1 Petrus 2:11-24

1 Petrus 2:11-24 AFR20

Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het. Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer. Huisbediendes, wees met groot ontsag aan julle werkgewers onderdanig, nie net aan die goeies en vriendelikes nie, maar ook aan die onredelikes. Dit is immers genade as iemand, omdat hy met God rekening hou, onregverdig lyding verduur. Want watter aanprysing is daar vir julle wanneer julle oortree, lyfstraf ontvang, en nogtans daarmee volhard? Maar as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God. Julle is immers hiertoe geroep, want •Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle 'n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy wat “nie sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”; wat, toe Hy uitgeskel is, nie teruggeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar Homself toevertrou het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir •geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding julle genees is.