1 TIMOTEUS 5:1-16

1 TIMOTEUS 5:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Jy moenie kwaai praat met 'n man wat baie ouer as jy is nie. Jy moet vir hom sê hoe hy moet lewe, maar jy moet met hom praat soos jy met jou pa praat. Jy moet met die jonger mans praat soos jy met jou broers praat. Jy moet ook met ouer vroue praat soos jy met jou ma praat. Wanneer jy met jonger vroue praat, dan moet jy met hulle praat soos jy met jou susters praat, jy moenie aan onsedelike dinge dink nie. Daar is weduwees wat nie familie het wat vir hulle kan sorg nie. Jy moet hulle respekteer en vir hulle sorg. Maar wanneer 'n weduwee kinders of kleinkinders het wat vir haar kan sorg, dan moet die kinders of kleinkinders weet dat sy hulle eie familie is en dat hulle vir haar moet sorg. So moet hulle vir God dien. Hulle moet vir hulle ouers en grootouers sorg soos hulle ouers voorheen vir húlle gesorg het. Dit is wat God wil hê hulle moet doen. Maar wanneer 'n weduwee alleen oorgebly het en sy het nie familie wat vir haar kan sorg nie, dan kan sy seker weet dat God vir haar sal sorg. Sy sê elke dag en nag vir God wat sy nodig het en sy bid tot Hom. Maar 'n weduwee wat altyd dink oor hoe sy die lewe kan geniet, is geestelik dood terwyl sy lewe. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te sê, sodat almal heeltemal reg sal lewe. Maar wanneer iemand nie vir sy eie mense sorg nie, ook nie vir sy eie huisgesin nie, dan is hy nie meer 'n gelowige nie, dan is hy slegter as die mense wat nie in Christus glo nie. Wanneer 'n weduwee 60 jaar oud is, dan mag julle haar naam op die lys van weduwees skryf, maar nie voordat sy 60 jaar oud is nie. En sy moet net een man gehad het. Die ander mense moet mooi dinge oor hierdie weduwee kan vertel. Mense moet weet en sê dat sy haar kinders goed grootgemaak het, dat sy goed was vir vreemdelinge, dat sy die voete van ander gelowiges gewas het, dat sy mense gehelp het wat swaargekry het, dat sy baie dinge gedoen het wat goed is. Maar jy moenie die jonger weduwees se name op die lys van weduwees skryf nie, want wanneer hulle aan mans dink, dan vergeet hulle miskien dat hulle vir Christus moet werk, en dan wil hulle graag weer trou. Dan is hulle skuldig, want hulle doen nie wat hulle vir Christus belowe het nie. Hulle leer ook om nie te werk nie, hulle kuier by al die huise. Hulle doen niks, hulle skinder en hulle is nuuskierig oor ander mense, en hulle praat oor dinge waaroor 'n mens nie moet praat nie. Ek wil hê die jonger weduwees moet trou en hulle moet kinders kry en goed sorg vir hulle huisgesinne. Dan sal ons vyande nie slegte dinge van ons kan sê nie. Party weduwees het klaar begin doen wat die Satan wil hê. As 'n vrou wat in Christus glo, weduwees in haar familie het, dan moet sy vir hulle sorg. Sy moenie dink dat die gemeente vir daardie weduwees moet sorg nie. Die gemeente kan dan sorg vir die weduwees wat nie familie het nie.

1 TIMOTEUS 5:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N BEJAARDE man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos 'n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid. Eer die weduwees wat waarlik weduwees is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God. En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag. Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood. Beveel ook hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as 'n ongelowige. Laat 'n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het. Maar jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou en kom onder 'n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het. En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan. As 'n gelowige man of 'n gelowige vrou weduwees by hulle het, moet dié aan hulle hulp verleen; en laat die gemeente nie beswaar word nie, sodat dit die wat waarlik weduwees is, kan help.

1 TIMOTEUS 5:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid. Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God. 'n Weduwee wat alleen agtergelaat is en niemand het om vir haar te sorg nie, vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede. Maar 'n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. Skerp ook hierdie dinge in, sodat almal onberispelik kan wees. As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as 'n ongelowige. 'n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was. Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie. Hulle liggaamlike begeertes kan hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af en weer te wil trou. Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het. Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie. Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie. Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is.

1 TIMOTEUS 5:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Ouer man moet jy nie skerp berispe nie, maar vermaan hom soos 'n vader, en vermaan jonger mans soos broers, ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters – en dit alleen met suiwer bedoelings. Betoon eer aan weduwees wat werklik weduwees is. Maar as 'n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle leer om in die eerste plek hulle godsdienstige pligte teenoor hulle eie familie na te kom, en hulle ouers en grootouers te vergoed; want dit is aanneemlik in die oë van God. Maar sy wat werklik 'n weduwee is, en alleen agtergelaat is, vestig haar hoop steeds op God, en sy bly bedags en snags smeek en bid; maar die weduwee wat uitspattig leef, is lewend dood. Beveel hulle hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as 'n ongelowige. Laat 'n weduwee op die dienslys geplaas word as sy nie jonger as sestig jaar is nie, en die vrou van een man was, as daar van haar goeie werke getuig word, as sy kinders goed grootgemaak het, as sy gasvry was, as sy die voete van •heiliges gewas het, as sy mense in verdrukking bygestaan het, as sy haar toegespits het op elke goeie werk. Maar sluit jonger weduwees uit, want wanneer hulle drange hulle weglok van •Christus, wil hulle trou; en dan word hulle veroordeel, omdat hulle hulle eerste belofte verbreek het. Boonop kom hulle in die gewoonte om ledig te wees terwyl hulle so van huis tot huis kuier, en is hulle nie net ledig nie, maar hulle skinder, en is bemoeisiek, en praat oor onvanpaste sake. Daarom verwag ek van jonger weduwees dat hulle moet trou, kinders kry, huishoudings bestuur en die teenstander geen geleentheid gee om kwaad te praat nie. Want sommige van hulle het reeds agter Satan aan afgedwaal. As 'n gelowige vrou weduwees in haar familie het, laat sy hulle help! Laat die gemeente nie belas word nie, sodat hulle ondersteuning kan gee aan dié wat werklik weduwees is.

1 TIMOTEUS 5:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Bestraf 'n ouderling nie, maar smeek hom as 'n vader; en die jonger manne as broers; Die ouer vroue as moeders; die jonger as susters, met alle reinheid. Eer weduwees wat waarlik weduwees is. Maar as enige weduwee kinders of nefies het, laat hulle eers leer om vroomheid by die huis te betoon en om hulle ouers te vergeld; want dit is goed en welgevallig voor God. En sy wat waarlik 'n weduwee en verlate is, vertrou op God en bly nag en dag in smekinge en gebede. Maar sy wat in plesier lewe, is dood terwyl sy lewe. En hierdie dinge gee beheer, sodat hulle onberispelik kan wees. Maar as iemand nie vir sy eie sorg nie, en veral vir dié van sy huis, het hy die geloof verloën en is erger as 'n ongelowige. Laat 'n weduwee nie onder sestig jaar oud word wat die vrou van een man was nie, Goed bekend vir goeie werke; as sy kinders grootgemaak het, as sy vreemdelinge gelos het, as sy die voete van die heiliges gewas het, as sy die ellendige verlos het, as sy elke goeie werk ywerig nagevolg het. Maar die jonger weduwees weier; met verdoemenis, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het. En hulle leer ook om ledig te wees en van huis tot huis rond te dwaal; en nie alleen ledig nie, maar ook rommelmakers en besighede wat dinge spreek wat hulle nie behoort nie. Ek wil dus dat die jonger vroue trou, kinders baar, die huis lei, die teëstander geen aanleiding gee om smaad te praat nie. Want sommige het reeds agter Satan aan afgewyk. As enige man of vrou wat glo, weduwees het, laat hulle hulle help, en laat die gemeente nie aangekla word nie; dat dit die wat waarlik weduwees is, kan verlos.

1 TIMOTEUS 5:1-16 Die Boodskap (DB)

Moenie te kwaai met ’n ouer man praat nie. Praat liewer mooi met hom asof hy jou eie pa is. Jonger mans moet jy behandel asof hulle jou broers is, ouer vroue asof hulle jou ma is en jonger vroue asof hulle jou susters is. Jy moet hulle altyd so behandel dat hulle jou sal respekteer. Kyk mooi na die weduwees wat werklik niemand het om vir hulle te sorg nie. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet jy hulle leer dat godsdiens in jou eie huis begin. Om vir jou eie familie te sorg en op dié manier dankie te sê vir wat jou pa en ma of ouma en oupa alles vir jou gedoen het, is godsdiens in aksie. Daarvan hou God baie. ’n Weduwee wat nie iemand het om haar te help nie, het net vir God oor om te vra. Sy vertrou God heeltemal en vra dag en nag dat Hy haar asseblief moet help. Daar is egter ook weduwees wat deur allerhande plesiere van die lewe aan die lewe probeer bly, maar so ’n vrou is geestelik morsdood, al lewe haar liggaam nog. Sê dit vir die families sodat hulle nie onnodig die verkeerde dinge doen nie. As iemand nie meer na sy eie mense wil omsien nie en veral nie meer vir sy gesin wil sorg nie, moet hy nie sê dat hy in die Here glo nie. Hy tree slegter op as iemand wat sommer reguit sê dat hy nie in die Here glo nie. Wie kan nou kwalifiseer vir die lys weduwees? ’n Vrou wat 60 is, kan op die lys kom, maar dan moes sy getrou gewees het aan haar man. Sy moet bekend wees vir die goeie lewe wat sy lei. Sy moes mooi na haar kinders gekyk en hulle goed grootgemaak het. Mense moes altyd by haar welkom gevoel het en sy moes altyd gewillig gewees het om ander te dien, al was die takie hoe nederig. Sy moes altyd daar gewees het om te help as iemand hulp nodig gehad het. Die leuse van haar lewe moet wees: doen goed aan ander. Moenie jonger weduwees se name op die lys sit nie. Hulle kan dalk weer trou, want as hulle ’n man begin begeer, kan dit dalk vir hulle belangriker word as om die Here te dien. Dan doen hulle dalk nie meer alles wat die Here van hulle verwag nie. Dan kan mense hulle dalk verwyt omdat hulle hulle woord verbreek het. Boonop kan hulle maklik in die strik trap om net van die een huis na die ander te kuier en eintlik niks te doen nie. As hulle heeldag so rondkuier, mors hulle nie net hulle tyd nie, maar skinder vreeslik en meng hulle in met sake wat niks met hulle te doen het nie. Dan sê hulle ook gewoonlik dinge wat hulle liewer nie moes gesê het nie. Daarom is dit vir my ’n baie beter oplossing dat die jonger weduwees weer moet trou, kinders moet hê en hulle huis behoorlik aan die gang moet hou. Dan sal die mense wat nie van die kerk hou nie, nie allerhande lelike dinge oor hulle kan sê nie. So terloops, daar is al ’n paar weduwees wat so die pad byster geraak het en nou agter Satan aanloop. As ’n Christenvrou weduwees in haar huis het, moet sy self na hulle kyk. Sy moet nie verwag dat die res van die gemeente moet help nie. So sal die gemeente net na die weduwees hoef te kyk wat regtig niemand het om vir hulle te sorg nie.

1 TIMOTEUS 5:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moet nooit onbeskof met ’n ouer man praat nie, maar spoor hom met respek aan asof hy jou eie pa is. Praat met die jonger mans soos wat jy met jou eie broers sou praat. Vermaan die ouer vroue soos jou ma, en vermaan die jonger vroue met alle eerbied soos jou eie susters. Respekteer en versorg dié weduwees wat niemand anders het om na hulle om te sien nie. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié leer om hulle praktiese godsdiens heel eerste tuis te beoefen en hulle ouers en grootouers te vergoed deur hulle te versorg. Dit is iets wat God baie bly maak. ’n Vrou wat ’n egte weduwee is, iemand wat werklik alleen in die wêreld is, het haar hoop op God geplaas. Dag en nag vra sy God om hulp, en bestee baie tyd in gebed. Maar die weduwee wat net vir plesier leef, is geestelik dood. Gee hierdie opdragte aan die gemeente sodat die weduwees wat julle onderhou, nie berispe word nie. Dié wat nie hulle eie familie versorg nie, veral dié wat in dieselfde huishouding woon, verloën wat ons glo. Sulke mense is slegter as ongelowiges. ’n Weduwee wat op die lys vir dienende weduwees kom, moet ’n vrou van ten minste 60 jaar oud wees. Sy moes getrou aan haar man gewees het. Sy moet gerespekteer wees deur almal vanweë die goeie dade wat sy gedoen het. Het sy haar kinders goed opgevoed? Was sy gasvry teenoor vreemdelinge? Het sy ander gelowiges nederig gedien? Het sy dié wat in die moeilikheid was, gehelp? Het sy altyd reggestaan om goed te doen? Die jonger weduwees moenie op die lys kom nie, want hulle liggaamlike behoeftes sal hulle toewyding aan Christus bedreig, en hulle sal wil hertrou. Dan sal hulle skuldig wees aan die verbreking van hulle vorige belofte. Buitendien word hulle waarskynlik lui en bestee hulle tyd deur van huis tot huis te skinder, hulle te bemoei met ander mense se besigheid en dinge te sê wat kon gebly het. Daarom raai ek hierdie jonger weduwees aan om te hertrou, kinders te hê en hulle eie huise te versorg. Dan sal hulle die vyand geen aanleiding gee om ons te beskinder nie. Want ek is bevrees dat sommige van hulle alreeds afgedwaal het en nou Satan volg. As ’n Christenvrou weduwees in haar familie het, moet sy hulle versorg en nie die verantwoordelikheid op die gemeente afskuif nie. Dan kan die gemeente dié weduwees versorg wat werklik alleen is.

1 TIMOTEUS 5:1-16

1 TIMOTEUS 5:1-16 AFR83