1 Samuel 17:1-21

1 Samuel 17:1-21 AFR20

Die Filistyne het hulle leër laat saamtrek vir oorlog. Hulle het byeengekom by Sogo, wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan tussen Sogo en Aseka by Efes-Dammim. Saul en die manne van Israel het saamgetrek en kamp opgeslaan in die Ela-vallei. Hulle het die gevegslinies opgestel vir die oorlog teen die Filistyne. Die Filistyne het teen die een heuwel stelling ingeneem, en die Israeliete teen die ander heuwel, met die vallei tussen hulle. Daar tree toe 'n baasvegter uit die kampe van die Filistyne na vore met die naam Goliat, afkomstig uit Gat. Sy lengte was ses el en 'n span. Daar was 'n helm van brons op sy kop, en hy het 'n geskubde harnas aangehad. Die gewig van die harnas was vyfduisend sikkel brons. Daar was bronsplate voor sy skene en 'n kromswaard van brons tussen sy skouers. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam en die lem van sy vegspies was van seshonderd sikkel yster. Iemand wat 'n grootskild dra, het voor hom uit geloop. Hy het gaan staan en vir die gevegslinies van Israel geskreeu. Hy het vir hulle gesê: “Waarom trek julle uit om gevegslinies vir oorlog op te stel? Is ek nie 'n Filistyn, en julle Saul se slawe nie? Kies vir julle 'n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy in staat is om teen my te veg, en hy verslaan my, sal ons julle slawe word; maar as ek oor hom die oorhand kry en hom verslaan, sal julle ons slawe word en moet julle ons dien.” Die Filistyn het gesê: “Ek, ja ek, maak vandag van die gevegslinies van Israel 'n bespotting! Stuur vir my 'n man, sodat ons kan veg!” Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle paniekbevange en baie bang. Dawid was die seun van hierdie man uit Efrata, uit Betlehem in Juda, met die naam Isai. Hy het agt seuns gehad. In Saul se tyd was die man al oud, gevorderd in jare. Die drie oudste seuns van Isai het Saul gevolg na die oorlog. Die name van sy drie seuns wat oorlog toe is, was Eliab die eersgeborene, sy tweede was Abinadab, en die derde was Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Saul gevolg, maar Dawid het telkens van Saul af teruggekeer om sy vader se kleinvee op te pas in Betlehem. Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en 'n bewys van hulle af saambring. ” Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei. Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by 'n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel.