1 Timoteus 5:1-16

1 Timoteus 5:1-16 AFR20

'n Ouer man moet jy nie skerp berispe nie, maar vermaan hom soos 'n vader, en vermaan jonger mans soos broers, ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters – en dit alleen met suiwer bedoelings. Betoon eer aan weduwees wat werklik weduwees is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle leer om in die eerste plek hulle godsdienstige pligte teenoor hulle eie familie na te kom, en hulle ouers en grootouers te vergoed; want dit is aanneemlik in die oë van God. Maar sy wat werklik 'n weduwee is, en alleen agtergelaat is, vestig haar hoop steeds op God, en sy bly bedags en snags smeek en bid; maar die weduwee wat uitspattig leef, is lewend dood. Beveel hulle hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as 'n ongelowige. Laat 'n weduwee op die dienslys geplaas word as sy nie jonger as sestig jaar is nie, en die vrou van een man was, as daar van haar goeie werke getuig word, as sy kinders goed grootgemaak het, as sy gasvry was, as sy die voete van •heiliges gewas het, as sy mense in verdrukking bygestaan het, as sy haar toegespits het op elke goeie werk. Maar sluit jonger weduwees uit, want wanneer hulle drange hulle weglok van •Christus, wil hulle trou; en dan word hulle veroordeel, omdat hulle hulle eerste belofte verbreek het. Boonop kom hulle in die gewoonte om ledig te wees terwyl hulle so van huis tot huis kuier, en is hulle nie net ledig nie, maar hulle skinder, en is bemoeisiek, en praat oor onvanpaste sake. Daarom verwag ek van jonger weduwees dat hulle moet trou, kinders kry, huishoudings bestuur en die teenstander geen geleentheid gee om kwaad te praat nie. Want sommige van hulle het reeds agter Satan aan afgedwaal. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, laat sy hulle help! Laat die gemeente nie belas word nie, sodat hulle ondersteuning kan gee aan dié wat werklik weduwees is.

Video for 1 Timoteus 5:1-16