegee en gesê: Julle moet voor een altaar aanbid en daarop reukwerk laat opgaan nie? Weet julle nie wat ek en my vaders aan al die mense van ander lande gedoen het nie? was die gode van die nasies van daardie lande op enige manier in staat om hulle lande uit my hand te red? Wie was daar onder al die gode van daardie nasies wat my vaders met die banvloek getref het, wat sy volk uit my hand kon red, dat julle God julle uit my hand sou kon red? Laat Hiskia julle dan nou nie bedrieg en julle nie so oortuig nie, en glo hom nog nie; want geen god van enige nasie of koninkryk was in staat om sy volk uit my hand en uit die hand van my vaders te red nie en minder sal jou God jou uit my hand red? En sy dienaars het nog meer gespreek teen die HERE God en teen sy kneg Hiskía. Hy het ook briewe geskrywe om die HERE, die God van Israel, te laster en teen hom te spreek en te sê: Soos die gode van die nasies van ander lande hulle volk nie uit my hand gered het nie, so sal die God van Hiskía sy volk nie red nie. Toe het hulle met 'n groot stem geroep in die toespraak van die Jode tot die inwoners van Jerusalem wat op die muur was, om hulle bang te maak en hulle te verskrik; dat hulle die stad kan inneem. En hulle het gespreek teen die God van Jerusalem, soos teen die gode van die mense van die aarde, wat die werk van die hande van mense was. En daarom het koning Hiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, gebid en ten hemele geroep. En die HERE het 'n engel gestuur wat al die dapper helde en die leiers en owerstes in die laer van die koning van Assirië uitroei. Daarom het hy met skaamte teruggekeer na sy eie land. En toe hy in die huis van sy god ingegaan het, het die wat uit sy eie ingewande voortgekom het, hom daar met die swaard gedood. So het die HERE Hiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle van alle kante gelei. En baie het geskenke aan die HERE na Jerusalem gebring en geskenke aan Hiskía, die koning van Juda, sodat hy van nou af groot gemaak is voor die oë van al die nasies.

2 KRONIEKE 32:1-23 Die Boodskap (DB)

Na hierdie optrede van Hiskia waarin hy sy lojaliteit aan die Here bewys het, het koning Sanherib van Assirië Juda aangeval. Hy het die versterkte stede met sy leër omsingel. Toe Hiskia besef dat Sanherib op pad was om Jerusalem aan te val, het hy ’n vergadering met sy amptenare en militêre raadgewers gehou. Hy wou al die waterfonteine buite die stad afseël en hulle het die gedagte ondersteun. ’n Groot klomp werkers is toe opgeroep om die fonteine te verseël en die stroom water te blokkeer wat deur die land vloei. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriese konings nou hier kom en baie water hê?” Hiskia het hard gewerk om Jerusalem te beveilig deur alle swak plekke in die muur te herbou en dit met torings te versterk en deur ’n tweede muur rondom die stad te bou. Hy het ook baie wapens en skilde laat maak. Daarna het hy bevelvoerders oor die soldate aangestel en hulle op die plein by die stadspoort laat vergader. Hy het hulle toegespreek: “Wees sterk en dapper! Moenie bang wees vir die Assiriese koning en sy groot leër nie. By ons is daar ’n sterker mag as by hom. Hy het net mense in sy leër, maar ons het die Here ons God aan ons kant. Hy help ons en veg saam met ons!” Die soldate het moed geskep uit koning Hiskia se woorde. Koning Sanherib van Assirië was besig om Lagis met al sy magte te beleër. Van daar af het hy boodskappers na Jerusalem toe gestuur om met koning Hiskia en al die Judeërs in Jerusalem te praat. Hulle boodskap was: “Luister wat sê koning Sanherib van Assirië: Waarom dink julle dat julle my aanval op Jerusalem sal kan oorleef? Hiskia sê mos: ‘Die Here ons God sal ons beskerm teen die Assiriese koning!’ Hy mislei julle. Dit sal maak dat julle nog van honger en dors doodgaan. Is dit nie dieselfde Hiskia wat die Here se heilige plekke en altare laat vernietig het nie? Dis mos hy wat vir die mense van Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle mag die Here net by een altaar vereer en net op die een plek wierook brand.’ Julle moet tog weet wat ek en my voorgangers met al die volke in die wêreld gedoen het! Was enigeen van daardie volke se gode sterk genoeg om hulle uit my kloue te red? Nie een van die volke wat my voorgangers uitgeroei het, se gode was sterk genoeg om hulle te red nie. Hoe sal júlle God dit tog kan regkry? Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Ek herhaal, geen god kon tot dusver enige volk teen my of my voorgangers beskerm nie. Nog minder sal julle God julle teen my kan beskerm!” Die boodskappers het nog baie beledigings teen die Here God en teen sy dienaar Hiskia uitgespreek. Die koning het ook briewe geskryf waarin hy die Here, die God van Israel, beledig het. Hy het geskryf: “Net soos die ander volke se gode hulle nie uit my mag kon red nie, sal die God van Hiskia dit ook nie regkry nie.” Die Assiriese boodskappers het hard in Hebreeus gepraat sodat almal hulle kon verstaan. Hulle doel was om die soldate op die mure te verwar en bang te maak sodat hulle Jerusalem kon inneem. Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy maar net soos een van die handgemaakte gode van die ander volke was. Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja, Amos se seun, ernstig gebid. Die Here het ’n engel gestuur wat die hele Assiriese leër met al sy bevelvoerders en offisiere doodgemaak het. Sanherib moes vernederd na sy land toe teruggaan. Toe hy daar die tempel van sy god besoek, het van sy eie kinders hom doodgemaak. So het die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem van die Assiriese koning Sanherib en van al hulle ander vyande verlos. Daar was toe vrede met almal rondom hulle. Baie mense het geskenke vir die Here Jerusalem toe gebring. Daar was ook baie wat duur geskenke vir koning Hiskia gebring het. Na alles wat gebeur het, het Hiskia ’n goeie naam gehad onder die nasies.

2 KRONIEKE 32:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat Hiskia getrou sy werk gedoen het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval. Hy het die versterkte stede beleër en beveel dat die mure afgebreek moes word. Toe Hiskia besef dat Sanherib ook van plan was om Jerusalem aan te val, het hy met sy amptenare en militêre raadslede besluit om die watertoevoer uit die fonteine buite die stad af te sny. Hulle het hom hierin ondersteun. ’n Groot klomp mense het bymekaargekom en die watertoevoer uit die spruite toegestop wat deur die veld geloop het. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriërs hier kom en baie water kry?” Daarna het Hiskia sy verdediging versterk deur al die mure te herstel en torings bo-op te bou. Verder het hy ’n tweede muur buite om gebou, die terras by die Dawidstad versterk en ’n groot hoeveelheid wapens en skilde gemaak. Hy het ook militêre offisiere oor die volksleër aangestel en hulle beveel om voor hom op die plein by die stadspoort te vergader. Daar het hy hulle bemoedig en gesê: “Wees sterk en vol moed. Moenie bang wees vir die koning van Assirië of sy magtige leër nie, want daar is ’n baie groter mag aan ons kant! Hy het dalk ’n groot leër, maar hulle is maar net mense. Die HERE ons God is by ons en Hy sal ons oorloë vir ons veg!” Hierdie woorde van koning Hiskia van Juda het die volk baie bemoedig. Koning Sanherib was besig om die stad Lakis te beleër en het amptenare na Jerusalem toe gestuur met die volgende boodskap vir koning Hiskia van Juda en die hele volk in die stad: “Dit is wat koning Sanherib van Assirië sê: Waarop vertrou julle om te dink dat julle my beleëring van Jerusalem sal oorleef? Hiskia het gesê: ‘Die HERE ons God sal ons red uit die mag van die koning van Assirië.’ Dis duidelik dat Hiskia julle mislei sodat julle van honger en dors sal sterf! Julle weet mos dat dit juis Hiskia was wat al die heiligdomme en altare van die HERE verwoes het. Hy het Juda en Jerusalem beveel om net by die een altaar by die tempel te aanbid en om net daar alleen te offer. “Julle weet mos wat ek en die ander konings van Assirië voor my aan al die volke op die aarde gedoen het! Was enige van die gode van daardie nasies in staat om hulle land uit my krag te red? Watter gode van die nasies waarteen my voorgangers geveg het, was in staat om sy mense uit my mag te red? Sal julle God julle dan uit my mag red? Moenie dat Hiskia julle vir die gek hou nie! Moenie toelaat dat hy julle so mislei nie! Moenie hom glo nie. Ek herhaal: Geen god van enige nasie of koninkryk was ooit in staat om sy mense uit my mag of enige van my voorgeslag te verlos nie. Hoeveel minder is die kans dat julle God julle uit my mag sal red!” Sanherib se boodskappers het die HERE God en sy dienaar Hiskia nog meer gespot met belediging op belediging. Die koning het ook briewe gestuur waarin hy die HERE die God van Israel geminag het. Hy het geskryf: Net soos die gode van al die ander nasies nie hulle mense uit my mag kon red nie, so sal die God van Hiskia ook misluk. Die Assiriërs wat die briewe gebring het, het dit in die Judese dialek geskree aan die volk wat op die mure van die stad versamel het. Daarmee wou hulle die mense op die mure van die stad bangmaak sodat hulle die stad makliker kon inneem. Hierdie boodskappers het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy een van die heidense gode is wat deur mense gemaak is. Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos gebid en na die hemel geroep. Die HERE stuur toe ’n engel wat die Assiriese leër met al die bevelhebbers en offisiere vernietig het. Sanherib het in skande na sy eie land toe teruggegaan. Toe hy die tempel van sy god binnegegaan het, het sommige van sy eie seuns hom net daar met ’n swaard doodgemaak. Dit is hoe die HERE Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered het uit die mag van koning Sanherib van Assirië en van almal wat hom bedreig het. Daar was uiteindelik vrede in die hele land. Baie mense het vir die HERE in Jerusalem offers gebring en ook waardevolle geskenke vir koning Hiskia. Van toe af het sy aansien onder die omliggende volke toegeneem.