1 SAMUEL 25:26-34

1 SAMUEL 25:26-34 Bybel vir almal (ABA)

Maar nou, Meneer, so seker soos die Here lewe en so seker soos jy lewe, dit is die Here wat keer sodat jy nie onskuldige mense doodmaak wanneer jy jou vyande wil straf nie. Ek bid dat dit met jou vyande sal gaan soos met Nabal. Ek bid dat dit ook so sal gaan met almal wat wil hê dat dit sleg moet gaan met Meneer. En nou, ek het hierdie presente vir Meneer gebring sodat jy dit kan gee vir die manne wat jou volg. Vergewe my asseblief as ek iets verkeerd gedoen het. Die Here sal jou en jou familie altyd beskerm, want Meneer veg die oorloë van die Here. Jy moet niks doen wat verkeerd is nie, so lank soos jy lewe. Wanneer iemand jou jaag en jou wil doodmaak, dan sal jou God die Here jou beskerm, Hy sal jou vyande weggooi soos 'n mens 'n klip weggooi met 'n slingervel. Die Here sal met Meneer doen wat Hy gesê het. Hy sal dit goed laat gaan met jou, en Hy sal jou die koning van Israel maak. Dan sal jy nie skuldig voel nie, want dan het jy nie vandag onskuldige mense doodgemaak en self mense gestraf nie. Wanneer die Here dit dan goed laat gaan met Meneer, dan moet jy my nie vergeet nie.” Toe sê Dawid vir Abigajil: “Ek prys die Here, die God van Israel, wat jou vandag na my toe gestuur het. En ek prys jou wat so verstandig is. Jy het my vandag gekeer en ek het nie onskuldige mense doodgemaak en self mense gestraf nie. Want so seker soos die Here, die God van Israel, lewe, as jy nie gou gemaak het en na my toe gekom het nie, dan sou nie een man of seun van Nabal môre vroeg nog gelewe het nie. Die Here het my gekeer sodat ek nie aan jou iets gedoen het wat sleg is nie.”

1 SAMUEL 25:26-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En nou, my heer, so waar as die HERE leef en u siel leef, dit is die HERE wat u teruggehou het om in bloedskuld te geraak en u met eie hand te help; mag dan nou u vyande en die wat onheil soek teen my heer, soos Nabal word. En laat nou hierdie geskenk wat u dienares vir my heer gebring het, aan die jongmanne gegee word wat op my heer se voetspore rondtrek. Vergeef tog die oortreding van u dienares, want die HERE sal sekerlik vir my heer 'n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie. As 'n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die HERE u God; maar mag Hy die siel van u vyande uit die holte van die slinger wegslinger. En as die HERE aan my heer sal doen volgens al die goeie wat Hy aan u beloof het, en u aanstel as vors oor Israel, dan sal daar vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees dat u sonder oorsaak bloed vergiet het en my heer homself hulp verskaf het nie; en as die HERE goed sal doen aan my heer, moet u aan u dienares dink. Toe sê Dawid vir Abígail: Geseënd is die HERE, die God van Israel, wat jou vandag my tegemoet gestuur het! En geseënd jou verstandigheid en geseënd jy self wat my vandag teëgehou het om in bloedskuld te geraak en my met eie hand te help. Maar so waar as die HERE, die God van Israel, leef wat my verhinder het om aan jou kwaad te doen — as jy my nie gou tegemoetgekom het nie, voorwaar, daar sou van Nabal niemand wat manlik is, tot die môrelig oorgebly het nie!

1 SAMUEL 25:26-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Meneer, so seker as die Here leef en so seker as wat u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. Mag dit met u vyande gaan soos dit met Nabal sal gaan en met almal wat u ondergang soek. Neem tog nou hierdie blyk van goeie wense wat ek vir Meneer gebring het, en laat dit gegee word aan die manne wat altyd vir Meneer volg. Vergewe tog my oortreding, want die Here sal beslis vir u 'n bestendige huis besorg, omdat Meneer die oorloë van die Here voer, en mag 'n ramp u nooit tref nie. En sou daar iemand opstaan om u te agtervolg en u te probeer doodmaak, mag die lewe van Meneer dan by die Here, u God, veilig wees saam met die lewendes. Maar mag die lewe van u vyande weggeslinger word soos 'n klip uit 'n slingervel. Wanneer die Here al die goeie dinge wat Hy oor u gesê het, aan Meneer volbring het, en Hy u as regeerder van Israel aangestel het, mag hierdie voorval dan nie vir u tot kwelling en gewetenswroeging wees omdat u onskuldige bloed vergiet het deur die reg in eie hande te neem nie. En wanneer die Here aan Meneer goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.” Dawid het vir Abigajil gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet. Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem. Maar, so seker as die Here die God van Israel leef, Hy wat my gekeer het om jou kwaad aan te doen, as jy my nie gou tegemoet gekom het nie, sou daar beslis geen enkele manspersoon van Nabal tot die môrelig oorgebly het nie.”

1 SAMUEL 25:26-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En nou, my heer, so waar as die HERE leef, en u leef – die HERE, wat u daarvan weerhou het om by bloedskuld betrokke te raak deur met u eie hand 'n oorwinning vir uself te behaal – mag dit nou met u vyande en met hulle wat daarop uit is om my heer kwaad aan te doen, gaan soos met Nabal. En nou, wat hierdie buitengewone geskenk betref wat u slavin vir my heer gebring het, laat dit gegee word aan die jong manne wat in my heer se voetspore volg. Vergewe asseblief die oortreding van u dienares. “Aangesien die HERE beslis vir my heer 'n bestendige huis sal vestig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer, mag onheil nie naby u kom solank u leef nie! En wanneer mense opstaan om u te agtervolg en u lewe bedreig, mag die lewe van my heer dan toegebind wees in die sakkie van die lewendes by die HERE, u God. Maar die lewens van u vyande, mag Hy dit wegslinger uit die holte van 'n slingervel. “ Wanneer die HERE aan my heer al die goeie doen wat Hy oor u uitgespreek het, en Hy u aanstel as leier oor Israel, sal hierdie saak nie daar wees as 'n hindernis vir u en as 'n struikelblok in die gedagtes van my heer nie, dat u sonder rede onskuldige bloed vergiet het en dat my heer vir homself 'n oorwinning behaal het nie. En wanneer die HERE aan my heer goed doen, moet u aan u dienares dink. ” Toe sê Dawid vir Abigajil: “Die HERE, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! Jou goeie oordeel moet geprys word, en jy moet geprys word, omdat jy my vandag daarvan weerhou het om in bloedskuld betrokke te raak en met my eie hand vir myself 'n oorwinning te behaal. Maar aan die ander kant, so waar as die HERE, die God van Israel leef – Hy wat my daarvan weerhou het om jou kwaad aan te doen – sou daar, as jy my nie so gou tegemoetgekom het nie, sonder twyfel teen die môrelig nie 'n enkele mansmens van Nabal oorgebly het nie.”

1 SAMUEL 25:26-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Nou dan, my heer, so waar as die HERE leef en u siel leef, aangesien die HERE u daarvan weerhou het om te kom om bloed te vergiet en om uself met u eie hand te wreek, laat nou u vyande en die wat kwaad soek vir my HERE, wees soos Nabal. En nou, hierdie seën wat u dienares aan my heer gebring het, laat dit ook gegee word aan die jongmanne wat my heer volg. Vergewe tog die oortreding van u dienares, want die HERE sal beslis vir my heer 'n vaste huis maak; want my heer voer die oorloë van die HERE, en daar is geen onheil in jou gevind al jou dae nie. Maar 'n man het opgestaan om jou te agtervolg en jou siel te soek; maar die siel van my heer sal gebonde wees in die bondeltjie van die lewe by die HERE jou God; en die siele van u vyande sal hy uitslinger soos uit die middel van 'n slinger. En dit sal gebeur as die HERE aan my heer gedoen het volgens al die goeie wat Hy oor jou gespreek het, en jou as heerser oor Israel aangestel het; Dat dit vir jou geen droefheid of aanstoot van hart vir my heer sal wees nie, óf dat jy bloed vergiet het sonder oorsaak, óf dat my heer homself gewreek het nie; maar as die HERE aan my heer goed gehandel het, dink dan aan u dienares. Toe sê Dawid vir Abigail: Geloofd sy die HERE, die God van Israel, wat jou vandag gestuur het om my tegemoet te gaan! En geseënd is u raad, en geseënd is u wat my vandag weerhou het om te kom om bloed te vergiet en om my met my eie hand te wreek. Want so waar as die HERE, die God van Israel leef, wat my daarvan weerhou het om jou leed aan te doen, as jy nie gehaas het en my tegemoet gekom het nie, was daar sekerlik nie aan Nabal oorgebly teen die môrelig wat teen die muur gestamp het nie.

1 SAMUEL 25:26-34 Die Boodskap (DB)

So waar as die Here leef en so waar as wat u leef, Meneer: dis die Here wat gekeer het dat u eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek is ook seker dit sal met u vyande, met almal wat u skade wil aandoen, gaan soos dit met Nabal gaan. Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. Gee dit gerus vir die jong manne wat altyd by u is. En vergewe asseblief die fout wat ek gemaak het. Die Here sal vir seker vir u ’n koningskap gee wat lank sal hou, want u moet die Here se oorloë veg. ’n Ramp sal u nooit tref nie; en as daar mense is wat u agtervolg om u te probeer doodmaak, sal die Here u God u veilig by Hom hou soos ’n herder ’n klippie veilig in sy sak bêre. Maar die lewe van u vyande sal die Here weggooi soos ’n herder ’n klip met ’n slingervel weggooi. Wanneer die Here vir u al die goeie dinge wat Hy u belowe, waar maak en u aanstel as die leier van Israel, sal hierdie ding van Nabal nie in u pad wees nie, en sal u gewete u nie pla dat u eie reg gebruik en mense onskuldig doodgemaak het nie. En as die Here vir u al die mooi dinge waar gemaak het, dink tog dan aan hierdie nederige vrou.” Daarop sê Dawid vir Abigajil: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word dat Hy jou vandag na my toe gestuur het! Jy is ’n baie slim vrou! Dankie dat jy vandag gekeer het dat ek eie reg gebruik en ’n bloedbad veroorsaak. Ek sê vir jou, so waar as die Here, die God van Israel leef: Hy het gekeer dat ek jou baie seer maak, want as jy nie so gou gemaak en my op die pad gekry het nie, sou nie een van die mans of seuns by Nabal môre die son sien opkom het nie.”