1 KONINGS 18:25-38

1 KONINGS 18:25-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.” Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!” Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het. Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak. Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en 'n behoorlike sloot daar rondom gegrawe. Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout. Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.” Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog 'n keer gedoen. Toe sê hy: “Doen dit 'n derde keer,” en hulle het weer so gemaak. Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

1 KONINGS 18:25-38 Bybel vir almal (ABA)

Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle een bul en maak hom eerste gereed, want julle is baie. Julle moet tot julle god bid, maar julle moenie vuur op die altaar maak nie.” Die profete van Baäl het die bul geneem wat Elia vir hulle gegee het. Hulle het dit gereedgemaak en hulle het tot Baäl gebid. Hulle het van die oggend tot die middag aangehou bid en gesê: “Baäl, help ons.” Maar niks het gebeur nie, niemand het geantwoord nie. Die profete van Baäl het nie geweet wat om te doen by die altaar wat hulle gemaak het nie. Toe dit middag word, het Elia hulle gespot en gesê: “Julle moet harder skree, want Baäl is 'n god. Miskien is hy besig om te dink, of miskien is hy in die toilet, of miskien het hy gaan stap. Miskien slaap hy en iemand moet hom gaan wakker maak.” Die profete het hard geskree en hulle het gedoen wat hulle altyd gedoen het wanneer hulle ge-offer het: Hulle het hulleself stukkend gesny met swaarde en spiese totdat hulle rooi van die bloed was. Die middag het verbygegaan. Hulle het aangehou bid tot laat die middag. Dit was die tyd wanneer die priesters altyd die koring-offer gebring het. Maar daar het niks gebeur nie, niemand het geantwoord nie, Baäl het nie gehoor nie. Toe het Elia vir al die mense gesê: “Kom nader na my toe.” Hulle het nader gekom. Elia het die altaar van die Here wat stukkend was, weer reggemaak. Hy het twaalf klippe geneem, een vir elke stam, die nageslag van die seuns van Jakob. Jakob was die man vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Elia het die klippe in die altaar van die Here ingebou. Rondom die altaar het Elia 'n sloot gegrawe. Die sloot was so diep dat dit twee sea saad kon hou. Daarna het hy die hout reggesit en die bul in stukke gesny en bo-op die hout gesit. Toe sê Elia: “Julle moet vier kruike vol water maak en dit oor die brand-offer en die hout uitgooi.” Elia het gesê hulle moet dit weer doen, en toe ook 'n derde maal. Die water het oor die altaar geloop en dit het ook die sloot volgemaak. Laat die middag, toe dit tyd was om die koring-offer te bring, het die profeet Elia by die altaar gaan staan en hy het gesê: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat almal vandag sien dat U die God in die land Israel is. Laat almal ook sien dat ek u dienaar is, en dat dit U is wat vir my gesê het ek moet al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie mense kan weet dat U, die Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte verander.” Daar het toe vuur van die Here afgekom. Dit het die brand-offer en die hout en die klippe en die grond alles verbrand. Daar was nie meer water in die sloot nie, die sloot het droog geword.

1 KONINGS 18:25-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie. En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: O Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos 'n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie. Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die HERE herstel wat afgebreek was. Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders — tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees — en hy bou met die klippe 'n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy 'n sloot gemaak rondom die altaar, 'n ruimte vir omtrent twee mate saad, en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.

1 KONINGS 18:25-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle 'n bul en berei eerste voor, want julle is die meeste. Roep dan die naam van julle god aan, maar kole vuur mag julle nie gebruik nie.” Hulle neem toe die bul wat vir hulle gegee is, berei dit voor en roep van die oggend tot die middag die naam van Baäl aan, met die woorde: “Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie en niemand wat antwoord nie. Hulle het hink-hink gedans by die altaar wat voorberei is. Teen die middag het Elia hulle gespot en gesê: “Roep harder, want hy is mos 'n god! Hy is dalk ingedagte, of hy sonder hom af, of is op pad. Dalk is hy aan die slaap en moet wakker word.” Hulle het toe harder geroep en, soos hulle gewoonte was, hulleself met swaarde en steekspiese stukkend gekerf totdat die bloed oor hulle geloop het. Ná die middag het hulle waansinnig te kere gegaan, totdat dit tyd was vir die bring van die •graanoffer. Daar was egter geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!” Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die HERE wat afgebreek was. Elia het twaalf klippe geneem, in ooreenstemming met die getal van die stamme van die seuns van Jakob, vir wie die HERE gesê het: “Israel sal jou naam wees.” Hy het met die klippe in die Naam van die HERE 'n altaar gebou en 'n watervoor wat ongeveer twee sea saad kon hou, rondom die altaar gegrawe. Hy het die hout gerangskik, die bul opgesny en op die hout neergesit. Toe sê hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit oor die •brandoffer en die hout.” Hy sê toe: “Doen dit weer!” Hulle het dit weer gedoen. Daarna sê hy: “Doen dit 'n derde keer!” Hulle het dit 'n derde keer gedoen. Die water het rondom die altaar geloop. Die water het selfs die voor volgemaak. Toe dit tyd was vir die bring van die graanoffer, het Elia, die profeet, na vore getree en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, HERE, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.” Toe slaan die vuur van die HERE neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek.

1 KONINGS 18:25-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Elía het aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak hom eers gereed; want julle is baie; en roep die naam van julle gode aan, maar sit geen vuur onder nie. En hulle het die bul wat aan hulle gegee is, geneem en dit bewerk en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: O Baäl, luister na ons! Maar daar was geen stem nie, ook nie iemand wat geantwoord het nie. En hulle het opgespring op die altaar wat gemaak is. En op die middag het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard, want hy is 'n god; óf hy praat, óf hy jaag na, óf hy is op reis, of miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hardop geroep en hulleself volgens hulle manier met messe en lansette gesny totdat die bloed op hulle uitgestroom het. En toe die middag verby was, en hulle geprofeteer het tot op die tyd van die offer van die aandoffer, was daar geen stem of iemand om te antwoord of iemand wat ag geslaan het nie. Toe sê Elía aan die hele volk: Kom nader na my toe. En die hele volk het nader gekom na hom. En hy het die altaar van die HERE wat afgebreek was, herstel. En Elía het twaalf klippe geneem volgens die getal van die stamme van die seuns van Jakob tot wie die woord van die HERE gekom het en gesê het: Israel sal jou naam wees. En hy het met die klippe 'n altaar gebou in die Naam van die HERE; en hy het 'n sloot rondom die altaar gemaak, so groot dat dit twee mate saad kon bevat. En hy het die hout in orde gebring en die bul in stukke gesny en hom op die hout neergelê en gesê: Maak vier vate vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede keer. En hulle het dit die tweede keer gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde keer. En hulle het dit die derde keer gedoen. En die water het om die altaar geloop; en hy het ook die sloot met water gevul. En in die tyd van die offer van die aandoffer het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is! en dat ek u dienaar is, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Luister na my, HERE, luister na my, sodat hierdie volk kan weet dat U die HERE God is, en dat U hulle hart teruggekeer het. Toe het die vuur van die HERE geval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer en die water wat in die sloot was, opgelek.

1 KONINGS 18:25-38 Die Boodskap (DB)

Elia het toe vir die Baälprofete gesê: “Julle is die meeste; daarom moet julle eerste begin. Kies vir julle ’n bul, slag dit en sit dit op die hout. Moet dit nie self aansteek nie, maar vra julle god om dit te doen.” Die Baälprofete het ’n bul gekies, dit geslag en op die hout neergesit. Toe het hulle tot Baäl begin bid. Hulle het van die oggend tot die middag gebid. Hulle het aanmekaar gesê: “Baäl, antwoord ons,” maar net mooi niks het gebeur nie. Uit radeloosheid het die Baälprofete om die altaar begin dans wat hulle gemaak het. Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.” Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek. Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem. Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet. Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.” Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog.

1 KONINGS 18:25-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Elia sê toe vir die profete van Baäl: “Kies julle nou ’n bul en kry dit gereed, want daar is baie van julle. Roep dan julle god aan, maar moenie die vuur aan die brand steek nie.” Hulle het een van die bulle gekies en gereed gekry. Toe roep hulle Baäl aan. Hulle het die hele oggend geroep: “O Baäl, antwoord ons!” Daar was egter geen reaksie nie en niemand het geantwoord nie. Hulle het selfs al om die altaar wat hulle gemaak het, gedans. Teen die middag het Elia hulle begin spot. “Julle moet nog harder roep,” spot hy. “Hy is mos ’n god! Dalk is hy ingedagte, of dalk het hy ’n draaitjie gaan loop. Miskien is hy weg op reis, of slaap hy en moet wakker gemaak word!” Hulle het toe al harder geroep en – soos hulle gebruik was – hulleself met messe en swaarde stukkend gesny totdat die bloed geloop het. Hulle het die hele namiddag so aangehou totdat die tyd vir die aandoffer aangebreek het. Maar steeds was daar geen geluid nie, geen antwoord nie, niemand wat gereageer het nie. Toe roep Elia die volk: “Kom nader!” Hulle het almal rondom hom kom staan terwyl hy die altaar van die HERE wat afgebreek was, herstel het. Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die HERE gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die HERE reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou. Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê. Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het. Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het. HERE, antwoord my! Antwoord my sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is en dat dit U is wat hulle weer na U toe laat omdraai.” Onmiddellik het daar vuur van die HERE gekom en die offer verbrand, asook die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgedroog!