1 Samuel 17:16-24

1 Samuel 17:16-24 AFR20

Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en 'n bewys van hulle af saambring. ” Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei. Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by 'n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel. Dawid het die pakgoed wat hy gedra het by die oppasser van die pakgoed afgegee en na die gevegslinie gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan. Hy was nog besig om met hulle te praat, toe die baasvegter met die naam Goliat, die Filistyn, uit Gat, juis na vore tree uit die gevegslinies van die Filistyne, en dieselfde woorde sê. Dawid het dit gehoor. Maar al die manne van Israel het, toe hulle die man sien, voor hom padgegee. Hulle was baie bang.