1 Konings 18:1-8

1 Konings 18:1-8 AFR20

'n Geruime tyd later, in die derde jaar, het die woord van die HERE tot Elia gekom: “Gaan verskyn aan Agab, sodat Ek reën kan gee op die aarde.” Elia gaan toe om aan Agab te verskyn. Die hongersnood was erg in Samaria, en Agab het Obadja, die hoof van die hofhouding, ontbied. Obadja het groot ontsag vir die HERE gehad. Toe Isebel die profete van die HERE uitgeroei het, het Obadja 'n honderd profete geneem en hulle weggesteek – vyftig man in 'n grot – en hulle van brood en water voorsien. Agab sê toe vir Obadja: “Gaan deur die land na al die waterfonteine en al die spruite. Dalk kry ons êrens gras, sodat ons die perde en muile aan die lewe kan hou, en nie van die diere van kant hoef te maak nie.” Hulle verdeel toe die land tussen hulle om dit deur te gaan: Agab het op sy eie in 'n rigting gegaan en Obadja het op sy eie in 'n ander rigting gegaan. Terwyl Obadja op pad was, kom Elia hom onverwags teë. Obadja het hom herken en neergeval met sy gesig teen die grond. Hy sê toe: “Is dit werklik u, my heer Elia?” Hy het hom geantwoord: “Dit is ek! Gaan sê vir jou heer, ‘Elia is hier.’ ”