1 TIMOTEUS 6:11-20

1 TIMOTEUS 6:11-20 Bybel vir almal (ABA)

Maar Timoteus, jy behoort aan God. Daarom moet jy wegvlug van hierdie verkeerde dinge. Jy moet aanhou probeer om dinge te doen wat reg is. Jy moet probeer om vir God te dien, om in Christus te glo, om lief te wees vir mense, om aan te hou om dit te doen en om iemand met 'n sagte hart te wees. Dit is nie maklik om in Christus te glo nie, dit is soos wanneer iemand hardloop in 'n moeilike resies. Jy moet aanhou om hard te probeer in hierdie resies wat jy hardloop. Jy moet hard probeer om die prys te kry, die prys is die ewige lewe. God het jou geroep om die ewige lewe te kry toe jy reguit gesê het dat jy in Christus glo, baie mense het gehoor toe jy dit gesê het. God laat alles lewe, en Christus Jesus het voor Pontius Pilatus reguit gesê wat die waarheid is en wie Hy is. God en Christus Jesus hoor wanneer ek vir jou sê: Jy moet presies doen wat ek vir jou gesê het en jy moet heeltemal reg lewe. Jy moet dit doen totdat ons Here Jesus Christus weer sal kom. Hy sal op die regte tyd kom. God sal dit laat gebeur. Ons moet God prys, dit is net Hy wat regeer. Hy is die Koning van die konings, Hy is die Here van almal wat regeer. Dit is net Hy wat nooit sterf nie, Hy woon in 'n lig wat so blink dat niemand naby Hom kan kom nie. Niemand het vir God gesien nie, nooit nie, en niemand kán Hom sien nie. Ons bid dat die mense altyd vir God sal eer, God wat altyd sterk is. Amen. Daar is mense wat nou ryk is in hierdie wêreld. Jy moet vir hulle sê hulle moenie hoogmoedig wees nie. En hulle moenie dink dat geld en rykdom hulle altyd sal help nie. 'n Mens kan nooit seker wees dat jy altyd ryk sal wees nie. Nee, hulle moet seker weet dat God vir ons alles sal gee wat ons nodig het. Ja, Hy gee vir ons nog meer sodat ons dit kan geniet. Die ryk mense moet goeie dinge doen, ja, hulle moet baie goeie dinge doen. Dit is hoe hulle ryk moet wees. Hulle moet baie graag van hulle eie goed vir ander mense gee. Wanneer hulle dit doen, dan maak hulle vir hulle goed bymekaar wat later soos 'n vaste fondament sal wees. Hulle moet dit alles doen sodat hulle die ware lewe kan kry. Timoteus, God het baie dinge vir jou gegee, jy moet dit goed oppas, en jy moenie luister na die stories van mense wat niks weet van God nie. Hulle praat baie, maar die dinge wat hulle sê, beteken niks. Hulle stry altyd met mekaar en hulle sê hulle weet die regte dinge, maar dit is nie waar nie.

1 TIMOTEUS 6:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: “Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen. Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry. Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word.

1 TIMOTEUS 6:11-20 Die Boodskap (DB)

Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander. Moenie moed verloor nie en hanteer ander mense altyd mooi sodat hulle goed voel om by jou te wees. Toe jy ’n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ’n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef. God het jou geroep om dit te doen en jy het voor baie mense gesê dat jy dit sal doen. Wat ek nou vir jou sê, is nie net praatjies nie. Ek sê dit voor God wat alles lewendig gemaak het en voor Christus Jesus wat, sonder om bang te wees vir Pontius Pilatus, voor almal gesê het waarvoor Hy staan. Voor God en Christus vra ek mooi: doen al hierdie dinge presies so en moenie foute maak nie totdat ons Here Jesus Christus weer kom. Dit sal gebeur wanneer God dink dat dit tyd daarvoor is. Dan sal Hy sorg dat dit gebeur. Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers. Hy leef vir altyd. Ons kan nie by sy blyplek kom nie, want dit is omgewe deur ’n helder lig. Daarom het niemand Hom nog ooit gesien nie en kan niemand Hom sien nie. Almal moet sy Naam grootmaak, want die krag wat nooit ophou nie, is Syne. Sowaar! Waarsku die mense wat in hierdie wêreld baie geld het om nie te veel van hulleself te begin dink nie. Hulle moet nie hulle hele lewe op geld en rykdom bou nie, want dit hou nie baie lank nie. ’n Mens kan ook nie seker wees dat jy altyd geld sal hê nie. Hulle moet eerder hulle lewe bou deur op God te vertrou. Hy sal sorg dat ons alles kry wat ons nodig het om van te leef. Praat mooi met die ryk mense. Vra hulle om hulle geld te gebruik om arm mense mee te help. Hulle moet nie suinig wees nie en moet graag met ander deel wat hulle het. So sal hulle soveel goeie dinge doen dat hulle in die oë van God en die mense baie ryk sal wees, nie omdat hulle baie geld het nie, maar omdat hulle soveel goeie dinge gedoen het. So belê hulle eintlik in die bank van God. Dit is die beste belegging waaraan ’n mens kan dink, veral vir die toekoms. So sal die ryk gelowige ook die ware lewe by God hê. Liewe Timoteus, kyk mooi na alles wat jy gevra is om te doen. Moenie jou tyd mors met die gepraat wat niks met God te doen het nie. Wees versigtig vir daardie klomp wat met hulle deurmekaar redenasies wil voorgee dat hulle so wetenskaplik en slim is.

1 TIMOTEUS 6:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis. Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies. En voor God wat aan alles lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus afgelê het, druk ek dit jou op die hart dat jy jou opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer totdat ons Here Jesus Christus weer verskyn. Want op die bestemde tyd sal God Jesus Christus openbaar, Hý, die geseënde en alleen Magtige, die Koning van die konings en die Heer van die here. Hy alleen besit onsterflikheid, en bewoon die ontoeganklike lig. Niemand het Hom ooit gesien of kan Hom sien nie. Hom kom toe die eer en die ewige krag. Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel. Deur dit te doen, sal hulle vir hulle ’n skat opbou – ’n goeie fondament vir die toekoms sodat hulle die egte lewe kan ontvang. Timoteus, waak oor wat God aan jou toevertrou het. Vermy goddelose, dwase praatjies met hulle wat jou met hulle sogenaamde kennis teenstaan.

1 TIMOTEUS 6:11-20

1 TIMOTEUS 6:11-20 AFR831 TIMOTEUS 6:11-20 AFR831 TIMOTEUS 6:11-20 AFR83