1 Petrus 1:6-13

1 Petrus 1:6-13 AFR20

Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir 'n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – 'n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele. Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan hulle is geopenbaar dat hulle, wat hierdie dinge betref, nie besig was om hulleself nie, maar júlle, te bedien. Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het, deur die Heilige Gees, wat van die hemel gestuur is. Selfs engele begeer om insig hierin te verkry. Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word.

Video vir 1 Petrus 1:6-13