Die mense van Juda en Israel was baie, so talryk soos die sand wat langs die see is, hulle het geëet en gedrink en was gelukkig. Salomo was die heerser in al die koninkryke, van die Rivier af na die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte. Hulle was aan Salomo skatpligtig en het hom gedien solank hy geleef het. Die voedsel gelewer aan Salomo vir een dag was dertig kor gesifte meel en sestig kor gewone meel; tien vetgemaakte beeste en twintig beeste van die veld af; 'n honderd stuks kleinvee, afgesien van rooitakbokke, gaselle, hartbeeste en gevoerde pluimvee. Ja, hy het oor die hele gebied wes van die Rivier regeer: van Tifsag tot by Gasa, oor al die konings wes van die Rivier. Hy het rondom, aan alle kante, vrede gehad. Juda en Israel het toe veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en sy vyeboom, van Dan tot Berseba, so lank as wat Salomo geleef het. Salomo het vierduisend stalle vir die perde van sy strydwamag gehad, en die bemanning van sy strydwaens was twaalfduisend. Daardie landvoogde moes kos voorsien aan koning Salomo en aan almal wat by die tafel van koning Salomo aangesit het, elkeen in die maand aan hom toegewys. Hulle het niks laat kortkom nie, ook nie die gars en strooi vir die perde van die strydwaens en die pakperde nie. Hulle het dit gebring na die plek waarheen elkeen gewoond was om dit te neem.
Lees 1 Konings 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Konings 4:20-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's