1 KONINGS 4:20-28
1 KONINGS 4:20-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see. Hulle het volop te eet en te drink gehad, en hulle was gelukkig. Salomo het geheers oor al die koninkryke van die Eufraatrivier af tot by die gebied van die Filistyne, dit wil sê tot by die grens van Egipte. Hulle het belasting betaal en was onderhorig aan Salomo solank hy geleef het. Salomo se daaglikse kosvoorrade was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo het geheers oor alles wes van die Eufraatrivier, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat. Na alle kante toe was daar vrede, en solank Salomo geleef het, het die Judeërs en die Israeliete van Dan af tot by Berseba veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit. Salomo het veertig duisend trekperde op stal gehad vir sy strydwaens en ook twaalf duisend ryperde. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar vir koning Salomo en almal wat van sy tafel af geëet het, van kos voorsien. Hulle het gesorg dat niks ontbreek nie. Hulle het ook die gars en die hooi vir die ryperde en die trekperde gebring op die plekke wat met elkeen gereël was.
1 KONINGS 4:20-28 Bybel vir almal (ABA)
Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand langs die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en hulle was gelukkig. Salomo het regeer oor al die lande van die Eufraat-rivier tot by Filistyne-land en die grens van die land Egipte. Die mense van hierdie lande het vir Salomo presente gebring en hulle het vir hom gewerk totdat hy gesterf het. Die kos wat hulle elke dag moes bring vir die mense in Salomo se paleis, was 30 kor fynmeel en 60 kor broodmeel, tien beeste wat hulle in die stalle kos gegee het en 20 beeste wat in die veld gewei het, 100 skape en bokke, en ook nog takbokke, gaselle, gemsbokke en ribbokke, en hoenders en ganse wat hulle in hokke vetgemaak het. Salomo het regeer oor al die lande wes van die Eufraat-rivier, dit was van die stad Tifsag tot by die stad Gasa. Hy het regeer oor al die konings wes van die Eufraat-rivier. Daar was vrede tussen hom en al die konings rondom hom. Die mense van Juda en Israel, van die stad Dan in die noorde tot by die stad Berseba in die suide, het veilig gewoon terwyl Salomo gelewe het. Elkeen kon rustig onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom sit. Salomo het 40 000 perde in sy stalle gehad vir sy oorlogkarre en hy het 12 000 ryperde gehad. Die distrikshoofde het elkeen een maand lank kos gebring vir koning Salomo en vir almal wat by sy tafel geëet het. Daar was genoeg kos vir almal. Die distrikshoofde het ook vir die perde genoeg gars en strooi gebring na die plekke waar die perde was.
1 KONINGS 4:20-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe. En Salomo se voedsel vir een dag was dertig kor fynmeel en sestig kor meel; tien vetgemaakte beeste en twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe die takbokke en gemsbokke en gestippelde takbokke en vetgemaakte ganse. Want hy het geheers oor alles wes van die Eufraat, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat, en vrede gehad aan alle kante rondom; sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo. Verder het Salomo veertigduisend krippe gehad vir sy trekperde, en twaalfduisend ryperde. En daardie bestuurders het elkeen in sy maand koning Salomo onderhou en almal wat aan die tafel van koning Salomo kom; hulle het niks laat kortkom nie. En die gars en die strooi vir die perde en die renperde het hulle gebring op die plek waar dit moes wees, elkeen volgens sy orde.
1 KONINGS 4:20-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die mense van Juda en Israel was baie, so talryk soos die sand wat langs die see is, hulle het geëet en gedrink en was gelukkig. Salomo was die heerser in al die koninkryke, van die Rivier af na die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte. Hulle was aan Salomo skatpligtig en het hom gedien solank hy geleef het. Die voedsel gelewer aan Salomo vir een dag was dertig kor gesifte meel en sestig kor gewone meel; tien vetgemaakte beeste en twintig beeste van die veld af; 'n honderd stuks kleinvee, afgesien van rooitakbokke, gaselle, hartbeeste en gevoerde pluimvee. Ja, hy het oor die hele gebied wes van die Rivier regeer: van Tifsag tot by Gasa, oor al die konings wes van die Rivier. Hy het rondom, aan alle kante, vrede gehad. Juda en Israel het toe veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en sy vyeboom, van Dan tot Berseba, so lank as wat Salomo geleef het. Salomo het vierduisend stalle vir die perde van sy strydwamag gehad, en die bemanning van sy strydwaens was twaalfduisend. Daardie landvoogde moes kos voorsien aan koning Salomo en aan almal wat by die tafel van koning Salomo aangesit het, elkeen in die maand aan hom toegewys. Hulle het niks laat kortkom nie, ook nie die gars en strooi vir die perde van die strydwaens en die pakperde nie. Hulle het dit gebring na die plek waarheen elkeen gewoond was om dit te neem.
1 KONINGS 4:20-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Juda en Israel was baie, soos die sand wat by die see is in menigte, wat geëet en gedrink en vrolik gemaak het. En Salomo het geregeer oor al die koninkryke van die rivier af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte; hulle het geskenke gebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe. En Salomo se voorsiening vir een dag was dertig kor fynmeel en sestig kor meel, Tien vet beeste en twintig beeste uit die weiveld, en honderd kleinvee, behalwe takbokke en gemsbokke en damherte en vetgemaakte voëls. Want hy het geheers oor die hele gebied aan die weskant van die Eufraat, van Tifsa af tot by Aza, oor al die konings aan die oorkant van die Eufraat; en hy het vrede gehad van alle kante rondom hom. En Juda en Israel het veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo. En Salomo het veertigduisend perdestalle vir sy strydwaens en twaalfduisend perderuiters gehad. En daardie amptenare het vir koning Salomo en almal wat na koning Salomo se tafel gekom het, elkeen in sy maand kos voorsien; hulle het niks kortgekom nie. Ook gars en strooi vir die perde en dromedarisse het hulle gebring na die plek waar die beamptes was, elkeen volgens sy opdrag.
1 KONINGS 4:20-28 Die Boodskap (DB)
Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand van die see. Hulle het geëet en gedrink en was baie gelukkig. Salomo het oor al die nasies vanaf die groot Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en tot by die Egiptiese grens regeer. Hierdie nasies het almal belasting betaal en was aan Salomo getrou. Salomo se huishouding en personeel se daaglikse kosgebruik was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo het oor die hele land wes van die Eufraatrivier regeer, vanaf Tifsag by die Eufraat tot so ver wes as Gasa. Al die konings wes van die Eufraat was deel van Salomo se koninkryk. En Salomo het in vrede geleef met al die omliggende volke. So lank as wat Salomo geleef het, het dit met die mense van Juda en Israel baie goed gegaan. Dit was ’n tyd van groot voorspoed en vrede. Elke familie het op sy eie grond gewoon en sy eie wingerde en vyebome gehad. Salomo het 40 000 stalle vir die perde van sy strydwaens gebou en 12 000 vir sy ryperde. Elkeen van Salomo se twaalf streeksbestuurders het ’n beurt gekry om ’n maand lank kos aan die koning en al sy baie amptenare te voorsien. Streeksbestuurders moes ook vir die ryperde en trekperde se gars en hooi sorg. Hulle moes dit daar gaan aflaai waar die mense dit nodig gehad het.
1 KONINGS 4:20-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die inwoners van Juda en Israel was so baie soos die sand by die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en was gelukkig en tevrede. Koning Salomo het regeer oor al die koninkryke vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne, en so ver suid as die grens van Egipte. Hierdie lande het belasting aan Salomo betaal en was aan hom onderdanig solank hy gelewe het. Die daaglikse kosvoorraad vir Salomo se paleis was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgemaakte beeste, twintig beeste uit die veld, 100 kleinvee, asook takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo se ryk het al die koninkryke wes van die Eufraatrivier ingesluit, vanaf Tifsag tot by Gasa. Deur die hele landstreek het daar vrede geheers. Gedurende die leeftyd van Salomo het Juda en Israel in veiligheid gelewe. Vanaf Dan in die noorde tot by Berseba in die suide het hulle veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom. Salomo het 4 000 stalle vir sy strydwaens se perde gehad en 12 000 ryperde. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar gesorg dat daar genoeg kos vir koning Salomo en sy hofhouding was. Hulle het ook gars en hooi vir die ryperde en die trekperde op die bestemde plekke besorg.