1 Konings 13:1-6

1 Konings 13:1-6 AFR20

Juis toe kom daar, deur die woord van die HERE, 'n man van God uit Juda in Bet-El aan, terwyl Jerobeam op die altaar staan om die offer te verbrand. Hy het, deur die woord van die HERE, uitgeroep teen die altaar en gesê: “Altaar, altaar, so sê die HERE, ‘Kyk, 'n seun word gebore vir die huis van Dawid; Josia is sy naam. Hy sal op jou die priesters van die offerhoogtes slag, hulle wat offers op jou verbrand, en die beendere van mense sal op jou verbrand word. ’ ” Hy het op dieselfde dag 'n teken aangekondig: “Dit is die teken waarvan die HERE gepraat het, ‘Kyk, die altaar sal uitmekaarskeur, sodat die vetterige as wat daarop is, gestort word.’ ” Toe die koning die woord van die man van God hoor wat hy uitgeroep het teen die altaar in Bet-El, steek Jerobeam sy hand bo van die altaar af uit en sê: “Gryp hom!” Maar sy hand wat hy na hom uitgesteek het, het verstyf en hy kon dit nie weer na hom terugtrek nie. Die altaar het uitmekaargeskeur en die vetterige as het van die altaar af gestort, ooreenkomstig die teken wat die man van God aangekondig het deur die woord van die HERE. Die koning het daarop gereageer deur vir die man van God te sê: “Soek asseblief die guns van die HERE jou God en bid vir my, sodat ek my hand kan terugtrek.” Die man van God het toe die guns van die HERE gesoek, en die koning het sy hand teruggetrek, soos dit voorheen was.