2 KRONIEKE 21:2-20

2 KRONIEKE 21:2-20 Bybel vir almal (ABA)

Joram het broers gehad, hulle was seuns van Josafat. Hulle name was Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarja, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van koning Josafat van Juda. Josafat het vir sy seuns baie presente gegee. Dit was silwer, goud, kosbare goed, en ook stede in Juda wat sterk mure het, maar hy het vir Joram koning laat word, want Joram was die oudste. Nadat Joram koning geword het en toe hy seker was dat hy koning sal bly, het hy al sy broers laat doodmaak en ook party van die amptenare van Juda. Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was ag jaar lank koning in Jerusalem. Hy het verkeerd gelewe soos die konings van Israel, soos die familie van koning Agab, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Joram het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Maar die Here wou nie die koningshuis van Dawid laat ophou regeer nie, want Hy het 'n verbond gemaak met Dawid en Hy het belowe om altyd 'n lamp te laat brand vir Dawid en sy seuns, die Here het belowe dat een van hulle altyd koning sal wees. In die tyd toe Joram koning was, het die Edomiete opstandig geword teen Juda en die Edomiete het vir hulleself 'n koning gekies en aangestel. Joram het na die land Edom gegaan saam met al sy offisiere en sy oorlogkarre. Hy het in die nag gereedgemaak en hy het die Edomiete oorwin wat rondom hom en sy offisiere was. Die Edomiete het opstandig gebly teen Juda tot nou toe. Die mense van die stad Libna het in daardie tyd ook opstandig geword teen Joram. Dit het gebeur omdat hy nie die Here, die God van sy voorvaders, gedien het nie. Joram het ook offer-plekke gebou in die berge van Juda. Hy het die mense van Jerusalem ontrou laat word en hy het die mense van Juda weggelei van die Here. Daar het 'n brief van die profeet Elia by Joram gekom. Elia het geskryf: “Die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Jy lewe nie soos jou pa Josafat of soos koning Asa van Juda gelewe het nie. Jy lewe soos die konings van Israel en jy het die mense van Juda ontrou laat word. Jou eie broers was beter mense as jy, maar jy het ook vir hulle vermoor. Daarom sal die Here nou jou volk baie swaar laat kry en ook jou seuns en jou vroue en alles wat jy het. En jy sal baie siek word in jou maag en jou derms, jy sal 'n lang tyd siek wees totdat jou derms uitkom.” Die Here het die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete woon, laat besluit om oorlog te maak teen Joram. Hulle het oorlog gemaak teen die koning van Juda en hulle het hom oorwin. Hulle het al die goed gevat wat hulle in die paleis kon kry, en hulle het sy seuns en sy vroue gevang en saamgevat. Hulle het net sy jongste seun Joahas nie gevang nie. En nadat dit alles gebeur het, het die Here vir Joram siek laat word in sy maag en derms. Daar was nie medisyne vir daardie siekte nie. Hy het sieker en sieker geword, en ná twee jaar het sy derms uitgekom. Hy het baie pyn gehad en hy het gesterf. Die mense het altyd 'n vuur aangesteek om die konings vóór Joram te eer, maar Joram se mense het nie 'n vuur vir hom aangesteek nie. Hy was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was ag jaar lank koning in Jerusalem. Niemand was jammer toe hy gesterf het nie. Hulle het hom begrawe in die Dawidstad, maar nie in die grafte waar hulle die konings begrawe het nie.

2 KRONIEKE 21:2-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En hy het broers gehad, seuns van Jósafat: Asárja en Jéhiël en Sagaría en Asarjáhu en Mígael en Sefátja; hulle was almal seuns van Jósafat, die koning van Israel. En hulle vader het hulle baie geskenke gegee in silwer en goud en in kosbaarhede saam met versterkte stede in Juda; maar die koningskap het hy aan Joram gegee, want hy was die eersgeborene. Maar toe Joram die koningskap van sy vader aanvaar het en homself versterk het, het hy al sy broers met die swaard vermoor en ook sommige van die owerstes van Israel. Twee-en-dertig jaar was Joram oud toe hy koning geword het, en hy was agt jaar lank koning in Jerusalem. En hy het in die weg van die konings van Israel gewandel soos die huis van Agab gedoen het, want hy het die dogter van Agab as vrou gehad en het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Maar die HERE wou die huis van Dawid nie vernietig nie ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gesluit het, en volgens sy belofte om vir hom en sy seuns altyd 'n lamp te gee. In sy dae het die Edomiete van Juda afvallig geword en 'n koning oor hulle aangestel. Daarom het Joram oorgetrek saam met sy owerstes en al sy strydwaens; en toe hy hom in die nag klaargemaak het, het hy die Edomiete verslaan wat rondom hom was, en om die owerstes van die waens. So het die Edomiete dan van Juda afvallig geword, tot vandag toe; in dieselfde tyd het Libna afvallig geword onder sy mag uit, want hy het die HERE, die God van sy vaders, verlaat. Hy het ook hoogtes op die berge van Juda gemaak en die inwoners van Jerusalem laat hoereer en Juda verlei. Toe kom daar 'n brief van die profeet Elía by hom aan om te sê: So spreek die HERE, die God van u vader Dawid: Omdat u in die weë van u vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, nie gewandel het nie, maar gewandel het in die weg van die konings van Israel en Juda, en die inwoners van Jerusalem laat hoereer het volgens die hoererye van die huis van Agab, en selfs u broers, die huis van u vader, vermoor het, wat beter was as u — kyk, die HERE sal 'n groot plaag stuur onder u volk en onder u seuns en onder u vroue en onder al u goed, en u self sal aan baie siektes ly, aan 'n siekte van u ingewande, totdat u ingewande vanweë die siekte uitkom, jare lank. Toe verwek die HERE teen Joram die gees van die Filistyne en van die Arabiere wat langsaan die Kusiete is — hulle het teen Juda opgetrek en dit verower en al die goed weggevoer wat in die huis van die koning te vinde was, selfs ook sy seuns en sy vroue, sodat daar vir hom geen seun oorgebly het nie, behalwe Jóahas, die jongste van sy seuns. En ná dit alles het die HERE hom in sy ingewande aangetas met 'n siekte waar geen genesing voor was nie. En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het; en sy volk het vir hom geen wierookbrand gemaak soos die brand vir sy vaders nie. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het en het agt jaar in Jerusalem geregeer; en hy het heengegaan sonder dat hulle hom terug verlang het; en hy is begrawe in die stad van Dawid, maar nie in die grafte van die konings nie.

2 KRONIEKE 21:2-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Joram het 'n hele paar broers gehad: Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarja, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van koning Josafat van Juda . Hulle pa het vir hulle groot geskenke gegee, silwer, goud en ander kosbaarhede en ook vestingstede in Juda, maar die koningskap het hy aan Joram gegee, want dié was die oudste. Nadat Joram die koningskap van sy pa oorgeneem het en seker van sy saak was, het hy al sy broers en ook van die Israelitiese leiers laat vermoor. Hy was twee en dertig toe hy koning geword het en het ag jaar lank in Jerusalem geregeer. Hy het die pad van die konings van Israel geloop soos die koningshuis van Agab gedoen het, want hy was getroud met 'n dogter van Agab. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here wou egter nie die koningshuis van Dawid uitroei nie, want Hy het met Dawid 'n verbond gesluit en het belowe om vir Dawid en sy nageslag die troon vir altyd te verseker. In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel. Joram het met sy offisiere en sy hele strydwamag uitgetrek en het in die nag 'n aanval gemaak op die Edomiete wat hom en sy strydwaoffisiere omsingel het. Die Edomiete het egter tog onafhanklik geword, en is dit vandag nog. In dié tyd het ook Libna teen die gesag van Joram in opstand gekom. Dit was omdat Joram nie die Here die God van sy voorvaders gedien het nie. Bowendien het Joram hoogtes ingerig in die berge van Juda, die inwoners van Jerusalem tot ontrou verlei en Juda 'n verkeerde pad laat loop. Daar het vir hom 'n brief van die profeet Elia af gekom wat soos volg gelui het: “So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Omdat jy nie die pad van jou vader Josafat en van koning Asa van Juda loop nie, maar dié van die konings van Israel, en jy Juda en die inwoners van Jerusalem net so ontrou laat word het as die familie van Agab, en jy jou familie, jou eie broers, beter mense as jy, laat vermoor het, daarom sal die Here 'n groot ramp bring oor jou volk, jou kinders, jou vrouens en al wat jy besit. Jy self sal 'n ernstige siekte opdoen, 'n slepende siekte aan jou ingewande, so erg dat jou ingewande sal uitkom.” Die Here het toe die Filistyne en die Arabiere wat bure van die Kussiete was, vyande van Joram laat word. Hulle het 'n inval in Juda gemaak en al die koninklike besittings in die paleis geroof, en ook sy seuns en sy vrouens. Al seun wat hulle vir hom laat oorbly het, was Joahas , sy jongste. Daarna het die Here vir Joram getref met 'n ongeneeslike siekte in sy ingewande. Mettertyd, na omtrent twee jaar, het sy ingewande uitgekom as gevolg van die siekte, en hy het 'n pynlike dood gesterf. Sy volk het nie met sy dood vure aangesteek soos hulle dit vir sy voorvaders gedoen het nie. Joram was twee en dertig toe hy koning geword het en hy het ag jaar lank in Jerusalem geregeer. Sy heengaan is nie betreur nie. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in 'n koningsgraf nie.

2 KRONIEKE 21:2-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jehoram het broers gehad, die seuns van Josafat. Dit was Asarja, Jegiël, Sagaria, Asarjahu, Migael en Sefatja; hulle almal was seuns van Josafat, koning van Israel. Hulle vader het vir hulle baie geskenke gegee: silwer, goud en ander kosbaarhede, en daarby nog stede wat versterk is in Juda. Die koningskap het hy egter vir Jehoram gegee, omdat hy die eersgeborene was. Jehoram het beheer geneem oor die koninkryk van sy vader en sy posisie verstewig. Toe het hy al sy broers met die swaard omgebring, asook sommige van die leiers van Israel. Jehoram was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het die pad van die konings van Israel gevolg, soos die huis van Agab gedoen het, want Agab se dogter was sy vrou. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Maar ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gemaak het, wou die HERE die huis van Dawid nie vernietig nie, aangesien Hy beloof het om vir hom en sy seuns altyd 'n lamp te gee. In die tyd van Jehoram het die Edomiete weggebreek van die gesag van Juda en 'n koning oor hulle aangestel. Jehoram het toe met sy bevelvoerders en al sy strydwaens by hom daarheen oorgetrek. Hy het in die nag gereedgemaak en die Edomiete wat hom en die •aanvoerders van die strydwamag omsingel het, verslaan. Die Edomiete het weggebreek van die gesag van Juda; dit is vandag nog so. In dieselfde tyd het Libna ook van hom weggebreek, omdat Jehoram die HERE, die God van sy voorouers, verlaat het. Hy het ook offerhoogtes op die berge van Juda opgerig, die inwoners van Jerusalem hoerery laat bedryf en Juda so laat afdwaal. Daar het toe van die profeet Elia 'n skrywe by hom aangekom wat lui: “So sê die HERE, die God van jou voorvader Dawid, ‘Omdat jy nie die paaie van Josafat, jou vader, en die paaie van Asa, die koning van Juda, gevolg het nie, maar die pad van die konings van Israel gevolg het, en Juda en die inwoners van Jerusalem hoerery laat bedryf het soos wat die huis van Agab gedoen het, en omdat jy ook jou broers, jou eie familie wat beter was as jy, vermoor het, kyk, daarom sal die HERE jou volk, jou seuns, jou vroue en al jou besittings tref met 'n groot plaag. Jy sal ernstige siektes opdoen, siekte van jou ingewande, totdat jou ingewande met verloop van tyd as gevolg van die siekte sal uitpeul.’ ” Toe het die HERE die gees van die Filistyne en die Arabiere, wat langs die Kussiete woon, teen Jehoram aangevuur. Hulle het teen Juda opgetrek, deurgebreek en al die besittings weggevoer wat in die koninklike paleis te vinde was, selfs sy seuns en sy vroue. Vir hom het daar nie 'n seun oorgebly nie, behalwe Joahas, die jongste van sy seuns. Ná al hierdie gebeure het die HERE hom in sy ingewande getref met 'n ongeneeslike siekte. Ná verloop van tyd, ongeveer aan die einde van twee jaar, het sy ingewande uitgepeul as gevolg van sy siekte. Hy het 'n baie pynlike dood gesterf. Sy volk het geen dodevuur vir hom gemaak soos die dodevure vir sy voorvaders nie. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het heengegaan sonder kosbaarhede. Hulle het hom in die Stad van Dawid begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie.

2 KRONIEKE 21:2-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het broers gehad, die seuns van Jósafat, Asárja en Jéhiël en Sagaria en Asárja en Migael en Sefátja; hulle almal was die seuns van Jósafat, die koning van Israel. En hulle vader het hulle groot geskenke gegee van silwer en goud en kosbare dinge, met omheinde stede in Juda; maar die koningskap het hy aan Joram gegee; want hy was die eersgeborene. En toe Joram opgestaan het vir die koninkryk van sy vader, het hy homself versterk en al sy broers met die swaard gedood en ook duikers van die vorste van Israel. Joram was twee en dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar in Jerusalem geregeer. En hy het in die weg van die konings van Israel gewandel soos die huis van Agab gedoen het, want hy het die dogter van Agab as vrou gehad; en hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Maar die HERE sou die huis van Dawid nie vernietig nie vanweë die verbond wat Hy met Dawid gesluit het, en soos Hy beloof het om vir hom en sy seuns vir ewig 'n lig te gee. In sy dae het die Edomiete in opstand gekom onder die heerskappy van Juda en hulleself 'n koning gemaak. Toe het Joram uitgetrek met sy vorste en al sy strydwaens saam met hom; en hy het in die nag opgestaan en die Edomiete wat hom omsingel het, en die owerstes van die strydwaens verslaan. Die Edomiete het toe in opstand gekom onder die hand van Juda tot vandag toe. In dieselfde tyd het Libna ook in opstand gekom onder sy hand; omdat hy die HERE, die God van sy vaders, verlaat het. Verder het hy hoogtes op die berge van Juda gemaak en die inwoners van Jerusalem laat hoereer en Juda daartoe gedwing. En daar het 'n skrywe van die profeet Elía aan hom gekom en gesê: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Omdat jy nie in die weë van jou vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, gewandel het nie, Maar jy het in die weg van die konings van Israel gewandel en Juda en die inwoners van Jerusalem laat hoereer, soos die hoererye van die huis van Agab, en ook jou broers van jou vader se huis, wat beter was, gedood as jyself: Kyk, met 'n groot plaag sal die HERE jou volk en jou kinders en jou vroue en al jou goed tref. En jy sal 'n groot siekte hê deur siekte van jou ingewande, totdat jou ingewande dag vir dag uitval vanweë die siekte. Verder het die HERE die gees van die Filistyne en van die Arabiere wat naby die Kusiete was, teen Joram verwek. En hulle het in Juda opgetrek en daarin gebreek en al die goed wat in die huis van die koning gevind is, en ook sy seuns en sy vroue weggevoer; sodat daar nooit 'n seun van hom oorgebly het nie, behalwe Joahas, die jongste van sy seuns. En ná dit alles het die HERE hom in sy ingewande getref met 'n ongeneeslike siekte. En dit het gebeur dat met verloop van tyd, ná die einde van twee jaar, sy ingewande weens sy siekte uitgeval het, sodat hy aan hewige siektes gesterf het. En sy volk het vir hom geen brand gemaak soos die verbranding van sy vaders nie. Twee en dertig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar in Jerusalem geregeer en het sonder begeerte vertrek. Maar hulle het hom in die stad van Dawid begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie.

2 KRONIEKE 21:2-20 Die Boodskap (DB)

Joram se broers was Asarja, Jegiël, Sagaria, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van Josafat. Hy het vir hulle silwer en goue en allerlei kosbare goed gegee, asook versterkte stede in Juda. Joram het koning geword omdat hy die oudste seun was. Toe Joram sy koningskap stewig gevestig het, het hy sy broers en sekere leiers van Israel vermoor. Joram was 32 toe hy koning geword het. Hy het vir agt jaar in Jerusalem regeer. Joram het geleef soos die meeste konings van Israel voor hom. Hy was net so sleg soos koning Agab, want hy het met een van Agab se dogters getrou. Hy het dinge gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was. Maar die Here het gelukkig nie ’n einde gemaak aan die koningshuis van Dawid nie omdat Hy vir Dawid beloof het dat daar altyd iemand uit sy nageslag op sy troon sou sit. In Joram se tyd het die Edomiete van Juda af weggebreek en hulle eie koning aangestel. Joram het die Edomiete met sy hele leër en al sy strydwaens agternagesit om sy gesag oor hulle te herstel. Die Edomiete het hom en sy strydwaens egter omsingel, maar hy het in die nag in die donker weggekom. Van toe af was die Edomiete onafhanklik van Juda. Joram het selfs in die heuwelland van Juda hoogtes vir afgode gebou en die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien. Die profeet Elia het vir Joram ’n brief geskryf. Hier is vir jou ’n boodskap van die Here, die God van Dawid, jou voorvader. Hy sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa, Josafat, en jou oupa, Asa, gevolg nie. Jy het net so sleg soos al die ander konings van Israel geword. Jy het die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien, net soos Agab met die mense van Israel gedoen het. Jy het selfs jou eie broers doodgemaak. Hulle was beter mense as jy. Nou gaan die Here jou straf, maar nie net vir jou nie. Ook jou mense, jou kinders en jou vroue gaan erg getref word. Jy gaan baie ernstig siek word. Die siekte sal chronies wees, totdat jou ingewande later sal uitkom. Die Here het toe gesorg dat die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete woon, vyande van Joram word. Hulle het Juda aangeval en die paleis beroof van alles wat waardevol was. Hulle het selfs sy vroue en kinders weggevat. Net een seun, Ahasia, die jongste, het agtergebly. Daarna het die Here Joram met ’n chroniese siekte getref. Niemand kon hom gesond maak nie. Na twee jaar was hy so siek dat sy ingewande uitgekom het. Hy het baie pyn gehad en is uiteindelik dood. Sy mense het nie soos gewoonlik by die dood van konings vir hom ’n begrafnisvuur aangesteek nie. Joram was 32 toe hy koning geword het en het vir agt jaar regeer. Niemand was jammer toe hy dood is nie. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in een van die koninklike grafte nie.

2 KRONIEKE 21:2-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Joram se broers, seuns van koning Josafat van Juda, was Asarja, Jegiël, Sagaria, Migael en Sefatja. Hulle pa het waardevolle geskenke van silwer en goud, kosbare voorwerpe en ook versterkte stede in Juda aan elkeen van hulle gegee. Hy het die koningskap aan Joram gegee, want hy was die oudste. Nadat Joram as koning gevestig was, het hy al sy broers en sommige van die ander leiers van Israel doodgemaak. Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer. Maar Joram het die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en was net so goddeloos soos koning Agab, want hy was met een van Agab se dogters getroud. Hy het gedoen wat baie verkeerd was vir die HERE. Maar die HERE wou nie Dawid se koningshuis vernietig nie. Hy het immers ’n verbond met Dawid gesluit en belowe dat sy nageslag vir altyd op sy troon sou sit. Gedurende Joram se regering het die Edomiete teen Juda in opstand gekom en vir hulleself ’n koning gekroon. Joram het Edom met sy volle leër en al sy strydwaens aangeval. Die Edomiete het hom en sy strydwa-offisiere omsingel, maar hy kon gedurende die nag ontsnap. Tot vandag toe is Edom onafhanklik. Die dorp Libna het in hierdie tyd in opstand gekom teen die gesag van Joram. Dit was omdat hy die HERE die God van sy voorouers verlaat het. Hy het ook heidense hoogtes in die berge van Juda gebou, die inwoners van Jerusalem tot ontrouheid verlei en Juda op die verkeerde pad laat loop. Elia die profeet het toe die volgende brief aan Joram gestuur: Dit is wat die HERE, die God van jou voorvader Dawid, sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa Josafat of jou oupa, koning Asa van Juda, gevolg nie. Jy het net so goddeloos geword soos die konings van Israel. Jy het die inwoners van Jerusalem en Juda tot ontrouheid verlei, net soos koning Agab in Israel gedoen het. Jy het selfs jou eie broers, lede van jou vader se familie, manne wat beter was as jy, doodgemaak. Nou is die HERE op die punt om jou en jou volk, jou kinders en jou vroue met ’n swaar slag te tref. Jy sal getref word deur ’n ernstige siekte op te doen, ’n siekte wat jou inwendig sal aantas sodat jou ingewande sal uitkom. Die HERE het toe die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete gewoon het, aangehits om Joram aan te val. Hulle het teen Juda opgetrek, sy versterkings afgebreek, en alles wat van waarde is in die koninklike paleis, insluitend sy seuns en vroue, weggevoer. Net sy jongste seun Ahasia is gespaar. Hierna het die HERE Joram met ’n ongeneeslike siekte van die ingewande getref. Na die verloop van twee jaar het die siekte veroorsaak dat sy ingewande uitgekom het en hy ’n pynlike dood gesterf het. Sy volk het nie vir hom ’n vuur aangesteek soos hulle vir sy voorvaders gedoen het nie. Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar in Jerusalem geheers. Niemand was jammer toe hy dood is nie. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie.