Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie.
Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie.
Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Dat ons mekaar moet liefhê – nie soos Kain, wat uit die Bose was en sy broer vermoor het nie. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy dade sleg was, en dié van sy broer regverdig.
Moenie verbaas wees, broers, as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons uit die dood oorgegaan het na die lewe, omdat ons ons broers liefhet. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe blywend in hom het nie. Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê. Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit?
Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid. En hieraan sal ons weet dat ons uit die waarheid kom, en met 'n geruste gewete voor God kan staan: Wanneer ons gewete ons veroordeel, God is groter as ons gewete en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie onderhou, en doen wat vir Hom aangenaam is. En dit is sy gebod: Dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus •Christus, moet glo, en mekaar moet liefhê volgens die gebod wat Hy aan ons gegee het. En wie sy gebooie onderhou, bly in Hom, en Hy in hulle. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: deur die Gees wat Hy aan ons gegee het.