Jehoram het broers gehad, die seuns van Josafat. Dit was Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarjahu, Migael en Sefatja; hulle almal was seuns van Josafat, koning van Israel. Hulle vader het vir hulle baie geskenke gegee: silwer, goud en ander kosbaarhede, en daarby nog stede wat versterk is in Juda. Die koningskap het hy egter vir Jehoram gegee, omdat hy die eersgeborene was.
Jehoram het beheer geneem oor die koninkryk van sy vader en sy posisie verstewig. Toe het hy al sy broers met die swaard omgebring, asook sommige van die leiers van Israel. Jehoram was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het die pad van die konings van Israel gevolg, soos die huis van Agab gedoen het, want Agab se dogter was sy vrou. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Maar ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gemaak het, wou die HERE die huis van Dawid nie vernietig nie, aangesien Hy beloof het om vir hom en sy seuns altyd 'n lamp te gee.
In die tyd van Jehoram het die Edomiete weggebreek van die gesag van Juda en 'n koning oor hulle aangestel. Jehoram het toe met sy bevelvoerders en al sy strydwaens by hom daarheen oorgetrek. Hy het in die nag gereedgemaak en die Edomiete wat hom en die •aanvoerders van die strydwamag omsingel het, verslaan. Die Edomiete het weggebreek van die gesag van Juda; dit is vandag nog so. In dieselfde tyd het Libna ook van hom weggebreek, omdat Jehoram die HERE, die God van sy voorouers, verlaat het. Hy het ook offerhoogtes op die berge van Juda opgerig, die inwoners van Jerusalem hoerery laat bedryf en Juda so laat afdwaal. Daar het toe van die profeet Elia 'n skrywe by hom aangekom wat lui: “So sê die HERE, die God van jou voorvader Dawid, ‘Omdat jy nie die paaie van Josafat, jou vader, en die paaie van Asa, die koning van Juda, gevolg het nie, maar die pad van die konings van Israel gevolg het, en Juda en die inwoners van Jerusalem hoerery laat bedryf het soos wat die huis van Agab gedoen het, en omdat jy ook jou broers, jou eie familie wat beter was as jy, vermoor het, kyk, daarom sal die HERE jou volk, jou seuns, jou vroue en al jou besittings tref met 'n groot plaag. Jy sal ernstige siektes opdoen, siekte van jou ingewande, totdat jou ingewande met verloop van tyd as gevolg van die siekte sal uitpeul.’ ”
Toe het die HERE die gees van die Filistyne en die Arabiere, wat langs die Kussiete woon, teen Jehoram aangevuur. Hulle het teen Juda opgetrek, deurgebreek en al die besittings weggevoer wat in die koninklike paleis te vinde was, selfs sy seuns en sy vroue. Vir hom het daar nie 'n seun oorgebly nie, behalwe Joahas, die jongste van sy seuns.
Ná al hierdie gebeure het die HERE hom in sy ingewande getref met 'n ongeneeslike siekte. Ná verloop van tyd, ongeveer aan die einde van twee jaar, het sy ingewande uitgepeul as gevolg van sy siekte. Hy het 'n baie pynlike dood gesterf. Sy volk het geen dodevuur vir hom gemaak soos die dodevure vir sy voorvaders nie. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het heengegaan sonder kosbaarhede. Hulle het hom in die Stad van Dawid begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie.