1 PETRUS 2:11-24
1 PETRUS 2:11-24 Bybel vir almal (ABA)
Liewe vriende, julle is soos mense wat vreemdelinge is en wat nie in hulle eie huise woon nie. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moenie die slegte dinge wil doen wat mense graag doen nie, want daardie slegte dinge verwoes 'n mens se lewe. Julle moet goeie dinge doen terwyl julle tussen die heidene lewe. Wanneer die heidene slegte dinge sê van julle, en hulle sê julle doen verkeerd, dan moet hulle kan sien dat julle goeie dinge doen. Dan sal hulle vir God prys op die dag wanneer Hy sal kom om almal te red wat glo. Die Here wil hê dat julle gehoorsaam moet wees aan almal wat oor julle regeer. Julle moet gehoorsaam wees aan die keiser wat oor julle regeer. Julle moet ook gehoorsaam wees aan die goewerneurs, want die keiser het hulle gestuur om die mense te straf wat slegte dinge doen en om die mense te prys wat goeie dinge doen. Julle moet gehoorsaam wees, want God wil hê dat die onverstandige mense moet stilbly wanneer hulle sien dat julle goeie dinge doen. Die onverstandige mense weet nie wat God wil hê nie. Julle is vry mense, maar julle moenie dink dat julle slegte dinge mag doen omdat julle vry is nie. Nee, julle is vry mense, maar julle is ook dienaars van God. Julle moet al die mense eer, julle moet lief wees vir die mense wat in die Here glo, julle moet God eer en dien, julle moet die keiser eer. Julle wat slawe is wat in die huise moet werk, julle moet gehoorsaam wees aan julle eienaars en julle moet hulle altyd respekteer. Julle moenie gehoorsaam wees net aan die goeie en vriendelike eienaars nie, julle moet ook gehoorsaam wees aan die eienaars wat slegte dinge doen aan julle. Want God is baie goed vir julle as julle niks verkeerd gedoen het nie en julle kry baie swaar en julle is tevrede omdat julle dink aan wat God wil hê julle moet doen. Want as julle geduldig is wanneer mense julle slaan omdat julle sonde doen, dan sal die mense julle nie prys nie, dit is seker. Maar as julle geduldig is wanneer julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, dan sal God goed wees vir julle. God het vir julle gekies om goeie dinge te doen en om swaar te kry, want Christus het ook swaargekry vir julle. So het Hy vir julle 'n voorbeeld gegee sodat julle Hom kan volg. Hy het nie sonde gedoen nie, en Hy het niemand bedrieg nie. Toe mense vir Christus beledig het, het Hy nie ook vir hulle beledig nie. Toe mense vir Hom laat swaarkry het, het Hy nie gesê dat Hy ook vir hulle sal laat swaarkry nie. Hy het hulle gelos sodat God reg kan oordeel oor hulle. Toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy die straf vir ons sondes gedra, sodat ons glad nie meer sondes sal doen nie, maar sodat ons kan lewe om te doen wat God wil hê. Hy het seergekry sodat julle gesond kan wees.
1 PETRUS 2:11-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
GELIEFDES, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as 'n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer. DIENSKNEGTE, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.
1 PETRUS 2:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening. Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser. Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie.” Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel. Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.
1 PETRUS 2:11-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het. Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer. Huisbediendes, wees met groot ontsag aan julle werkgewers onderdanig, nie net aan die goeies en vriendelikes nie, maar ook aan die onredelikes. Dit is immers genade as iemand, omdat hy met God rekening hou, onregverdig lyding verduur. Want watter aanprysing is daar vir julle wanneer julle oortree, lyfstraf ontvang, en nogtans daarmee volhard? Maar as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God. Julle is immers hiertoe geroep, want •Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle 'n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy wat “nie sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”; wat, toe Hy uitgeskel is, nie teruggeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar Homself toevertrou het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir •geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding julle genees is.
1 PETRUS 2:11-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geliefdes, ek smeek julle as vreemdelinge en pelgrims: onthou julle van vleeslike begeerlikhede wat teen die siel oorlog voer; Hou julle wandel eerlik onder die heidene, sodat, terwyl hulle teen julle praat as kwaaddoeners, hulle deur julle goeie werke wat hulle sal aanskou, God kan verheerlik op die dag van besoeking. Onderwerp julle aan elke mensverordening ter wille van die Here, of dit nou aan die koning is, as opperste; Of aan goewerneurs, soos aan die wat deur hom gestuur is ter straf van kwaaddoeners en tot lof van die wat goed doen. Want so is die wil van God, dat julle deur goed te doen die onkunde van dwase mense tot swye kan bring. As vrymense en nie julle vryheid as 'n dekmantel van kwaadwilligheid gebruik nie, maar as dienaars van God. Eer alle mense. Hou van die broederskap. Vrees God. Eer die koning. Diensknegte, wees onderdanig aan julle here met alle vrees; nie net vir die goeie en saggeaarde nie, maar ook vir die verkeerde. Want dit is dankbaar as iemand vir die gewete van God droefheid verdra en onregmatig ly. Want watter heerlikheid is dit as julle dit geduldig sal opneem wanneer julle geslaan word oor julle misdade? maar as julle, wanneer julle goed doen en daarvoor ly, dit geduldig opneem, is dit by God welgevallig. Want ook hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir ons gely het en vir ons 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan volg. Wat geen sonde gedoen het nie, en geen bedrog is in sy mond gevind nie; wat, toe hy uitgeskel is, nie weer uitgeskel het nie; toe hy gely het, het hy nie gedreig nie; maar hom toevertrou aan hom wat regverdig oordeel. Wat self ons sondes in sy liggaam aan die boom gedra het, sodat ons, wat vir die sondes dood is, kan lewe vir die geregtigheid; deur wie se wonde julle genees is.
1 PETRUS 2:11-24 Die Boodskap (DB)
My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is. Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie. Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie. God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie. Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God as die groot en magtige Heerser, maar respekteer ook die leier van julle aardse regering. Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is. Wat regtig saak maak, is dat julle liewer maar hierdie onbillike optrede van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die skande gesteek word nie. As julle onder straf deurloop omdat julle verbrou het, het julle dit mos verdien. As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans gestraf word, lyk die prentjie anders. As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees. As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ’n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo. Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur. Jesus het aan die kruis gesterf. Dit het Hy gedoen om die skuld uit die weg te ruim wat julle voor God opgegaar het deur al die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Hy wil egter graag hê dat julle reg sal leef soos God van julle verwag en dat julle nie verkeerde dinge sal doen nie. Om dit so te stel: omdat Jesus vir julle gely het, hoef julle nie self vir julle sonde voor God te betaal nie. Nee, julle hoef slegs voluit vir God te leef.
1 PETRUS 2:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra. Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen. Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak. Dis waar: Julle is nie slawe nie; julle ís vry mense. Maar moenie julle vryheid as dekmantel misbruik om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God se diensknegte te wees. Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning. Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore. Hy het nooit sonde gedoen en geen leuen vertel nie. Toe Hy beledig is, het Hy nie terugbeledig nie; toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie. Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel. Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý wonde is julle genees!