Maar jy, o man van God,
vlug weg van hierdie dinge!
Streef eerder na •geregtigheid,
godvresendheid, betroubaarheid,
liefde, volharding, sagmoedigheid.
Stry die goeie stryd van die geloof;
gryp die ewige lewe aan,
waartoe jy geroep is
en waarvan jy die goeie belydenis
voor baie getuies afgelê het.
Ek beveel jou voor God, wat aan alles lewe gee, en •Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius •Pilatus gelewer het, dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus, wat God op sy eie tyd sal openbaar –
Hy, die lofwaardige
en enigste Heerser,
die Koning van die konings
en Here van die heersers,
Hy wat alleen onsterflikheid besit,
ontoeganklike lig bewoon,
en vir wie geen mens ken
of kan sien nie –
aan Hom kom die eer
en ewige krag toe. •Amen.
Beveel die rykes in die huidige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie, en nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te vestig nie, maar op God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet. Beveel hulle om eerder goed te doen, ryk aan goeie dade, vrygewig en mededeelsaam te wees, om sodoende vir hulleself 'n skat op te bou as goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe kan verkry.
O Timoteus, bewaar jou pand! Vermy goddelose en leë praatjies, en die teenstrydighede van wat valslik as kennis bestempel word.