1 KONINGS 13:1-6

1 KONINGS 13:1-6 NLV

Skielik daag daar ’n man van God uit Juda by Bet-El op. Dit was op bevel van die HERE. Hy het daar aangekom net toe Jerobeam by die altaar gaan staan het om te offer. Op bevel van die HERE roep hy toe uit: “Altaar, altaar! Dit is wat die HERE sê: ‘’n Seun met die naam Josia sal uit die nageslag van Dawid gebore word. Hier op jou sal hy die priesters van die hoogtes offer wat nou wierookoffers op jou bring. Hier sal mensbene op jou verbrand word.’” Die man van God het ook ’n teken aangekondig om sy boodskap te bevestig. Hy het gesê: “Die HERE het hierdie teken gegee: Hierdie altaar sal uitmekaarbreek en die as daarop sal op die grond val.” Koning Jerobeam was woedend vir die man van God omdat hy teen die altaar gepraat het. Hy het sy hand na die man uitgesteek en gesê: “Gryp hom!” Maar die koning se hand het dadelik styf geword sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie. Terselfdertyd het die altaar uitmekaargebreek en die as het op die grond geval. Dit het net so gebeur soos wat die man van God op bevel van die HERE gesê het. Die koning vra toe vir die man van God: “Asseblief, bid tot die HERE jou God om my hand te herstel!” Die man van God het tot die HERE gebid en die koning se hand het herstel soos tevore.