1 Samuel 25:26-34

1 Samuel 25:26-34 AFR20

En nou, my heer, so waar as die HERE leef, en u leef – die HERE, wat u daarvan weerhou het om by bloedskuld betrokke te raak deur met u eie hand 'n oorwinning vir uself te behaal – mag dit nou met u vyande en met hulle wat daarop uit is om my heer kwaad aan te doen, gaan soos met Nabal. En nou, wat hierdie buitengewone geskenk betref wat u slavin vir my heer gebring het, laat dit gegee word aan die jong manne wat in my heer se voetspore volg. Vergewe asseblief die oortreding van u dienares. “Aangesien die HERE beslis vir my heer 'n bestendige huis sal vestig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer, mag onheil nie naby u kom solank u leef nie! En wanneer mense opstaan om u te agtervolg en u lewe bedreig, mag die lewe van my heer dan toegebind wees in die sakkie van die lewendes by die HERE, u God. Maar die lewens van u vyande, mag Hy dit wegslinger uit die holte van 'n slingervel. “ Wanneer die HERE aan my heer al die goeie doen wat Hy oor u uitgespreek het, en Hy u aanstel as leier oor Israel, sal hierdie saak nie daar wees as 'n hindernis vir u en as 'n struikelblok in die gedagtes van my heer nie, dat u sonder rede onskuldige bloed vergiet het en dat my heer vir homself 'n oorwinning behaal het nie. En wanneer die HERE aan my heer goed doen, moet u aan u dienares dink. ” Toe sê Dawid vir Abigajil: “Die HERE, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! Jou goeie oordeel moet geprys word, en jy moet geprys word, omdat jy my vandag daarvan weerhou het om in bloedskuld betrokke te raak en met my eie hand vir myself 'n oorwinning te behaal. Maar aan die ander kant, so waar as die HERE, die God van Israel leef – Hy wat my daarvan weerhou het om jou kwaad aan te doen – sou daar, as jy my nie so gou tegemoetgekom het nie, sonder twyfel teen die môrelig nie 'n enkele mansmens van Nabal oorgebly het nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 25:26-34

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid