2 Kronieke 1:1-17

2 Kronieke 1:1-17 AFR20

Salomo, die seun van Dawid, het sy mag oor sy koninkryk versterk. Die HERE sy God was met hom, en Hy het hom buitengewone aansien gegee. Toe het Salomo met die hele Israel gepraat, met die •aanvoerders van duisend en van honderd, met die regters en met elke leier van die hele Israel, al die familiehoofde. Salomo en die hele geloofsgemeenskap saam met hom het na die •offerhoogte in Gibeon gegaan, want dit is waar God se Tent van Ontmoeting was, die tent wat Moses, die dienskneg van die HERE, in die woestyn gemaak het. Die ark van God het Dawid egter al vroeër uit Kirjat-Jearim opgeneem na die plek wat Dawid daarvoor gereedgemaak het, want hy het 'n tent daarvoor opgeslaan in Jerusalem. Die bronsaltaar wat Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was daar voor die •tabernakel van die HERE. Salomo en die geloofsgemeenskap het Hom gaan raadpleeg. Salomo het daar, op die bronsaltaar wat by die Tent van Ontmoeting was, voor die HERE brandoffers gebring. Hy het 'n duisend brandoffers daarop gebring. In daardie nag het God aan Salomo verskyn. Hy het vir hom gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee!” Salomo het vir God gesê: “U self het aan my vader Dawid oorvloedige troue liefde bewys, en U het my koning gemaak in sy plek. HERE God, laat nou u belofte aan my vader Dawid bewaarheid word, want dit is U wat my koning gemaak het oor 'n volk so talryk soos die stof van die aarde. Wysheid en oordeelsvermoë, gee dit dan nou vir my, sodat ek voor hierdie volk kan uittrek en terugkeer. Want wie kan regspreek oor hierdie groot volk van U?” God het Salomo geantwoord: “Omdat juis dit jou hartsbegeerte is, en jy nie gevra het vir rykdom, besittings en eer, of die lewe van hulle wat jou haat nie, ook nie vir 'n lang lewe nie, maar vir jouself wysheid en oordeelsvermoë gevra het, sodat jy my volk oor wie Ek jou koning gemaak het, kan regeer, sal die wysheid en oordeelsvermoë aan jou gegee word. Maar ook rykdom en besittings en eer sal Ek vir jou gee, soveel as wat konings wat voor jou was, nie gehad het nie, en dié wat ná jou kom, nie sal hê nie. ” Salomo het toe van die offerhoogte in Gibeon, van die Tent van Ontmoeting af, na Jerusalem gegaan, en hy het oor Israel regeer. Salomo het strydwaens en spanne perde bymekaargemaak. Hy het eenduisend vierhonderd strydwaens en twaalfduisend perde gehad. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou. Die koning het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. Die perde wat aan Salomo behoort het, is ingevoer uit Egipte en Kewé. Handelaars van die koning het hulle van Kewé teen 'n vasgestelde prys gekry. 'n Strydwa, ingevoer uit Egipte, het seshonderd sikkel silwer gekos, en 'n perd honderd-en-vyftig sikkel. So is deur hulle toedoen strydwaens en perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete en die konings van Aram.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Kronieke 1:1-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid