1 KONINGS 4:20-28

1 KONINGS 4:20-28 NLV

Die inwoners van Juda en Israel was so baie soos die sand by die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en was gelukkig en tevrede. Koning Salomo het regeer oor al die koninkryke vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne, en so ver suid as die grens van Egipte. Hierdie lande het belasting aan Salomo betaal en was aan hom onderdanig solank hy gelewe het. Die daaglikse kosvoorraad vir Salomo se paleis was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgemaakte beeste, twintig beeste uit die veld, 100 kleinvee, asook takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo se ryk het al die koninkryke wes van die Eufraatrivier ingesluit, vanaf Tifsag tot by Gasa. Deur die hele landstreek het daar vrede geheers. Gedurende die leeftyd van Salomo het Juda en Israel in veiligheid gelewe. Vanaf Dan in die noorde tot by Berseba in die suide het hulle veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom. Salomo het 4 000 stalle vir sy strydwaens se perde gehad en 12 000 ryperde. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar gesorg dat daar genoeg kos vir koning Salomo en sy hofhouding was. Hulle het ook gars en hooi vir die ryperde en die trekperde op die bestemde plekke besorg.