2 Kronieke 1:7-12

2 Kronieke 1:7-12 AFR20

In daardie nag het God aan Salomo verskyn. Hy het vir hom gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee!” Salomo het vir God gesê: “U self het aan my vader Dawid oorvloedige troue liefde bewys, en U het my koning gemaak in sy plek. HERE God, laat nou u belofte aan my vader Dawid bewaarheid word, want dit is U wat my koning gemaak het oor 'n volk so talryk soos die stof van die aarde. Wysheid en oordeelsvermoë, gee dit dan nou vir my, sodat ek voor hierdie volk kan uittrek en terugkeer. Want wie kan regspreek oor hierdie groot volk van U?” God het Salomo geantwoord: “Omdat juis dit jou hartsbegeerte is, en jy nie gevra het vir rykdom, besittings en eer, of die lewe van hulle wat jou haat nie, ook nie vir 'n lang lewe nie, maar vir jouself wysheid en oordeelsvermoë gevra het, sodat jy my volk oor wie Ek jou koning gemaak het, kan regeer, sal die wysheid en oordeelsvermoë aan jou gegee word. Maar ook rykdom en besittings en eer sal Ek vir jou gee, soveel as wat konings wat voor jou was, nie gehad het nie, en dié wat ná jou kom, nie sal hê nie. ”