1 SAMUEL 17:16-24
1 SAMUEL 17:16-24 Bybel vir almal (ABA)
Die Filistyn Goliat het 40 dae lank elke oggend en aand nader gekom na Saul en sy manne toe en hy het gereedgestaan om te veg. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Jy moet asseblief hierdie efa gebraaide koring en hierdie tien brode neem en jy moet dit vir jou broers in die kamp bring. En hierdie tien stukke kaas moet jy vir hulle offisier bring. Jy moet kyk hoe dit met jou broers gaan en jy moet iets saambring wat vir my sal wys dat hulle nog lewe.” Saul en die broers van Dawid en die manne van Israel was in die vallei waar die groot boom is. Hulle was daar om oorlog te maak teen die Filistyne. Dawid het vroeg die volgende oggend opgestaan en hy het die skape en bokke by 'n skaapwagter gelos. Hy het toe gegaan en gedoen wat Isai gesê het en hy het by die kamp gekom. Die manne was besig om in rye te gaan staan en hulle het geskree dat die oorlog moet begin. Die Israeliete het in rye gaan staan, en die Filistyne het oorkant die Israeliete in rye gaan staan. Dawid het die goed wat hy saamgebring het, gelos by die man wat die goed moes oppas, en hy het na die rye manne toe gehardloop. Toe hy daar kom, het hy vir sy broers gevra hoe dit gaan. Die voorvegter se naam was Goliat. Hy het vorentoe gekom terwyl Dawid besig was om met sy broers te praat. Goliat was 'n Filistyn wat uit die stad Gat gekom het. Hy het weer gespog, soos voorheen, en Dawid het dit gehoor. Al die manne van Israel het teruggestaan toe hulle die man sien. Hulle was baie bang.
1 SAMUEL 17:16-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die Filistyn het smôrens vroeg en saans nader gekom en gaan staan, veertig dae lank. Toe het Ísai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers 'n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe. Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle 'n pand saambring. En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom. En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Ísai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan. Israel sowel as die Filistyne het slagorde teenoor slagorde opgestel. Daarop gee Dawid sy pakgoed af onder bewaring van die oppasser van die pakgoed, en hy hardloop na die vegterrein. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers na die welstand. En terwyl hy met hulle spreek, kom juis die baasvegter — Góliat is sy naam, die Filistyn uit Gat — uit die slagordes van die Filistyne op en spreek daardie selfde woorde, sodat Dawid dit hoor. Maar toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.
1 SAMUEL 17:16-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring. Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor. Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.
1 SAMUEL 17:16-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en 'n bewys van hulle af saambring. ” Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei. Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by 'n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel. Dawid het die pakgoed wat hy gedra het by die oppasser van die pakgoed afgegee en na die gevegslinie gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan. Hy was nog besig om met hulle te praat, toe die baasvegter met die naam Goliat, die Filistyn, uit Gat, juis na vore tree uit die gevegslinies van die Filistyne, en dieselfde woorde sê. Dawid het dit gehoor. Maar al die manne van Israel het, toe hulle die man sien, voor hom padgegee. Hulle was baie bang.
1 SAMUEL 17:16-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die Filistyn het soggens en saans nader gekom en hom veertig dae lank opgedaag. En Isai sê vir sy seun Dawid: Neem tog vir jou broers 'n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en hardloop na die laer na jou broers; En bring hierdie tien kase na die owerste oor hulle duisend, en kyk hoe dit met jou broers gaan, en neem hulle pand. En Saul en hulle en al die manne van Israel was in die dal van Ela en het teen die Filistyne geveg. Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by 'n wagter agtergelaat en geneem en gegaan, soos Isai hom beveel het; en hy het by die sloot gekom terwyl die leër na die geveg uitgetrek het, en vir die geveg uitgeroep. Want Israel en die Filistyne het die geveg opgestel, leër teen leër. Dawid het sy wa in die hand van die wagter oorgelaat en die leër ingehardloop en gekom en sy broers gegroet. En terwyl hy met hulle spreek, kyk, daar het die kampvegter, die Filistyn van Gat, met die naam van Goliat, uit die leërs van die Filistyne opgekom en volgens dieselfde woorde gespreek, en Dawid het hulle gehoor. Toe al die manne van Israel die man sien, het hulle van hom weggevlug en baie bang geword.
1 SAMUEL 17:12-24 Die Boodskap (DB)
Die Filistyn het vir baie dae elke môre en elke aand by die spruit gaan staan en skree. Dawid was die seun van ’n man met die naam Isai, wat in Betlehem-Efrata in Juda gebly het. Isai het agt seuns gehad. In Saul se tyd was hy self al te oud om te veg, maar sy drie oudste seuns is saam met Saul oorlog toe. Die oudste van die seuns was Eliab, die tweede een Abinadab en die derde een Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudste seuns was die hele tyd by Saul se manskappe, maar Dawid het gereeld van die paleis af Betlehem toe gegaan om sy pa se skape te help oppas. Isai sê toe vir Dawid: “Hier’s ’n halfsak gebraaide koring en tien brode vir jou broers. Vat dit gou vir hulle in die kamp. Dié tien kase moet jy vir die leier van hulle groep gee. Hoor hoe dit met jou broers gaan en bring dan ’n bewys saam dat jy by hulle was. Hulle en Saul en al die manskappe van Israel maak daar by Eikelaagte oorlog teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by ’n wagter gelos. Hy het die goed gevat en gegaan soos sy pa vir hom gesê het. Hy het by die kamp gekom net toe die manskappe hulle strydkreet skree en op hulle plekke gaan staan vir die geveg, want die Israeliete en die Filistyne het hulle manskappe laat regstaan om mekaar aan te val. Dawid het die goed wat hy by hom gehad het, by die man gelos wat die bagasie oppas. Hy het na die plek gehardloop waar die manne vir die geveg reggestaan het. Toe hy daar kom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan. Terwyl hy nog met hulle praat, kom die voorvegter van die Filistyne met die naam Goliat, die man uit Gat, vorentoe en skree weer dieselfde woorde sodat Dawid dit hoor. Toe die Israeliete die man sien, was hulle almal doodbang en het teruggestaan.
1 SAMUEL 17:16-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vir 40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig. Op ’n dag sê Isai vir Dawid: “Vat sestien kilogram gebraaide koring en tien brode na jou broers toe in die militêre kamp. Gee hierdie tien stukke kaas vir hulle bevelvoerder. Kyk ’n bietjie hoe dit met jou broers gaan en bring iets saam om te bewys dat dit goed gaan met hulle.” Dawid se broers was manskappe in Saul se leër wat in die laagte by die groot boom teen die Filistyne geveg het. Dawid het vroeg opgestaan, die skape in die sorg van ’n ander herder gelos, die kos geneem en gedoen soos sy pa hom beveel het. Net toe hy daar aankom, het die manskappe met ’n oorlogskreet in gevegsorde uitgetrek waar Israel en die Filistyne teenoor mekaar opgestel was. Dawid het sy bagasie net so in die sorg van ’n oppasser gelos en hom na sy broers in die linie gehaas. Daar verneem hy na hulle welstand. Juis toe kom Goliat, die uithalervegter van Gat, uit die Filistyne se linies na vore. Dawid het sy herhaalde uitdaging gehoor. Toe die Israeliete Goliat hoor, het hulle weggehardloop omdat hulle vir hom bang was.