1 KONINGS 16:15-28

1 KONINGS 16:15-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die sewe-en-twintigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Simri koning geword in Tirsa, en sewe dae lank regeer. Die manskappe was besig om Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort, te beleër. Toe die manskappe wat laer getrek het, die berig kry, “Simri het 'n komplot gesmee en hy het selfs die koning neergevel”, het die hele Israel op daardie dag in die kamp vir Omri, die aanvoerder van die leër, koning gemaak oor Israel. Daarna het Omri, en die hele Israel saam met hom, van Gibbeton af opgetrek en Tirsa beleër. Toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy dadelik na die vesting van die koninklike paleis gegaan en die paleis bo hom aan die brand gesteek en gesterf. Dit was oor sy sondes wat hy gepleeg het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE toe hy die pad van Jerobeam gevolg en volhard het met sy sonde wat hy gedoen het om Israel te laat sondig. Die verdere geskiedenis van Simri en die komplot wat hy gesmee het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Die manskappe van Israel is toe in twee verdeel. Die een helfte van die manskappe het Tibni, seun van Ginat, ondersteun om hom koning te maak, en die ander helfte het Omri ondersteun. Maar die manskappe wat Omri ondersteun het, het die oorhand gekry oor die manskappe wat Tibni, seun van Ginat, ondersteun het. Tibni het gesterf en Omri het koning geword. In die een-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Omri koning geword oor Israel, en twaalf jaar lank regeer. In Tirsa was hy ses jaar lank koning. Toe het hy die berg Samaria gekoop vir twee kikkar silwer by Semer. Hy het op die berg gebou, en die stad wat hy gebou het, Samaria genoem, na die naam van Semer, die eienaar van die berg. Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE; hy het meer kwaad aangerig as al sy voorgangers. Hy het die pad van Jerobeam, seun van Nebat, in alle opsigte gevolg en volhard met sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, deur die HERE, die God van Israel, te tart met hulle nietige afgode. Die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Omri het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe. Sy seun Agab het in sy plek koning geword.

1 KONINGS 16:15-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Simri het in die 27ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het net sewe dae in Tirsa regeer. Die leër van Israel was besig om die Filistynse dorp Gibbeton aan te val. Die leër het gehoor van Simri se sameswering teen die koning, en dat hy die koning doodgemaak het. Hulle het toe nog dieselfde dag vir Omri, bevelvoerder van die leër, tot nuwe koning uitgeroep. Omri het die beleëring van Gibbeton gestaak en Tirsa beleër. Toe Simri sien dat die stad ingeneem gaan word, het hy na die paleis se versterkte vesting gevlug, die paleis om hom aan die brand gesteek en in die vlamme gesterf. Dit het gebeur omdat hy gesondig het en gedoen het wat verkeerd was vir die HERE. Hy het die voorbeeld van Jerobeam gevolg deur voort te gaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam die volk laat doen het. Die ander gebeurtenisse tydens Simri se regering en sy sameswering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Teen hierdie tyd was daar twee groepe in Israel. Een helfte wou Tibni seun van Ginat as koning hê, en die ander helfte het Omri ondersteun. Gaandeweg het Omri se aanhang sterker geword as dié van Tibni seun van Ginat. Tibni het gesterf en Omri het koning geword. Omri het in die 31ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het twaalf jaar regeer, ses daarvan in Tirsa. Omri het die Samariaheuwel vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het ’n stad bo-op die heuwel gebou en dit Samaria genoem ter ere van Semer, die vorige eienaar van die heuwel. Omri het egter gedoen wat verkeerd was vir die HERE, selfs nog meer as sy voorgangers. Hy het die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat nagevolg en voortgegaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het. Hulle het die HERE die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart. Die ander gebeurtenisse tydens Omri se regering, sy dapperheid en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Toe Omri sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

1 KONINGS 16:15-28 Bybel vir almal (ABA)

Simri het koning van Israel geword in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was sewe dae lank koning in Tirsa. Sy soldate was in die kamp by die stad Gibbeton in die land van die Filistyne. Die soldate het gehoor dat Simri saam met ander mense planne gemaak het en dat hulle die koning vermoor het. Die soldate het toe daardie dag in die kamp vir Omri, die hoof van die leër, koning gemaak van Israel. Omri en al die manne van Israel het van Gibbeton na Tirsa gegaan en hulle het die stad van al die kante aangeval. Toe Simri sien dat hulle die stad oorwin, het hy gevlug tot agter die sterk mure van die paleis. Hy het die paleis bo-oor hom aan die brand gesteek en hy het gesterf. Dit het gebeur omdat Simri sonde gedoen het en dinge gedoen het waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen soos Jerobeam, hy het dieselfde sonde gedoen wat Jerobeam gedoen het en wat Jerobeam die mense van Israel laat doen het. Al die ander dinge wat Simri gedoen het en sy planne wat hy gemaak het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Daarna was die mense van Israel verdeel in twee groepe. Een helfte van die volk het vir Tibni seun van Ginat gekies. Hulle wou hom koning maak. Die ander helfte van die mense het vir Omri gekies. Die mense wat vir Omri gekies het, was meer as die mense wat vir Tibni gekies het. Toe Tibni sterf, het Omri koning geword. Omri het koning van Israel geword in die een-en-dertigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was twaalf jaar lank koning, ses jaar lank in Tirsa. Omri het Samaria-berg van Semer gekoop. Hy het vir Semer twee talente silwer daarvoor betaal en hy het daar 'n stad gebou. Hy het die stad Samaria genoem, dit was die naam van die man aan wie die berg behoort het. Omri het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het slegter dinge gedoen as almal voor hom. Hy het alles gedoen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het, al die sondes wat Jerobeam gedoen het en alles wat hy die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien. Al die ander dinge wat Omri gedoen het, ook die belangrike dinge wat hy gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Omri het gesterf, en hulle het hom begrawe in Samaria. Sy seun Agab het koning geword ná hom.

1 KONINGS 16:15-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

In die sewen-en-twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, was Simri sewe dae lank koning in Tirsa, terwyl die manskappe Gíbbeton beleër wat aan die Filistyne behoort het. En toe die manskappe wat beleër, hoor sê: Simri het 'n sameswering gesmee en ook die koning doodgeslaan, het die hele Israel Omri, die leërowerste, koning gemaak oor Israel, dieselfde dag in die laer. En Omri het opgetrek en die hele Israel saam met hom van Gíbbeton af en Tirsa beleër. Net toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die vesting van die koning se huis ingegaan en die huis van die koning bo-op hom aan die brand gesteek, sodat hy gesterf het, vanweë sy sondes wat hy begaan het deur te doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, deur te wandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde wat hy gedoen het om Israel te laat sondig. En die verdere geskiedenis van Simri en sy sameswering wat hy gesmee het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? Toe is die volk van Israel verdeel in twee helftes: een helfte van die volk het Tibni, die seun van Ginat, gevolg om hom koning te maak, en die ander helfte het Omri gevolg. Maar die volk wat Omri gevolg het, was te sterk vir die volk wat Tibni, die seun van Ginat, gevolg het; en Tibni het gesterwe, en Omri het koning geword. In die een-en-dertigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar lank; in Tirsa was hy ses jaar koning. En hy het die berg Samaría van Semer gekoop vir twee talente silwer en die berg bebou en die stad wat hy gebou het, Samaría genoem na die naam van Semer, die eienaar van die berg. En Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers. Hy het naamlik gewandel in al die weë van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sondes waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, te terg met hulle nietige afgode. En die verdere geskiedenis van Omri, wat hy gedoen het, en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe; en sy seun Agab het in sy plek koning geword.

1 KONINGS 16:15-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Tydens die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda was Simri sewe dae koning in Tirsa. Die volk was toe net besig om die Filistynse stad Gibbeton te beleër. Toe die volk wat besig was met die beleg, die berig kry dat Simri 'n sameswering gesmee en die koning om die lewe gebring het, het die hele Israel nog dieselfde dag daar in die laer vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep. Omri en die hele Israel het toe van Gibbeton af opgetrek en Tirsa gaan beleër. Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand. So is hy dood. Dit was alles die gevolg van die sondes wat hy gedoen het. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam Israel laat sondig het. Die ander verhale oor Simri en oor die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Die volk het egter nou verdeeld geraak. Een helfte wou vir Tibni seun van Ginat koning maak, en die ander helfte vir Omri. Omri se aanhang het gaandeweg sterker geword as Tibni s'n, en toe Tibni te sterwe kom, het Omri koning geword. In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa. Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg. Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers. Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het. Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

1 KONINGS 16:15-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die sewe-en-twintigste jaar van Asa, die koning van Juda, het Simri sewe dae lank in Tirsa geregeer. En die manskappe het laer opgeslaan teen Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort het. En die manskappe wat laer opgeslaan het, het hoor sê: Simri het 'n sameswering gemaak en ook die koning gedood; daarom het die hele Israel Omri, die leërowerste, daardie dag in die laer koning oor Israel gemaak. En Omri het van Gibbeton af opgetrek en die hele Israel saam met hom, en hulle het Tirsa beleër. En toe Simri sien dat die stad ingeneem is, het hy in die paleis van die koning se huis ingegaan en die koning se huis oor hom met vuur verbrand en gesterf. Vir sy sondes wat hy gesondig het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, deur te wandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde wat hy gedoen het, om Israel te laat sondig. En die verdere geskiedenis van Simri en sy verraad wat hy bewerk het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? Toe is die volk Israel in twee dele verdeel: die helfte van die volk het Tibni, die seun van Ginat, gevolg om hom koning te maak; en die helfte het Omri gevolg. Maar die manskappe wat Omri gevolg het, het die oorhand gekry teen die manskappe wat Tibni, die seun van Ginat gevolg het, en Tibni het gesterwe, en Omri het geregeer. In die een en dertig jaar van Asa, die koning van Juda, het Omri oor Israel koning geword, twaalf jaar; ses jaar het hy in Tirsa geregeer. En hy het die heuwel Samaría van Semer vir twee talente silwer gekoop en op die heuwel gebou en die stad wat hy gebou het, na die naam van Semer, eienaar van die heuwel, Samaria genoem. Maar Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en erger gedoen as almal wat voor hom was. Want hy het gewandel in die hele weg van Jeróbeam, die seun van Nebat, en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het, om die HERE, die God van Israel, met hulle nietige toorn te terg. En die res van die geskiedenis van Omri wat hy gedoen het en sy magtige dade wat hy verrig het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe, en sy seun Agab het in sy plek geregeer.

1 KONINGS 16:15-28 Die Boodskap (DB)

In die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Simri koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gewoon en het net sewe dae daar regeer. Terwyl Israel se troepe onder leiding van Omri die stad Gibbeton in die Filistynse gebied beleër het, het hulle van Simri se optrede gehoor. Hulle kon nie glo dat Simri nou koning was nie en het sommer daar op die plek vir Omri koning van Israel gemaak. Omri en die troepe is onmiddellik daar weg en het Tirsa gaan beleër. Toe Simri sien hy gaan die stryd verloor, het hy hom in die binneste deel van die paleis gaan toesluit en die gebou aan die brand gesteek. Hy het in die vuur doodgebrand. Simri het ’n wrede dood gesterf en ’n verskriklike prys vir sy sondes betaal. Soos Jerobeam het hy met al sy afgode die Here oneer aangedoen. Hy het Israel ook baie verkeerde dinge laat doen. Meer inligting oor al Simri se optrede, asook sy sameswering teen Ela, kan in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings nageslaan word. Die mense van Israel was verdeel. Die helfte wou Tibni, die seun van Ginat, hierna as koning hê, terwyl ander sterk ten gunste van Omri was. Gaandeweg het die Omrigroep sterker geword en na Tibni se skielike dood het Omri koning van die hele Israel geword. In die 31ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Omri koning van die hele Israel geword. Hy het ses jaar in Tirsa regeer, maar hy was altesaam twaalf jaar lank koning van Israel. Op ’n dag het hy Samariaberg vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het die berg heeltemal herbou en dit Samaria genoem ter ere van die vorige eienaar, Semer. Omri het baie verkeerde dinge voor die Here gedoen. Hy was selfs erger as sy voorgangers. Soos Jerobeam voor hom het Omri ook die Here se Naam groot oneer aangedoen. Hy het Israel verlei om ander gode te dien en die Here, die God van Israel, te vergeet. Oor alles wat Omri gedoen het en sy dapper optrede kan ’n mens verder in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan lees. Omri het gesterf en hulle het hom in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom opgevolg.