1 PETRUS 4:1-19

1 PETRUS 4:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Julle weet dat Christus baie swaar gekry het toe Hy 'n mens op die aarde was. Julle moet dit onthou sodat julle geloof sterk kan wees, want julle weet dat 'n mens wat swaargekry het, nie meer sonde wil doen nie. Ja, julle geloof moet sterk wees, sodat julle nie verkeerde dinge sal doen terwyl julle nog lewe nie. Julle moenie die dinge doen wat mense baie graag wil doen nie, julle moet doen wat God wil hê mense moet doen. Want voorheen het julle lank die dinge gedoen wat die heidene doen. Julle het alles gedoen wat julle wil, julle wou slegte dinge doen, julle het gedrink totdat julle dronk was, julle het wilde partytjies gehou en baie gedrink, en julle het afgode aanbid. Dit was baie slegte dinge wat julle gedoen het. Daarom is die heidene verbaas dat julle nie meer saam met hulle wild en verkeerd wil lewe nie en hulle sê slegte dinge van julle. Die heidene sal vir God moet antwoord oor wat hulle gedoen het, en God is gereed om die mense te oordeel wat nog lewe en ook die mense wat klaar gesterf het. Want dit is hoekom die mense wat klaar gesterf het, ook die goeie boodskap gehoor het terwyl hulle gelewe het. Mense het hulle hier op aarde ge-oordeel en doodgemaak, maar die Heilige Gees laat hulle lewe soos God wil hê. Dit sal nie meer lank wees nie, dan sal al die dinge wat nou gebeur, ophou om te gebeur. Daarom moet julle verstandig wees en goed dink wat julle doen, sodat julle kan bid soos 'n mens moet bid. Die belangrikste van alles is dat julle baie lief moet wees vir mekaar, want die liefde maak baie sondes toe. Julle moet goed wees vir mekaar soos 'n mens goed is vir vreemdelinge, julle moenie daaroor kla nie. God het genadegawes gegee vir elkeen van julle en Hy is baie goed vir julle op verskillende maniere. Julle is God se bestuurders, en daarom moet julle mekaar dien, julle moet die genadegawes gebruik wat Hy vir julle gegee het. Wanneer iemand in die gemeente praat, dan moet dit wees soos wanneer God self met mense praat. Wanneer iemand die ander gelowiges dien, dan moet hy dien met die krag wat God vir hom gee. Jesus Christus laat hierdie mense dit doen sodat mense vir God kan prys. Ons prys God wat baie sterk is, ons prys Hom vir altyd en altyd. Amen. Liewe vriende, julle moenie verbaas wees wanneer julle baie swaar kry nie. Hierdie dinge toets julle en wil julle laat ophou om God te dien. Julle weet dat dit iets is wat kan gebeur. Julle kry swaar soos Christus swaargekry het, en julle moet bly wees. Dan sal julle nog baie meer bly kan wees op die dag wanneer almal sal sien dat Christus die Koning is. Wanneer ander mense vir julle beledig omdat julle aan Christus behoort, dan is julle gelukkige mense, want dan sal die Gees van Christus wat die Koning is, die Gees van God, by julle bly. Want niemand van julle moet swaarkry omdat hy 'n moordenaar is, of omdat hy 'n dief is, of omdat hy iemand is wat slegte dinge doen, of omdat hy nuuskierig is en praat oor ander mense nie. Maar as iemand swaarkry omdat hy in Christus glo, dan moet hy nie skaam wees nie. Nee, hy moet God prys omdat hy aan Christus behoort. God sal nou gou begin om mense te oordeel en Hy sal eerste begin oordeel by ons, ons wat die tempel van God is. Maar as God by óns begin om mense te oordeel, wat sal dan gebeur met die mense wat nie wou luister na die goeie boodskap wat van God kom nie? God sal hulle swaarder straf! Dit is nie maklik om iemand te red wat reg lewe nie, maar dit is baie moeiliker om mense te red wat nie vir God dien nie, mense wat sondaars is. Dit alles beteken: Daar is mense wat swaarkry omdat God dit besluit het, maar hulle moet aanhou om goeie dinge te doen en hulle moet hulleself vir God gee. Dit is Gód wat vir ons gemaak het, en ons kan Hom vertrou.

1 PETRUS 4:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

OMDAT Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God. Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster. Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel. Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees. En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid. Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek. Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer. Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen. Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van 'n ander bemoei nie. Maar wanneer iemand as 'n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.

1 PETRUS 4:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God. In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle. Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe. Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy 'n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen. Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is 'n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly. As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy 'n moordenaar is of 'n dief of 'n misdadiger of 'n kwaadstoker nie. Maar wanneer iemand ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? “As 'n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van 'n goddelose en 'n sondaar?” Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.

1 PETRUS 4:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Omdat •Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge – hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel. Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef. Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde 'n menigte sondes bedek”. Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. •Amen. Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer 'n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van •Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; as iemand egter ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam. Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? Want: “As die •regverdige beswaarlik verlos word, wat sal van die goddelose en sondaar word?” Dus moet ook hulle wat, in ooreenstemming met die wil van God, ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.

1 PETRUS 4:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Aangesien Christus dan vir ons in die vlees gely het, wapen julle ook met dieselfde gesindheid; dat hy nie meer die res van sy tyd in die vlees na die begeerlikhede van mense moet lewe nie, maar na die wil van God. Want die afgelope tyd van ons lewe kan ons genoeg wees om die wil van die heidene te bewerk, toe ons gewandel het in ongebondenheid, begeerlikhede, oormatige wyn, feesvieringe, maaltye en afskuwelike afgodediens. Waarin hulle dit vreemd dink dat julle nie saam met hulle hardloop tot dieselfde oproerigheid en kwaad van julle praat nie. Wie sal rekenskap gee aan hom wat gereed is om die lewendes en die dooies te oordeel. Want daarom is die evangelie ook aan die dode verkondig, sodat hulle na die mense in die vlees geoordeel kan word, maar na God in die gees lewe. Maar die einde van alle dinge is naby; wees dan nugter en waak tot gebed. En bo alles moet julle vurige liefde onder julle hê, want liefde sal die menigte van sondes bedek. Gebruik gasvryheid teenoor mekaar sonder om te worstel. Soos elke mens die gawe ontvang het, so dien mekaar ook as goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat hom spreek soos woorde van God; as iemand dien, laat hom dit doen na die vermoë wat God gee, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die lof en die krag toekom tot in alle ewigheid. Amen. Geliefdes, dink dit is nie vreemd aangaande die vurige beproewing wat julle op die proef gaan stel nie, asof iets vreemds met julle gebeur het. Maar wees bly in soverre julle deel het aan die lyde van Christus; sodat, wanneer sy heerlikheid geopenbaar word, julle ook met groot blydskap kan bly wees. As julle oor die Naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig; want die Gees van heerlikheid en van God rus op julle; Maar laat niemand van julle ly as 'n moordenaar of as 'n dief of as 'n kwaaddoener of as 'n besige persoon in ander se sake nie. Maar as iemand as Christen ly, laat hom hom nie skaam nie; maar laat hy God hieromtrent verheerlik. Want die tyd het gekom dat die oordeel moet begin by die huis van God; en as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? Daarom moet die wat ly volgens die wil van God, die bewaring van hulle siele aan Hom toevertrou deur goed te doen, as aan 'n getroue Skepper.

1 PETRUS 4:1-19 Die Boodskap (DB)

Jesus het as mens hier op aarde ook baie gely. As julle swaarkry, moet julle net soos Hy maak. Sy voorbeeld moet julle sterk maak. Iemand wat so swaarkry as mens, hou hom nie meer met die sonde op nie. Sy ingesteldheid in die lewe is anders. Hy hardloop nie die hele tyd agter sy eie neus aan en doen net wat vir hom as mens lekker is nie. Nee, al wat ’n Christen graag die res van sy lewe wil doen, is dit wat God - en nie mense nie - gelukkig sal maak. Kyk net hoe ’n groot deel van julle lewe het julle reeds gemors deur julle op te hou met die dinge van die mense wat God nie ken nie. Ek praat nou van daardie tyd toe julle alle ordentlikheid en reëls oorboord gegooi en net gedoen het waarvoor julle lus was. Julle het julle papdronk gedrink en wilde sekspartytjies gehou. Wat ’n afskuwelike, afgodiese lewe is dit nie! Die mense wat so sonder God leef, vra waarom julle skielik nie meer die lelike dinge saam met hulle geniet nie. Hulle praat baie lelik van julle en sleep julle naam deur die modder. Maar moenie moedeloos word nie. Hierdie mense sal eendag voor God moet gaan staan. Hy sal besluit wat met hulle sal gebeur. Dit maak nie saak of iemand nog leef en of hy al dood is wanneer God kom oordeel nie, almal sal voor God moet staan. Dit is waarom die boodskap van Jesus se oorwinning ook gebring is aan die mense wat reeds dood is. Hulle het wel liggaamlik doodgegaan (wat eintlik ons almal se straf op die sonde is), maar hulle gees sal die lewe kry wat God vir hulle sal gee. Dit is nou nie meer lank voor die wêreld soos ons dit ken tot ’n einde gaan kom nie. Onthou dit elke oomblik en dink daaroor na. Sorg dat julle weet wat aangaan sodat julle sinvol met God kan praat in gebed. Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor te kere nie. As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het, help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom. God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help. Soos iemand wat in ’n huis aangestel is om ander te bedien, moet julle in God se geestelike huis al die wonderlike gawes onder mekaar uitdeel wat Hy vir ons gegee het sonder dat ons dit eintlik verdien. Byvoorbeeld, as een van julle preek, moet dit wees asof God deur hom praat. As iemand ’n ander persoon help wat hulp nodig het, moet hy dit doen uit die krag wat God hom sal gee. Op dié manier sal almal God se grootheid kan sien en sal Hy die eer vir alles kry, omdat Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om al hierdie dinge te doen. Almal sal Hom erken as die Een wat in alles groot en sterk is, nie net vandag nie, maar vir ewig en altyd. Daarvan kan julle seker wees. My liewe vriende, as dit so swaar met julle gaan dat julle dit byna nie meer kan hou nie, moenie sommer daaruit aflei dat julle godsdiens daarmee heen is nie. Christene moet ook swaarkry. Dink maar aan Jesus. Hy het baie swaargekry. Julle moet eerder bly en opgewonde wees dat julle soos Hy is, al is dit ook dat julle soos Hy kan swaarkry omdat julle Christene is. Dink net hoe bly julle gaan wees wanneer Hy weer kom en almal dan sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. As mense lelik met julle praat omdat julle Jesus s’n is, moet julle bly wees. Dit is vir julle ’n bewys dat God se Gees, wat groot en belangrik is, in julle lewe aan die werk is en dat mense dit raaksien. Dit is egter heeltemal ’n ander saak as julle in die moeilikheid kom omdat julle iemand doodgemaak of ’n ander se goed gesteel het, sommer afstootlik opgetree of net skoor gesoek het. As mense julle egter treiter omdat julle Christene is, hoef julle nie een oomblik skaam te voel nie. Sê eerder vir God dankie en maak sy Naam groot omdat julle Christene genoem mag word. Dit is nou die tyd vir God om soos ’n regter te sê wat Hy van elkeen dink. Hy gaan begin met die gelowiges wat sy kinders is. As selfs ons voor God moet gaan staan soos voor ’n regter in die hof, hoe vreesaanjaend en verskriklik sal dit nie vir dié mense wees wat hulle hele lewe lank die rug vir God en sy goeie boodskap gedraai het nie. As die mense wat volgens God se wil geleef het beswaarlik gered word, wat wag dan nie op die mense wat God misken en sleg geleef het nie? As ’n mens al dié dinge in gedagte hou, moet die mense wat swaarkry omdat dit deel van God se plan met hulle is, Hom heeltemal vertrou met wat in hulle lewe gebeur. God het hulle immers gemaak en sal hulle nie in die steek laat nie. Hulle moet net op die regte pad bly deur goed te doen.

1 PETRUS 4:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julleself met dieselfde gedagte bewapen, en self bereid wees om liggaamlik te ly. As julle bereid is om liggaamlik te ly, het julle met die sonde afgereken. Sodat julle, so lank as wat julle nog ’n aardse liggaam het, nie meer aan julle natuurlike neigings vrye teuels gee nie, maar sal leef soos God dit wil hê. In die verlede het julle lank genoeg soos nie-Christene geleef. Julle het vrye teuels gegee aan losbandigheid en natuurlike neigings, julle het wilde en uitspattige dronkpartytjies gehou en afskuwelike afgodery bedryf. Natuurlik vind nie-Christene dit vreemd dat julle nie meer met hierdie stroom losbandigheid saamgaan nie, en praat hulle sleg van julle. Hulle sal egter verantwoording moet doen aan Hom wat klaarstaan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. Dis juis hoekom die Goeie Nuus aan die dooies verkondig is toe hulle nog gelewe het. Hulle kon toe besef dat hulle volgens God se geestelike maatstawwe kan lewe, hoewel hulle volgens aardse, menslike maatstawwe veroordeel was om die fisiese dood te sterf. Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees; dan sal julle kan bid. Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe. Tweedens: Ontvang mekaar in julle huise sonder om te kla. Derdens: God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei. Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word deur dit wat Jesus Christus moontlik gemaak het. Aan Hom behoort alle heerlikheid en krag tot in alle ewigheid! Amen. Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef wat oor julle kom nie. Dis nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Dit moet julle liewer bly maak, want só deel julle in die lyding van Christus. Later sal julle wonderlike vreugde ervaar wanneer sy heerlikheid bekendgemaak word en julle daarin deel. Beskou julleself gelukkig wanneer julle beledig word omdat julle Christene is. Dit is ’n bewys dat die Gees wat heerlikheid bewerk, die Gees van God, in julle bly. As een van julle swaarkry, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. As jy egter swaarkry omdat jy ’n Christen is, is dit geen skande nie. Inteendeel, prys God vir die voorreg om hierdie Naam te dra! Die tyd vir die oordeel het inderdaad aangebreek, en dit begin by die huisgesin van God. As selfs ons Christene geoordeel word en dit is nog maar die begin, hoe verskriklik sal dit nie uiteindelik gaan met dié wat God se Goeie Nuus nie wou aanvaar nie? En: “As iemand wat reg lewe voor God met moeite verlos word, hoe sal dit dan gaan met ’n goddelose en ’n sondaar?” As julle dus ly omdat julle doen wat God wil hê, moet julle aanhou goeddoen en julle lewe oorlaat aan God wat julle gemaak het. Hy sal julle nooit in die steek laat nie.