1 Konings 8:1-5

1 Konings 8:1-5 AFR20

Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem by hom byeen laat kom om met die •verbondsark van die HERE vanuit die Stad van Dawid, dit is Sion, op te trek. Al die manne van Israel het toe by koning Salomo byeengekom in die feestyd, in die maand Etaním, dit is die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. Hulle het die ark van die HERE, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die priesters en Leviete het dit gedra. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie.