1 Petrus 4:1-19

1 Petrus 4:1-19 AFR20

Omdat •Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge – hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel. Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef. Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde 'n menigte sondes bedek”. Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. •Amen. Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer 'n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van •Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; as iemand egter ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam. Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? Want: “As die •regverdige beswaarlik verlos word, wat sal van die goddelose en sondaar word?” Dus moet ook hulle wat, in ooreenstemming met die wil van God, ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Petrus 4:1-19