1 SAMUEL 17:1-21

1 SAMUEL 17:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Filistynse troepe het saamgetrek vir oorlog. Hulle het by Soko in Juda bymekaargekom en kamp opgeslaan by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die manskappe van Israel het in die vallei by die groot boom kamp opgeslaan en hulle vir die geveg teen die Filistyne gereedgemaak. Die Filistyne en die Israeliete het op twee heuwels teenoor mekaar stelling ingeneem. Daar was ’n vallei tussen hulle. Goliat, ’n uithalervegter van Gat, het uit die leër van die Filistyne na vore gekom. Hy was drie meter lank. Hy het ’n bronshelm op sy kop gehad en ’n harnas met skubbe. Die gewig van die harnas was 57 kilogram. Sy beenplate was ook van brons, en ’n bronsswaard het tussen sy skouerblaaie gehang. Die steel van sy spies was so dik soos ’n wewer se balk en die ysterlem van die spies het sewe kilogram geweeg. ’n Wapendraer het voor hom uitgeloop en ’n skild gedra. Hy het teenoor die manskappe van Israel gaan staan en geskreeu: “Is dit regtig nodig dat die gevegslinies opgestel moet word? Ek is tog ’n Filistyn en julle is onderdane van Saul. Kies iemand wat ’n tweegeveg met my kan voer. As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees! Ek daag vandag die gevegsmagte van Israel uit! Stuur tog iemand om teen my te veg!” Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang. Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. Die oudste drie, Eliab, Abinadab en Samma, was soldate in Saul se leër. Dawid was die jongste seun, terwyl die drie oudstes reeds in Saul se leër diens gedoen het. Dawid het heen en weer beweeg tussen Saul en sy pa se skape wat hy in Betlehem moes versorg. Vir 40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig. Op ’n dag sê Isai vir Dawid: “Vat sestien kilogram gebraaide koring en tien brode na jou broers toe in die militêre kamp. Gee hierdie tien stukke kaas vir hulle bevelvoerder. Kyk ’n bietjie hoe dit met jou broers gaan en bring iets saam om te bewys dat dit goed gaan met hulle.” Dawid se broers was manskappe in Saul se leër wat in die laagte by die groot boom teen die Filistyne geveg het. Dawid het vroeg opgestaan, die skape in die sorg van ’n ander herder gelos, die kos geneem en gedoen soos sy pa hom beveel het. Net toe hy daar aankom, het die manskappe met ’n oorlogskreet in gevegsorde uitgetrek waar Israel en die Filistyne teenoor mekaar opgestel was.

1 SAMUEL 17:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Die Filistyne het hulle manne laat bymekaarkom om oorlog te maak. Hulle het bymekaargekom by die stad Soko in die land Juda, en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die manne van Israel het ook bymekaargekom. Hulle het hulle tente opgeslaan in die vallei waar die groot boom is, en hulle het in rye gereedgestaan om oorlog te maak teen die Filistyne. Die Filistyne was teen een berg, en die Israeliete was teen 'n ander berg. Daar was 'n klein vallei tussen hulle. 'n Voorvegter het uit die Filistyne se kamp gekom. Sy naam was Goliat en hy het uit die stad Gat gekom. Hy was ses el en 'n span lank. Op sy kop was 'n helm van brons en hy het 'n harnas van brons-plate aangehad. Die harnas het 5 000 sikkels geweeg. Om sy bene was brons-plate, en 'n brons-spies het tussen sy skouers gehang. Die houtsteel van sy spies was so groot soos die balk van 'n weefstoel, en die ysterlem van die spies het 600 sikkels geweeg. Voor hom het 'n man geloop wat sy skild gedra het. Goliat het gaan staan. Hy het vir die Israeliete geskree en hy het gesê: “Hoekom kom staan julle in rye om oorlog te maak? Ek is 'n Filistyn en julle is die mense wat vir Saul werk. Julle moet 'n man kies en julle moet hom na my toe laat kom. As hy teen my kan veg en as hy my wen, dan sal ons julle slawe wees. Maar as ek beter is as hy en as ek hom wen, dan sal julle ons slawe wees en julle sal vir ons werk.” Die Filistyn het gesê: “Ek sê nou vir julle: Julle Israeliete beteken niks. Julle moet vir my 'n man stuur sodat ons teen mekaar kan veg.” Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn sê, en hulle het geskrik en baie bang geword. Dawid was die seun van 'n man uit Efrat, by die stad Betlehem in die land Juda. Die man se naam was Isai, en hy het ag seuns gehad. Isai was al oud toe Saul koning was. Sy drie oudste seuns het saam met Saul gaan oorlog maak. Hulle was Eliab, die oudste seun, en Abinadab en Samma. Dawid was die jongste seun. Sy drie oudste broers het saam met Saul gegaan. Dawid was partymaal by Saul, en partymaal by Betlehem om sy pa se skape en bokke op te pas. Die Filistyn Goliat het 40 dae lank elke oggend en aand nader gekom na Saul en sy manne toe en hy het gereedgestaan om te veg. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Jy moet asseblief hierdie efa gebraaide koring en hierdie tien brode neem en jy moet dit vir jou broers in die kamp bring. En hierdie tien stukke kaas moet jy vir hulle offisier bring. Jy moet kyk hoe dit met jou broers gaan en jy moet iets saambring wat vir my sal wys dat hulle nog lewe.” Saul en die broers van Dawid en die manne van Israel was in die vallei waar die groot boom is. Hulle was daar om oorlog te maak teen die Filistyne. Dawid het vroeg die volgende oggend opgestaan en hy het die skape en bokke by 'n skaapwagter gelos. Hy het toe gegaan en gedoen wat Isai gesê het en hy het by die kamp gekom. Die manne was besig om in rye te gaan staan en hulle het geskree dat die oorlog moet begin. Die Israeliete het in rye gaan staan, en die Filistyne het oorkant die Israeliete in rye gaan staan.

1 SAMUEL 17:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die Filistyne het hulle leër versamel vir die oorlog en bymekaargekom by Sogo wat aan Juda behoort, en laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka in Efes-Dammim. Maar Saul en die manne van Israel het byeengekom en laer opgeslaan in die dal van die terpentynboom en hulle in slagorde teenoor die Filistyne opgestel. En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was. Toe kom daar 'n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en 'n span. Daar was 'n koperhelm op sy hoof, en hy het 'n pantser van skubbe aangehad — die gewig van die pantser was vyfduisend sikkels koper — en skeenplate van koper was aan sy bene en 'n koperlans tussen sy skouers. Die steel van sy spies was soos 'n wewersbalk, en die lem van sy spies was van seshonderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop. En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle 'n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien. Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my 'n man, dat ons saam kan veg. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees. En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Ísai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne. Maar die drie oudste seuns van Ísai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma. Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het. En Dawid het heen en weer gegaan van Saul om die kleinvee van sy vader in Betlehem op te pas. En die Filistyn het smôrens vroeg en saans nader gekom en gaan staan, veertig dae lank. Toe het Ísai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers 'n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe. Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle 'n pand saambring. En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom. En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Ísai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan. Israel sowel as die Filistyne het slagorde teenoor slagorde opgestel.

1 SAMUEL 17:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep. Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka. Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg. Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met 'n smal vallei tussen hulle. Toe kom daar 'n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. Daar was 'n bronshelm op sy kop, en hy het 'n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar 'n bronsswaard. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop. Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.” Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.” Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword. Dawid was die seun van 'n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef. Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan, maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas. Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring. Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem.

1 SAMUEL 17:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Filistyne het hulle leër laat saamtrek vir oorlog. Hulle het byeengekom by Sogo, wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan tussen Sogo en Aseka by Efes-Dammim. Saul en die manne van Israel het saamgetrek en kamp opgeslaan in die Ela-vallei. Hulle het die gevegslinies opgestel vir die oorlog teen die Filistyne. Die Filistyne het teen die een heuwel stelling ingeneem, en die Israeliete teen die ander heuwel, met die vallei tussen hulle. Daar tree toe 'n baasvegter uit die kampe van die Filistyne na vore met die naam Goliat, afkomstig uit Gat. Sy lengte was ses el en 'n span. Daar was 'n helm van brons op sy kop, en hy het 'n geskubde harnas aangehad. Die gewig van die harnas was vyfduisend sikkel brons. Daar was bronsplate voor sy skene en 'n kromswaard van brons tussen sy skouers. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam en die lem van sy vegspies was van seshonderd sikkel yster. Iemand wat 'n grootskild dra, het voor hom uit geloop. Hy het gaan staan en vir die gevegslinies van Israel geskreeu. Hy het vir hulle gesê: “Waarom trek julle uit om gevegslinies vir oorlog op te stel? Is ek nie 'n Filistyn, en julle Saul se slawe nie? Kies vir julle 'n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy in staat is om teen my te veg, en hy verslaan my, sal ons julle slawe word; maar as ek oor hom die oorhand kry en hom verslaan, sal julle ons slawe word en moet julle ons dien.” Die Filistyn het gesê: “Ek, ja ek, maak vandag van die gevegslinies van Israel 'n bespotting! Stuur vir my 'n man, sodat ons kan veg!” Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle paniekbevange en baie bang. Dawid was die seun van hierdie man uit Efrata, uit Betlehem in Juda, met die naam Isai. Hy het agt seuns gehad. In Saul se tyd was die man al oud, gevorderd in jare. Die drie oudste seuns van Isai het Saul gevolg na die oorlog. Die name van sy drie seuns wat oorlog toe is, was Eliab die eersgeborene, sy tweede was Abinadab, en die derde was Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Saul gevolg, maar Dawid het telkens van Saul af teruggekeer om sy vader se kleinvee op te pas in Betlehem. Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en 'n bewys van hulle af saambring. ” Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei. Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by 'n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel.

1 SAMUEL 17:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die Filistyne het hulle leërs bymekaargemaak om te veg, en hulle het bymekaargekom by Sogo wat aan Juda behoort, en hulle het laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka, in Efes-Dammim. En Saul en die manne van Israel het bymekaargekom en laer opgeslaan by die dal van Ela en die geveg opgestel teen die Filistyne. En die Filistyne het aan die een kant op die berg gestaan, en Israel het aan die ander kant op die berg gestaan, en daar was 'n dal tussen hulle. En daar het 'n kampvegter uit die laer van die Filistyne uitgetrek, met die naam van Goliat, van Gat, wie se hoogte ses el en 'n span was. En hy het 'n helm van koper op sy hoof gehad, en hy was gewapen met 'n pantser; en die gewig van die rok was vyf duisend sikkels koper. En hy het koperpanne aan sy bene gehad en 'n koperskyf tussen sy skouers. En die staf van sy spies was soos 'n wewersbalk; en die kop van sy spies het ses honderd sikkels yster geweeg, en een wat 'n skild dra, het voor hom uit gegaan. En hy het gaan staan en die leërs van Israel aangeroep en vir hulle gesê: Waarom het julle uitgetrek om julle geveg op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle dienaars van Saul nie? kies vir jou 'n man, en laat hom na my toe afkom. As hy in staat is om teen my te veg en my dood te maak, dan sal ons julle dienaars wees; maar as ek hom oorwin en hom doodmaak, dan moet julle ons dienaars wees en ons dien. Toe sê die Filistyn: Ek verag die leërs van Israel vandag; gee my 'n man, dat ons saam kan veg. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bang. En Dawid was die seun van daardie Efratiet van Betlehem-Juda, wie se naam Isai was; en hy het agt seuns gehad, en die man het onder die mense gegaan vir 'n ou man in die dae van Saul. En die drie oudste seuns van Isai het gegaan en Saul gevolg in die geveg; en die name van sy drie seuns wat in die geveg uitgetrek het, was Eliab, die eersgeborene, en naas hom Abinadab en die derde Samma. En Dawid was die jongste, en die drie oudstes het Saul gevolg. Maar Dawid het gegaan en van Saul af teruggekeer om sy vader se skape by Betlehem op te pas. En die Filistyn het soggens en saans nader gekom en hom veertig dae lank opgedaag. En Isai sê vir sy seun Dawid: Neem tog vir jou broers 'n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en hardloop na die laer na jou broers; En bring hierdie tien kase na die owerste oor hulle duisend, en kyk hoe dit met jou broers gaan, en neem hulle pand. En Saul en hulle en al die manne van Israel was in die dal van Ela en het teen die Filistyne geveg. Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by 'n wagter agtergelaat en geneem en gegaan, soos Isai hom beveel het; en hy het by die sloot gekom terwyl die leër na die geveg uitgetrek het, en vir die geveg uitgeroep. Want Israel en die Filistyne het die geveg opgestel, leër teen leër.

1 SAMUEL 17:1-21 Die Boodskap (DB)

Die Filistyne het hulle soldate bymekaargemaak vir oorlog en by Soko wat in Juda is, saamgekom. Hulle kamp was by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die Israeliete het ook bymekaargekom. Hulle kamp was by Eikelaagte. Hulle het gereedgemaak om teen die Filistyne te veg. Die Filistyne en die Israeliete het kamp opgeslaan op twee bulte weerskante van ’n spruit. Daar kom toe ’n voorvegter uit die kamp van die Filistyne. Sy naam was Goliat. Hy het uit die dorp Gat gekom en hy was amper drie meter lank. Die man het ’n brons helm op sy kop gehad en ’n veghemp met brons skubbe aangehad. Die veghemp het 57 kilogram geweeg. Hy het brons beenskutte gedra en daar het ’n brons kromswaard tussen sy skouers gehang. Die handvatsel van sy spies het gelyk soos die balk waaraan mense wat weef, hulle wol hang, en die spies se ysterpunt het omtrent ses kilogram geweeg. ’n Man wat ’n groot skild dra, het voor hom geloop. Goliat het by die spruit gaan staan en vir die manne van Israel geskree: “Hoekom maak julle reg om teen die Filistyne te veg? Ék is ’n Filistyn en julle is ’n klomp slawe van Saul! Kies iemand en laat hom hier onder na my toe kom! As hy kans sien om teen my te veg en my wen, sal ons julle slawe wees! As ek vir hóm kans sien en hom wen, moet julle óns slawe wees en vir ons werk!” Hy skree toe ook nog: “Ek spot al die hele dag met die soldaatjies van die Israeliete! Stuur tog nou iemand om teen my te kom veg!” Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn vir hulle skree. Hulle het hulle koud geskrik en was doodbang. Die Filistyn het vir baie dae elke môre en elke aand by die spruit gaan staan en skree. Dawid was die seun van ’n man met die naam Isai, wat in Betlehem-Efrata in Juda gebly het. Isai het agt seuns gehad. In Saul se tyd was hy self al te oud om te veg, maar sy drie oudste seuns is saam met Saul oorlog toe. Die oudste van die seuns was Eliab, die tweede een Abinadab en die derde een Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudste seuns was die hele tyd by Saul se manskappe, maar Dawid het gereeld van die paleis af Betlehem toe gegaan om sy pa se skape te help oppas. Isai sê toe vir Dawid: “Hier’s ’n halfsak gebraaide koring en tien brode vir jou broers. Vat dit gou vir hulle in die kamp. Dié tien kase moet jy vir die leier van hulle groep gee. Hoor hoe dit met jou broers gaan en bring dan ’n bewys saam dat jy by hulle was. Hulle en Saul en al die manskappe van Israel maak daar by Eikelaagte oorlog teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by ’n wagter gelos. Hy het die goed gevat en gegaan soos sy pa vir hom gesê het. Hy het by die kamp gekom net toe die manskappe hulle strydkreet skree en op hulle plekke gaan staan vir die geveg, want die Israeliete en die Filistyne het hulle manskappe laat regstaan om mekaar aan te val.

1 SAMUEL 17:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Filistynse troepe het saamgetrek vir oorlog. Hulle het by Soko in Juda bymekaargekom en kamp opgeslaan by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die manskappe van Israel het in die vallei by die groot boom kamp opgeslaan en hulle vir die geveg teen die Filistyne gereedgemaak. Die Filistyne en die Israeliete het op twee heuwels teenoor mekaar stelling ingeneem. Daar was ’n vallei tussen hulle. Goliat, ’n uithalervegter van Gat, het uit die leër van die Filistyne na vore gekom. Hy was drie meter lank. Hy het ’n bronshelm op sy kop gehad en ’n harnas met skubbe. Die gewig van die harnas was 57 kilogram. Sy beenplate was ook van brons, en ’n bronsswaard het tussen sy skouerblaaie gehang. Die steel van sy spies was so dik soos ’n wewer se balk en die ysterlem van die spies het sewe kilogram geweeg. ’n Wapendraer het voor hom uitgeloop en ’n skild gedra. Hy het teenoor die manskappe van Israel gaan staan en geskreeu: “Is dit regtig nodig dat die gevegslinies opgestel moet word? Ek is tog ’n Filistyn en julle is onderdane van Saul. Kies iemand wat ’n tweegeveg met my kan voer. As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees! Ek daag vandag die gevegsmagte van Israel uit! Stuur tog iemand om teen my te veg!” Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang. Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. Die oudste drie, Eliab, Abinadab en Samma, was soldate in Saul se leër. Dawid was die jongste seun, terwyl die drie oudstes reeds in Saul se leër diens gedoen het. Dawid het heen en weer beweeg tussen Saul en sy pa se skape wat hy in Betlehem moes versorg. Vir 40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig. Op ’n dag sê Isai vir Dawid: “Vat sestien kilogram gebraaide koring en tien brode na jou broers toe in die militêre kamp. Gee hierdie tien stukke kaas vir hulle bevelvoerder. Kyk ’n bietjie hoe dit met jou broers gaan en bring iets saam om te bewys dat dit goed gaan met hulle.” Dawid se broers was manskappe in Saul se leër wat in die laagte by die groot boom teen die Filistyne geveg het. Dawid het vroeg opgestaan, die skape in die sorg van ’n ander herder gelos, die kos geneem en gedoen soos sy pa hom beveel het. Net toe hy daar aankom, het die manskappe met ’n oorlogskreet in gevegsorde uitgetrek waar Israel en die Filistyne teenoor mekaar opgestel was.