Daarna het die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, opgetrek na Ramot in Gilead. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan vermom in die geveg in, maar dra jy jou koninklike drag.” So het die koning van Israel hom vermom en in die geveg ingegaan. Die koning van Aram het die •aanvoerders van sy strydwamag, twee-en-dertig van hulle, opdrag gegee: “Moet niemand, belangrik of onbelangrik, die stryd aansê nie, behalwe die koning van Israel alleen.” Toe die aanvoerders van die strydwamag Josafat sien, sê hulle: “Dit is beslis die koning van Israel!” Hulle het na hom weggedraai om te veg, maar Josafat het om hulp geroep. En toe die aanvoerders van die strydwamag sien dat hy nie die koning van Israel is nie, het hulle agter hom omgedraai. Iemand het egter lukraak sy boog gespan en die koning van Israel getref tussen die skubbe en die pantser. Hy sê toe vir die drywer van sy strydwa: “Ruk die perde om en neem my uit die geveg, want ek is swaar gewond.” Die geveg het egter daardie dag hewig geword, en die koning is staande gehou op sy strydwa teenoor die Arameërs. Teen die aand het hy gesterf. Die bloed van sy wond het in die strydwa se bak uitgeloop. Net nadat die son ondergegaan het, het 'n harde uitroep deur die kamp weerklink: “Elkeen na sy stad, elkeen na sy grond!” So het die koning gesterf en dood in Samaria aangekom. Hulle het die koning in Samaria begrawe.
Lees 1 Konings 22
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Konings 22:29-37
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's