In die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Simri koning geword in Tirsa, en sewe dae lank regeer. Die manskappe was besig om Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort, te beleër. Toe die manskappe wat laer getrek het, die berig kry, “Simri het 'n komplot gesmee en hy het selfs die koning neergevel”, het die hele Israel op daardie dag in die kamp vir Omri, die aanvoerder van die leër, koning gemaak oor Israel. Daarna het Omri, en die hele Israel saam met hom, van Gibbeton af opgetrek en Tirsa beleër. Toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy dadelik na die vesting van die koninklike paleis gegaan en die paleis bo hom aan die brand gesteek en gesterf. Dit was oor sy sondes wat hy gepleeg het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE toe hy die pad van Jerobeam gevolg en volhard het met sy sonde wat hy gedoen het om Israel te laat sondig. Die verdere geskiedenis van Simri en die komplot wat hy gesmee het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie?
Die manskappe van Israel is toe in twee verdeel. Die een helfte van die manskappe het Tibni, seun van Ginat, ondersteun om hom koning te maak, en die ander helfte het Omri ondersteun. Maar die manskappe wat Omri ondersteun het, het die oorhand gekry oor die manskappe wat Tibni, seun van Ginat, ondersteun het. Tibni het gesterf en Omri het koning geword.
In die een-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Omri koning geword oor Israel, en twaalf jaar lank regeer. In Tirsa was hy ses jaar lank koning. Toe het hy die berg Samaria gekoop vir twee kikkar silwer by Semer. Hy het op die berg gebou, en die stad wat hy gebou het, Samaria genoem, na die naam van Semer, die eienaar van die berg.
Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE; hy het meer kwaad aangerig as al sy voorgangers. Hy het die pad van Jerobeam, seun van Nebat, in alle opsigte gevolg en volhard met sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, deur die HERE, die God van Israel, te tart met hulle nietige afgode. Die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Omri het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Agab het in sy plek koning geword.