1 PETRUS 1:13-25

1 PETRUS 1:13-25 Bybel vir almal (ABA)

Daarom moet julle gereed wees, julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wag en heeltemal seker wees dat God genadig sal wees vir julle op die dag wanneer Jesus Christus kom. Julle moet lewe soos kinders wat gehoorsaam is, julle moenie lewe soos julle voorheen gelewe het nie. In daardie tyd het julle nog nie die goeie boodskap van God geken nie, en toe wou julle graag slegte dinge doen. Nee, God het julle gekies om sy volk te wees en Hy is heilig. Daarom moet julle heeltemal lewe soos mense wat aan God behoort. Julle moet so lewe omdat daar in die Ou Testament geskryf is: “ Julle moet julleself aan My wy, want Ek is heilig.” Julle bid tot God en julle noem Hom julle Vader. Hy dink nie dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie en daarom sal Hy elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Daarom moet julle vir God respekteer terwyl julle soos vreemdelinge in die wêreld is. Julle weet dat Christus julle vrygemaak het van die slegte lewe wat niks beteken nie, julle het by julle voorvaders geleer om so te lewe. Christus het julle vrygemaak, maar Hy het julle nie gekoop met silwer of goud nie. Dit is dinge wat kan ophou om iets te beteken. Nee, Christus het julle vrygemaak met iets wat baie beter is, Hy het julle vrygemaak toe Hy gesterf het. Hy het gesterf soos 'n lam wat 'n offer was, 'n lam wat heeltemal gesond en perfek was. God het vir Christus gekies om dit te doen voordat God die wêreld gemaak het. Nou is dit die einde van die tyd, God het Christus vir julle gestuur. Julle glo in God omdat julle aan Christus behoort. Christus was dood, maar God het Hom weer laat lewe en God het Hom Koning gemaak. Daarom glo julle in God, julle weet en julle is seker dat Hy julle sal red. Julle was gehoorsaam aan die waarheid en so het julle julleself gereinig, nou kan julle waarlik lief wees vir mekaar. Daarom moet julle baie lief wees vir mekaar, julle moenie vals wees en ophou om lief te wees vir mekaar nie. God het 'n nuwe lewe vir julle gegee, maar dit was nie soos wanneer 'n kind gebore word uit ouers wat kan sterf nie. Nee, God het vir julle hierdie nuwe lewe gegee toe Hy met julle gepraat het, God wat lewe en wat altyd daar is. Want in die Ou Testament is geskryf: Al die mense is soos gras. Hulle is miskien mooi en goed, maar hulle is soos die veldblomme. Gras word droog, en blomme val af, maar wat die Here sê, sal nooit verander nie.

1 PETRUS 1:13-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROM, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees. As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

1 PETRUS 1:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God. Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.”

1 PETRUS 1:13-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word. As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.” En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap. Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van •Christus – Hy wat soos 'n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. Omdat julle julle innerlike, in gehoorsaamheid aan die waarheid, tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar innig met rein harte liefhê. Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God. Want: Elke mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom: die gras verdroog en die blom val af; maar die woord van die Here bly tot in ewigheid – en dit is die evangeliewoord wat aan julle verkondig is.

1 PETRUS 1:13-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom, omgord die lendene van julle gemoed, wees nugter en hoop tot die einde toe op die genade wat julle gebring sal word by die openbaring van Jesus Christus; Moet julle as gehoorsame kinders nie in julle onkunde volgens die vroeëre begeerlikhede vorm nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, so moet julle ook in alle lewenswandel heilig wees; Want daar is geskrywe: Wees heilig; want Ek is heilig. En as julle die Vader aanroep, wat sonder aansien van persoon oordeel volgens elkeen se werk, bring die tyd van julle verblyf hier in vrees deur: Aangesien julle weet dat julle nie met verganklike dinge, soos silwer en goud, losgekoop is uit julle ydele wandel wat deur oorlewering van julle vaders ontvang is nie; Maar met die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos: wat wel voor die grondlegging van die wêreld vooraf verordineer is, maar in hierdie laaste tye vir julle geopenbaar is, wat deur Hom in God glo wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het; sodat jou geloof en hoop op God kan wees. Aangesien julle julle siele gereinig het in gehoorsaamheid aan die waarheid deur die Gees tot ongeveinsde liefde vir die broeders, sorg dat julle mekaar vurig liefhet met 'n rein hart. Wedergebore word, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die woord van God wat lewe en tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van gras. Die gras verdor, en sy blom val weg; Maar die woord van die Here is tot in ewigheid. En dit is die woord wat deur die evangelie aan julle verkondig word.

1 PETRUS 1:13-25 Die Boodskap (DB)

Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra. Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie. Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg. Die Skrif sê: “Julle moet niks met die sonde te doen hê nie, want God het niks daarmee te doen nie.” Julle ken mos julle Vader met wie julle so in gebed praat. Hy trek niemand voor nie. Wat vir Hom saak maak, is of iemand vir Hom leef of nie. Laat julle hele lewe dus vertel van die respek wat julle vir God het. Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie! God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie. Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer. Julle kan op God vertrou, omdat julle gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy het Jesus uit die dood opgewek en aan Hom eer en baie hoë status gegee. Net God kan dit doen. Julle kan God dus vertrou. Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers in die toekoms ook met julle sal doen. Julle moet lojaal wees teenoor mekaar en mekaar help waar julle ook al kan. Julle luister nou nie meer na verkeerde dinge nie. Julle lewe nou mos graag soos God van julle verwag en volgens wat vir Hom reg is. Hy verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees. Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie, maar moet opreg wees. God self het julle mos sy kinders gemaak. Toe julle sy boodskap gehoor het, het julle die nuwe lewe saam met God leer ken, ’n lewe wat nooit sal ophou nie. Dit is vir ewig waar. Die Skrif sê nie verniet nie: “Elke mens is slegs soos ’n grashalmpie. Dit is met mense nie anders as met ’n blom in die veld nie. Die grashalmpie verdroog maklik en die blom se blaartjies val na ’n rukkie nutteloos op die grond. Dit is so tydelik. Maar die Woord van die Here sal altyd waar bly.” Hierdie “Woord” is die goeie boodskap oor Jesus wat julle gehoor het.

1 PETRUS 1:13-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe. Wees gehoorsaam aan God, want julle is sy kinders. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Julle het destyds nie van beter geweet nie. Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees. Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!” En onthou dat die Vader tot wie julle bid, niemand voortrek wanneer Hy beoordeel nie. Hy beoordeel elke mens volgens sy dade. Daarom moet julle julle eerbied vir Hom wys met julle leefstyl, al is julle uitlanders. Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie. Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. God het Hom lank voor die skepping al hiervoor bestem. God het Hom egter eers in hierdie eindtyd vir almal sigbaar gemaak. En Hy het dit vir júlle gedoen. Christus maak dat julle al julle vertroue op God stel. God het Christus uit die dood opgewek en heerlikheid aan Hom gegee. Daarom stel julle al julle vertroue en hoop op God. Julle is van julle sondes gereinig toe julle die waarheid van die Goeie Nuus aanvaar het. Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê. Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning. God het immers die proses begin waardeur julle weergebore is. Hierdie weergeboorte is nie deur julle aardse ouers bewerk nie, want die lewe wat hulle julle gegee het, loop op die dood uit. Die nuwe lewe wat God gegee het, is vir ewig, want dit kom van die ewige en lewende woord van God. Soos die profeet sê: “Elke liggaam is soos gras; al sy skoonheid is soos ’n veldblom. Die gras verskroei, en die blom verlep. Maar die woord van die Here hou vir ewig.” En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.