1 Konings 18:25-38

1 Konings 18:25-38 AFR20

Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle 'n bul en berei eerste voor, want julle is die meeste. Roep dan die naam van julle god aan, maar kole vuur mag julle nie gebruik nie.” Hulle neem toe die bul wat vir hulle gegee is, berei dit voor en roep van die oggend tot die middag die naam van Baäl aan, met die woorde: “Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie en niemand wat antwoord nie. Hulle het hink-hink gedans by die altaar wat voorberei is. Teen die middag het Elia hulle gespot en gesê: “Roep harder, want hy is mos 'n god! Hy is dalk ingedagte, of hy sonder hom af, of is op pad. Dalk is hy aan die slaap en moet wakker word.” Hulle het toe harder geroep en, soos hulle gewoonte was, hulleself met swaarde en steekspiese stukkend gekerf totdat die bloed oor hulle geloop het. Ná die middag het hulle waansinnig te kere gegaan, totdat dit tyd was vir die bring van die •graanoffer. Daar was egter geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!” Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die HERE wat afgebreek was. Elia het twaalf klippe geneem, in ooreenstemming met die getal van die stamme van die seuns van Jakob, vir wie die HERE gesê het: “Israel sal jou naam wees.” Hy het met die klippe in die Naam van die HERE 'n altaar gebou en 'n watervoor wat ongeveer twee sea saad kon hou, rondom die altaar gegrawe. Hy het die hout gerangskik, die bul opgesny en op die hout neergesit. Toe sê hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit oor die •brandoffer en die hout.” Hy sê toe: “Doen dit weer!” Hulle het dit weer gedoen. Daarna sê hy: “Doen dit 'n derde keer!” Hulle het dit 'n derde keer gedoen. Die water het rondom die altaar geloop. Die water het selfs die voor volgemaak. Toe dit tyd was vir die bring van die graanoffer, het Elia, die profeet, na vore getree en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, HERE, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.” Toe slaan die vuur van die HERE neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid