1 Petrus 1:13-25

1 Petrus 1:13-25 AFR20

Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word. As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.” En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos 'n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God. Want: Elke mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is.