2 KRONIEKE 1:1-17

2 KRONIEKE 1:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Salomo, die seun van Dawid, het hom versterk in sy koningskap; en die HERE sy God was met hom en het hom uitermate groot gemaak. En Salomo het met die hele Israel gespreek, met die owerstes oor duisend en oor honderd en met die regters en met elke vors in die hele Israel, die familiehoofde; en hulle het gegaan, Salomo en die hele vergadering saam met hom, na die hoogte wat by Gíbeon is; want daar was die tent van samekoms van God wat Moses, die kneg van die HERE, in die woestyn gemaak het. Maar Dawid het die ark van God uit Kirjat-Jeárim laat bring na die plek wat Dawid daarvoor ingerig het; want hy het daarvoor 'n tent in Jerusalem opgeslaan. Ook die koperaltaar wat Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, gemaak het, was daar voor die tabernakel van die HERE; en Salomo en die vergadering het dit besoek. En Salomo het daar op die koperaltaar wat by die tent van samekoms behoort het, voor die aangesig van die HERE geoffer en daarop duisend brandoffers gebring. In dieselfde nag het God aan Salomo verskyn en aan hom gesê: Begeer wat Ek jou moet gee. En Salomo het tot God gespreek: Ú het aan my vader Dawid 'n groot guns bewys en my in sy plek koning gemaak. HERE God, laat u woord aan my vader Dawid nou bewaarheid word; want Ú het my koning gemaak oor 'n volk talryk soos die stof van die aarde. Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit- en ingaan, want wie kan hierdie groot volk van U regeer? Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs 'n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer — daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie. En Salomo het van die hoogte wat by Gíbeon is, van die tent van samekoms af, in Jerusalem aangekom, en hy het oor Israel geregeer. EN Salomo het strydwaens en perderuiters versamel, sodat hy veertienhonderd waens en twaalfduisend perderuiters gehad het; en hy het hulle in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel. En die koning het die silwer en die goud in Jerusalem gemaak soos die klippe, en die seders het hy gemaak soos die wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte. En die uitvoer van perde vir Salomo het plaasgevind uit Egipte en uit Kwé; handelaars van die koning het hulle uit Kwé gaan haal teen koopprys. En hulle het uit Egipte 'n wa laat optrek en dit uitgevoer vir seshonderd sikkels silwer en 'n perd vir honderd-en-vyftig; en so is dit vir al die konings van die Hetiete en die konings van Aram deur hulle uitgevoer.

2 KRONIEKE 1:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Salomo seun van Dawid het koning geword en hy het seker gemaak dat hy koning sal bly. Sy God die Here was by hom. Die Here het hom 'n baie belangrike koning laat word. Salomo het al die leiers van die Israeliete laat roep. Dit was die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne, die regters, elke leier in die hele Israel, die familiehoofde. Hy en die hele volksvergadering saam met hom het na die offer-plek in die stad Gibeon gegaan, want die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het, was daar. Dit was die tent wat Moses, die dienaar van die Here, in die woestyn laat maak het. Maar die kis van God was op die plek wat Dawid daarvoor laat gereedmaak het. Dawid het die kis voorheen uit Kirjat-Jearim gebring en hy het 'n tent vir die kis in Jerusalem laat opslaan. Die brons-altaar wat Besaleël seun van Uri seun van Gur gemaak het, was in Gibeon voor die tempel-tent van die Here. Salomo en die volksvergadering het daar vir die Here gaan vra wat hulle moet doen. Salomo het na die brons-altaar gegaan wat voor die tent was, voor die Here, en hy het 1 000 brand-offers op die altaar ge-offer. Daardie nag het God aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Jy mag vir My enige iets vra, Ek sal dit vir jou gee.” Salomo sê toe vir God: “U het gedoen wat U vir my pa belowe het, U het my koning laat word ná hom. Nou vra ek vir U, Here God, U moet nou alles waar laat word wat U vir my pa Dawid belowe het, want U het my koning laat word oor 'n volk wat so baie is soos die stof op die aarde. U moet nou vir my wysheid gee en U moet my help om alles te verstaan, sodat ek hierdie volk kan lei, want wie kan alleen oor hierdie groot volk van U regeer? Niemand.” God het vir Salomo gesê: “Jy het nie gevra om ryk te word en om baie goed te hê nie. Jy het nie gevra dat mense jou sal respekteer nie, of dat jy jou vyande sal kan doodmaak en dat jy lank sal lewe nie. Nee, jy het gevra dat jy wysheid sal hê en dat jy dinge sal ken, sodat jy goed kan regeer oor my volk, my volk oor wie Ek jou koning laat word het. Daarom gee Ek vir jou wysheid, Ek sal jou help om dinge te ken, maar Ek sal jou ook ryk laat word, en jy sal baie goed hê, en mense sal jou respekteer. Jy sal meer van alles hê as die konings wat vóór jou regeer het, en meer as die konings wat ná jou sal regeer.” Salomo het weggegaan van die offer-plek in Gibeon, van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het. Hy het teruggegaan na Jerusalem. Salomo was koning oor Israel. Salomo het oorlogkarre en oorlogperde bymekaargemaak. Hy het 1 400 oorlogkarre en 12 000 oorlogperde gehad. Hy het party van hulle laat bly in die stede waar hulle die oorlogkarre gehou het, en party het hy by hom in Jerusalem laat bly. Die koning het baie goud en silwer gehad, so baie soos die klippe in Jerusalem, en so baie sederhout soos die wildevyebome in die Laeveld. Salomo het perde uit Egipte en die land Kewe gekry. Die handelaars van die koning het die perde in Kewe gaan koop. Die handelaars het 600 sikkels silwer betaal vir een oorlogkar uit Egipte en 150 sikkels vir een perd, en hulle het oorlogkarre en perde verkoop aan al die konings van die Hetiete en die Arameërs.

2 KRONIEKE 1:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Salomo seun van Dawid het 'n stewige houvas op sy koningskap gekry. Die Here sy God was by hom en het hom groot mag gegee. Salomo het die hele Israel opgeroep: die bevelhebbers oor duisend en honderd, die regters, elke leiersfiguur in die hele Israel, al die familiehoofde. Salomo en die hele gemeente saam met hom het toe na die hoogte toe by Gibeon gegaan. Die tent van die ontmoeting met God wat Moses, die dienaar van die Here, nog in die woestyn gemaak het, was toe daar. Die ark van God was egter nie daar nie. Dawid het dit in sy dae uit Kirjat-Jearim laat bring na die plek toe wat hy daarvoor reggemaak het, want hy het daarvoor in Jerusalem 'n tent laat opslaan. Die bronsaltaar wat Besaleël seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was opgestel voor die tabernakel van die Here. Salomo en die gemeente het die Here gaan raadpleeg. Salomo het daar op die bronsaltaar offers gebring voor die Here wat in die tent van ontmoeting teenwoordig is. Hy het 'n duisend brandoffers daar gebring. Daardie nag het God aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Vra wat Ek jou moet gee.” Salomo sê toe vir God: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys en my in sy plek koning gemaak. Vervul nou, Here God, u belofte aan my vader Dawid, want U het my koning gemaak oor 'n volk so baie soos die stof van die aarde. Gee my nou wysheid en kennis dat ek hierdie volk reg kan lei, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer?” God het vir Salomo geantwoord: “Omdat jy dít besluit het en jy nie rykdom, besittings, aansien of jou vyande se lewens gevra het nie, en ook nie 'n lang leeftyd nie, maar wysheid en kennis waarmee jy my volk oor wie Ek jou koning gemaak het, kan regeer, daarom word die wysheid en kennis aan jou geskenk. Maar Ek gee jou bowendien rykdom, besittings en aansien soos die konings voor jou nie gehad het nie en dié ná jou ook nie sal hê nie.” Daarna het Salomo van die hoogte in Gibeon af, van die tent van ontmoeting af, na Jerusalem toe teruggegaan. Hy was nou koning oor die hele Israel. Koning Salomo het 'n mag van strydwaens en perde opgebou. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend perde besit, waarvan hy party in strydwaposte en ander by die paleis in Jerusalem gestasioneer het. Die koning het goud en silwer in Jerusalem so volop gemaak soos klippe, en seders so volop soos wildevyebome in die Laeveld. Sy perde was afkomstig uit Egipte en Kewé. Die handelaars van koning Salomo het hulle in Kewé gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is. Uit Egipte is 'n strydwa vir net minder as sewe kilogram silwer ingevoer en 'n perd vir een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan al die Hetitiese en Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.

2 KRONIEKE 1:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Salomo, die seun van Dawid, het sy mag oor sy koninkryk versterk. Die HERE sy God was met hom, en Hy het hom buitengewone aansien gegee. Toe het Salomo met die hele Israel gepraat, met die •aanvoerders van duisend en van honderd, met die regters en met elke leier van die hele Israel, al die familiehoofde. Salomo en die hele geloofsgemeenskap saam met hom het na die •offerhoogte in Gibeon gegaan, want dit is waar God se Tent van Ontmoeting was, die tent wat Moses, die dienskneg van die HERE, in die woestyn gemaak het. Die ark van God het Dawid egter al vroeër uit Kirjat-Jearim opgeneem na die plek wat Dawid daarvoor gereedgemaak het, want hy het 'n tent daarvoor opgeslaan in Jerusalem. Die bronsaltaar wat Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was daar voor die •tabernakel van die HERE. Salomo en die geloofsgemeenskap het Hom gaan raadpleeg. Salomo het daar, op die bronsaltaar wat by die Tent van Ontmoeting was, voor die HERE brandoffers gebring. Hy het 'n duisend brandoffers daarop gebring. In daardie nag het God aan Salomo verskyn. Hy het vir hom gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee!” Salomo het vir God gesê: “U self het aan my vader Dawid oorvloedige troue liefde bewys, en U het my koning gemaak in sy plek. HERE God, laat nou u belofte aan my vader Dawid bewaarheid word, want dit is U wat my koning gemaak het oor 'n volk so talryk soos die stof van die aarde. Wysheid en oordeelsvermoë, gee dit dan nou vir my, sodat ek voor hierdie volk kan uittrek en terugkeer. Want wie kan regspreek oor hierdie groot volk van U?” God het Salomo geantwoord: “Omdat juis dit jou hartsbegeerte is, en jy nie gevra het vir rykdom, besittings en eer, of die lewe van hulle wat jou haat nie, ook nie vir 'n lang lewe nie, maar vir jouself wysheid en oordeelsvermoë gevra het, sodat jy my volk oor wie Ek jou koning gemaak het, kan regeer, sal die wysheid en oordeelsvermoë aan jou gegee word. Maar ook rykdom en besittings en eer sal Ek vir jou gee, soveel as wat konings wat voor jou was, nie gehad het nie, en dié wat ná jou kom, nie sal hê nie. ” Salomo het toe van die offerhoogte in Gibeon, van die Tent van Ontmoeting af, na Jerusalem gegaan, en hy het oor Israel regeer. Salomo het strydwaens en spanne perde bymekaargemaak. Hy het eenduisend vierhonderd strydwaens en twaalfduisend perde gehad. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou. Die koning het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. Die perde wat aan Salomo behoort het, is ingevoer uit Egipte en Kewé. Handelaars van die koning het hulle van Kewé teen 'n vasgestelde prys gekry. 'n Strydwa, ingevoer uit Egipte, het seshonderd sikkel silwer gekos, en 'n perd honderd-en-vyftig sikkel. So is deur hulle toedoen strydwaens en perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete en die konings van Aram.

2 KRONIEKE 1:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Salomo, die seun van Dawid, het hom versterk in sy koninkryk, en die HERE sy God was met hom en het hom uitermate groot gemaak. Toe het Salomo met die hele Israel gespreek, met die owerstes oor duisend en oor honderd en met die regters en met elke goewerneur in die hele Israel, die familiehoofde. So het Salomo en die hele vergadering saam met hom na die hoogte gegaan wat by Gíbeon was; want daar was die tent van die samekoms van God wat Moses, die kneg van die HERE, in die woestyn gemaak het. Maar Dawid het die ark van God uit Kirjat-Jeárim laat optrek na die plek wat Dawid daarvoor gereed gemaak het, want hy het daarvoor 'n tent in Jerusalem opgeslaan. Verder het hy die koperaltaar wat Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, gemaak het, voor die tabernakel van die HERE gestel; en Salomo en die vergadering het daarna gesoek. En Salomo het daarheen opgegaan na die koperaltaar voor die aangesig van die HERE wat by die tent van samekoms was, en duisend brandoffers daarop gebring. In daardie nag het God aan Salomo verskyn en vir hom gesê: Vra wat Ek jou sal gee. Toe sê Salomo vir God: U het groot barmhartigheid bewys aan my vader Dawid en my in sy plek as koning gemaak. Nou, HERE God, laat u belofte aan my vader Dawid bewaarheid word, want U het my koning gemaak oor 'n volk soos die stof van die aarde in menigte. Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit- en ingaan; want wie kan hierdie u volk, wat so groot is, oordeel? Toe sê God vir Salomo: Omdat dit in jou hart was, en jy nie rykdom, rykdom of eer gevra het of die lewe van jou vyande nie, en nog geen lang lewe gevra het nie; maar jy het vir jou wysheid en kennis gevra, dat jy my volk kan oordeel oor wie Ek jou koning gemaak het. Wysheid en kennis word aan jou gegee; en Ek sal jou rykdom en rykdom en eer gee soos geeneen van die konings gehad het wat voor jou was nie, en ook sal daar ná jou geen ander so iets hê nie. Toe het Salomo van sy reis na die hoogte wat by Gibeon was, na Jerusalem gekom, van voor die tent van samekoms, en oor Israel geregeer. En Salomo het strydwaens en ruiters bymekaargemaak, en hy het duisend-vierhonderd strydwaens en twaalfduisend ruiters gehad wat hy in die strydwastede en by die koning in Jerusalem geplaas het. En die koning het silwer en goud in Jerusalem gemaak so oorvloedig soos klippe, en sederbome het hy gemaak soos wildevyebome wat in die laagte is, in oorvloed. En Salomo het perde uit Egipte laat uitbring en linne-gare; die handelaars van die koning het die linne teen 'n prys ontvang. En hulle het opgetrek en uit Egipte 'n wa vir seshonderd sikkels silwer en 'n perd vir honderd-en-vyftig uitgebring; en so het hulle perde uitgebring vir al die konings van die Hetiete en vir die konings van Aram, deur hul middele.

2 KRONIEKE 1:1-17 Die Boodskap (DB)

Salomo, Dawid se seun, het sy greep op die koningskap versterk. Die Here sy God het hom gehelp en hom al hoe sterker gemaak. Salomo het toe al die leiers van Israel, die hoër en laer offisiere, die regters, die politieke leiers en die familiehoofde bymekaargeroep. Hulle het almal na die hoogte op die berg by Gibeon gegaan. Dit is die plek waar die tent destyds gestaan het waar die Here sy volk ontmoet het. Dit is die tent wat die Here se dienaar Moses nog in die woestyn gemaak het. Die ark met die ooreenkoms tussen God en sy volk was egter nie daar nie. Dawid het die ark uit Kirjat-Jearim na Jerusalem laat bring en dit in ’n tent neergesit wat hy spesiaal daarvoor opgeslaan het. Die bronsaltaar wat Besaleël, Uri se seun en Gur se kleinseun, gemaak het, was wel in Gibeon voor die tent van die Here. Salomo en die leiers het dit besoek om die Here te raadpleeg. Salomo het die altaar voor die tent gebruik om offers te bring. Hy het 1 000 brandoffers gebring. Dié nag het die Here aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy graag hê? Ek sal dit vir jou gee.” Salomo het geantwoord: “U was baie goed vir Dawid, my pa. Nou het U my in sy plek koning gemaak. U belofte aan hom is vervul. Ek is nou koning oor ’n volk wat so baie mense het soos die stof op die aarde. Gee my tog wysheid en kennis om hulle goed te regeer, want hoe anders kan ’n mens hierdie groot volk van U regeer?” God het Salomo geantwoord: “Aangesien jy jou volk wil help en nie gevra het vir rykdom of eer, of dat jou vyande moet sterf, of selfs vir ’n lang lewe nie, maar vir wysheid en kennis om goed te regeer, sal jy beslis kry wat jy gevra het. Maar Ek sal jou meer as wysheid en kennis gee: Ek sal jou ook meer geld en skatte en eer gee as wat enige koning vóór jou nog gehad het, of enigeen ná jou ooit sal hê.” Salomo het na Jerusalem toe teruggegaan en daar oor Israel regeer. Salomo het ’n sterk weermag opgebou. Dit het 1 400 strydwaens en 1 200 ruiters ingesluit. Hy het hulle in die strydwadorpe gestasioneer en party naby hom in Jerusalem gehou. In Salomo se tyd het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe geword en sederhout so volop soos die hout van die wildevyebome wat in die laerliggende dele van die land groei. Salomo se perde is uit Egipte en Silisië ingevoer. Sy aankopers het hulle teen die gewone prys in Silisië gekoop. ’n Strydwa is destyds vir byna sewe kilogram silwer uit Egipte ingevoer en ’n perd het byna een en ’n driekwart kilogram silwer gekos. Salomo se handelaars was ook die middelmanne wat die Hetitiese en Aramese konings van strydwaens en perde voorsien het.

2 KRONIEKE 1:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Salomo, seun van koning Dawid, het beheer oor sy koninkryk verkry, want die HERE sy God was met hom en het hom baie magtig gemaak. Hy het die hele Israel bymekaargeroep, al die generaals en kapteins van die leër, die regters, en al die leiers en die familiehoofde. Salomo en die hele vergadering saam met hom het na die hoogte by Gibeon gegaan. God se tent van ontmoeting was daar. Moses, die dienaar van die HERE, het dit nog in die woestyn gemaak. Dawid het reeds die ark van God verskuif vanaf die woning van Kirjat-Jearim na die tent wat hy daarvoor in Jerusalem opgeslaan het. Maar die bronsaltaar wat Besaleël seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was voor die tabernakel van die HERE. Salomo en die volk het gekom om die HERE te raadpleeg. Salomo het opgegaan na die bronsaltaar in die teenwoordigheid van die HERE in die tent van ontmoeting, en 1 000 brandoffers daar geoffer. Daardie nag het God in ’n droom aan Salomo verskyn en gesê: “Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!” Salomo het God geantwoord: “U het oorvloedige troue liefde aan my pa Dawid betoon, en my in sy plek koning gemaak. Nou, HERE God, bevestig tog u belofte aan my pa Dawid, want U het my koning gemaak oor ’n volk wat so baie is soos die stof van die aarde! Gee my tog wysheid en kennis sodat ek hulle reg kan regeer, want wie kan oor hierdie groot volk van U regeer?” God sê toe vir Salomo: “Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ’n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer; sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor jou of na jou ooit sal hê nie.” Daarna het Salomo vanaf die tent van ontmoeting op die hoogte in Gibeon na Jerusalem toe teruggegaan. Hy het oor die hele Israel regeer. Salomo het ’n groot militêre mag opgebou. Dit het 1 400 strydwaens en 12 000 perde ingesluit. Hy het hulle in die stede geplaas, en sommige naby hom in Jerusalem. Hy het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe gemaak. Seders was so volop soos wildevyebome in die Laeveld. Salomo se perde is uit Egipte en Kewé ingevoer. Die koning se handelaars het hulle in Kewé gekoop teen pryse waarop daar ooreengekom is. Destyds is strydwaens vir byna sewe kilogram silwer uit Egipte ingevoer, en ’n perd vir een en ’n driekwart kilogram. Baie hiervan is na die Hetitiese en Aramese konings uitgevoer.