1 JOHANNES 3:1-24

1 JOHANNES 3:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Julle kan seker wees dat die Vader baie lief is vir ons. Hy het ons sy kinders gemaak en nou is ons kinders van God. Die mense van die wêreld wou nie vir God ken nie. Daarom wil hulle ons ook nie ken nie. Vriende, ons is nou kinders van God. Ons weet nog nie presies hoe wonderlik ons eendag sal wees nie, maar ons weet dit: Wanneer Jesus kom, dan sal ons wees soos Hy, want ons sal Hom sien soos Hy regtig is. Almal wat seker is dat Jesus weer kom, reinig hulleself sodat hulle rein is, soos Jesus rein is. Almal wat sonde doen, doen nie wat God se wette sê nie, want wanneer iemand nie doen wat God se wette sê nie, dan doen hy sonde. Julle weet dat Jesus na die aarde gekom het om sondes weg te neem, Hy wat self niks sonde gedoen het nie. Mense wat aan Hom behoort, hou nie aan om sonde te doen nie, maar mense wat aanhou om sonde te doen, glo nie in Hom nie en hulle ken Hom nie. Vriende, julle moenie luister na mense wat verkeerde dinge vir julle leer nie. Mense wat lewe soos God wil hê, is gehoorsaam aan God, soos Jesus gehoorsaam is aan God. Maar mense wat aanhou om sonde te doen, is kinders van die duiwel, want die duiwel doen van die begin af sonde. Die Seun van God het na die wêreld gekom sodat die duiwel nie sal kan doen wat hy wil doen nie. Mense wat God se kinders is, hou nie aan om sonde te doen nie, want God het die ware lewe in hulle harte laat begin. Hulle kan nie aanhou om sonde te doen nie, want hulle is God se kinders. Hoe weet 'n mens wie is kinders van God en wie is kinders van die duiwel? Kinders van God doen wat God wil hê en hulle is lief vir die ander gelowiges. Toe julle begin het om in Jesus te glo, het julle gehoor dat julle lief moet wees vir mekaar. Julle moenie soos Kain wees nie. Hy was 'n kind van die duiwel en hy het sy broer vermoor. Hoekom het hy sy broer vermoor? Hy het dit gedoen omdat hý slegte dinge gedoen het, maar sy broer het gedoen wat God wil hê. Vriende, wanneer die mense van die wêreld vir julle haat, dan moet julle nie verbaas wees nie. Ons weet dat ons nie meer geestelik dood is nie, ons lewe. Ons weet dit omdat ons lief is vir die ander gelowiges. Mense wat nie lief is vir ander gelowiges nie, is nog geestelik dood. Mense wat ander gelowiges haat, is moordenaars, en julle weet dat moordenaars nie die ewige lewe het nie. Jesus het vir ons gewys wat liefde is, want Hy het gesterf sodat ons kan lewe. En so moet ons ook sterf sodat die ander gelowiges kan lewe. Mense wat baie goed het, sien miskien dat 'n ander gelowige iets nodig het, maar hulle is nie jammer vir hom nie en hulle wil hom nie help nie. Daardie mense wys dat hulle nie lief is vir God nie. Vriende, ons moet lief wees vir die ander gelowiges, maar ons moet dit nie net sê nie. Ons moet dinge dóén wat wys dat ons lief is vir hulle omdat ons weet wat die waarheid is. As ons daardie dinge doen, dan sal ons weet dat God sy waarheid vir ons gegee het. As ons skuldig voel en dink God moet ons straf, dan moet ons nie bang wees vir God se oordeel nie. Want ons weet dat God belangriker is as die dinge wat ons in ons harte voel. En God weet alles. Vriende, ons voel nie skuldig nie en ons is nie bang vir God se straf nie, daarom is ons ook nie bang om vir Hom iets te vra nie. En God gee vir ons wat ons vra, want ons doen die dinge wat Hy sê ons moet doen, dinge waarvan Hy hou. God wil hê dat ons in sy Seun Jesus Christus moet glo en dat ons lief moet wees vir mekaar. Jesus het gesê ons moet dit doen. As ons doen wat God sê, dan bly ons by Hom en Hy bly by ons. En ons weet dat Hy by ons bly, want Hy het vir ons die Heilige Gees gegee.

1 JOHANNES 3:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

KYK wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie. My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is. Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig. Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broeder haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is; en ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom. En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons 'n gebod gegee het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het.

1 JOHANNES 3:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is. Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie. Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie. Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s'n reg. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.

1 JOHANNES 3:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie. Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Dat ons mekaar moet liefhê – nie soos Kain, wat uit die Bose was en sy broer vermoor het nie. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy dade sleg was, en dié van sy broer regverdig. Moenie verbaas wees, broers, as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons uit die dood oorgegaan het na die lewe, omdat ons ons broers liefhet. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe blywend in hom het nie. Hieraan ken ons die liefde: dat Hy vir ons sy lewe afgelê het. Ook ons behoort ons lewe vir ons broers af te lê. Hoe bly die liefde van God in iemand wat genoeg aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar sy hart nogtans vir hom toesluit? Kinders, ons moenie net met woorde, met die tong, liefhê nie, maar met die daad, in waarheid. En hieraan sal ons weet dat ons uit die waarheid kom, en met 'n geruste gewete voor God kan staan: Wanneer ons gewete ons veroordeel, God is groter as ons gewete en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, kan ons met vrymoedigheid voor God staan. En wat ons ook al vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie onderhou, en doen wat vir Hom aangenaam is. En dit is sy gebod: Dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus •Christus, moet glo, en mekaar moet liefhê volgens die gebod wat Hy aan ons gegee het. En wie sy gebooie onderhou, bly in Hom, en Hy in hulle. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: deur die Gees wat Hy aan ons gegee het.

1 JOHANNES 3:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Kyk, watter liefde het die Vader aan ons bewys, dat ons kinders van God genoem kan word; daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat, wanneer Hy verskyn, ons aan Hom gelyk sal wees; want ons sal hom sien soos hy is. En elke mens wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself, net soos hy rein is. Elkeen wat sonde doen, oortree ook die wet, want sonde is die oortreding van die wet. En julle weet dat Hy geopenbaar is om ons sondes weg te neem; en in Hom is geen sonde nie. Elkeen wat in hom bly, sondig nie; elkeen wat sondig, het hom nie gesien en hom nie geken nie. Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie geregtigheid doen, is regverdig soos hy regverdig is. Hy wat sonde doen, is uit die duiwel; want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel is die Seun van God geopenbaar, om die werke van die duiwel te vernietig. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie; want sy nageslag bly in hom, en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, ook nie hy wat sy broer nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê. Nie soos Kain, wat uit daardie bose was, en sy broer doodgemaak het nie. En waarom het hy hom gedood? Want sy eie werke was boos en die regverdige van sy broer. Moenie jou verwonder nie, my broers, as die wêreld julle haat. Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broer nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hieraan bemerk ons die liefde van God, omdat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie wat die goeie van hierdie wêreld het en sien dat sy broer gebrek het en sy innerlike medelye vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woord of met tong nie; maar in daad en in waarheid. En hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is, en ons sal ons harte voor Hom verseker. Want as ons hart ons veroordeel, God is groter as ons hart en weet alles. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vertroue op God. En alles wat ons vra, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is in sy oë. En dit is Sy gebod, dat ons moet glo in die Naam van Sy Seun, Jesus Christus, en mekaar moet liefhê soos Hy ons beveel het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in hom, en hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly deur die Gees wat Hy ons gegee het.

1 JOHANNES 3:1-24 Die Boodskap (DB)

Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak - dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie. My broers en susters vir wie ek so lief is, luister, ons is nou reeds kinders van God. Watter wonderlike dinge nog alles in die toekoms met ons gaan gebeur, is ons nie seker van nie. Van een ding is ons egter seker: Jesus kom weer. Dan gaan ons Hom in sy grootheid sien soos Hy regtig is en ons self gaan ook soos Hy word. Vertrou jy Jesus so dat jy dít van Hom verwag? Wel, maak dan Jesus se optrede die patroon van jou lewe: soos sy lewe skoon en sonder foute was, so moet joune ook wees. Sonde en ongehoorsaamheid aan die wil van God is presies dieselfde ding. Om sonde te doen beteken dus om God se reëls te oortree. In Jesus is daar egter geen teken van sonde nie. Ons weet dat Hy die sonde nie kan verdra nie. Die rede waarom Hy gekom het, was juis om die sonde te kom vernietig. Wie nou in ’n intieme verhouding met Jesus staan, sal mos nie ’n gewoonte daarvan wil maak om op die sonde se voorstoep te speel nie. Wie gedurig só agter die sonde aanloop, gee eintlik deur sy lewe te kenne: “Ek weet nie wie Jesus is nie; ek het Hom nog nooit gesien nie en ken Hom nie.” Liewe kinders, moenie toelaat dat iemand julle om die bos lei nie. Jesus se verhouding met God is reg. Net so is iemand wat gewoonlik dinge doen wat vir God reg is, se verhouding met God ook reg. Daarteenoor is iemand wat gedurig alles doen waarvan God nie hou nie, ’n kind van die duiwel. Die duiwel doen mos nog altyd dit waarvan God nie hou nie. Die Seun van God het juis aarde toe gekom om die duiwel te kom vasvat. Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? God het so iemand mos lewendig gemaak. Ja, uit God self is hy gebore, want God is kragtig en sterk. Daarom mag die gedagte om iets te doen wat God ongelukkig maak, nie eens by ’n kind van God opkom nie. Wil julle weet wie ’n kind van die duiwel en wie ’n kind van God is? Kyk maar, iemand wat nie doen wat vir God reg is nie en sy broer of suster nie liefhet nie, is beslis nie ’n kind van God nie. “Ons moet mekaar liefhê!” Hierdie boodskap het julle reg van die begin af gehoor. Moenie soos Kain wees nie. Hy het sy broer vermoor omdat hy sleg van binne was. Jy sou kon vra wat hom gedryf het om dit te doen. Wel, hulle het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Kain het dinge gedoen wat sleg was, maar sy broer het dinge gedoen wat voor God reg was. Julle moet dus nie verbaas wees nie, broers, as die ongelowige wêreld julle haat. Ons weet mos: ons was eers geestelik dood, maar ons toestand is verander. Ons lewe nou! Dit kan almal sien uit ons liefde vir ons medegelowiges. Aan die ander kant is iemand sonder liefde in die kloue van die geestelike dood. Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar. En dit weet julle, ’n persoon kan nie tegelyk deur moord ’n ander se lewe van hom wegvat en dan self vir ewig wil lewe nie. Wil julle weet wat liefde is? Ons het ’n goeie voorbeeld daarvan: Jesus Christus het Homself gegee om tot ons voordeel doodgemaak te word. Ons behoort presies dieselfde te doen. Ons moet bereid wees om ons lewe tot die voordeel van ons medegelowiges te gee. Byvoorbeeld, veronderstel iemand het alles wat hy nodig het. Hy kom egter agter dat ’n medegelowige eenvoudig nie genoeg het om oor die weg te kom nie. Wat nou gemaak? Wel, as die persoon wat genoeg het, meen die nood van die ander een raak hom nie en ongevoelig daarby verbykyk, flits die rooi ligte. Daardie persoon tree eenvoudig nie op uit die liefde wat van God kom nie. My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is. So sal ons daarvan seker kan wees dat wat ons doen uit die fontein van God se waarheid borrel. Ons sal met vertroue voor God self kan staan. Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self. My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie. Dan kan ons dinge van Hom vra en ons sal dit van Hom kry. Ons vra en doen immers net dit wat in ooreenstemming is met God se wil en wat Hom tevrede en gelukkig maak. Dít is wat God wil hê: ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof aanvaar vir wie Hy is. Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen deur mekaar lief te hê. Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het.

1 JOHANNES 3:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk. Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is. Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid. Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie. Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie. Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is. Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig. Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is. Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie. Dít is die boodskap wat ons van die heel begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Ons moet nie soos Kain optree wat uit die bose was en sy broer doodgemaak het nie. Om watter rede het hy hom doodgemaak? Omdat sy eie optrede boos was en sy broer s’n reg. Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang. Elkeen wat sy broer of suster haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie. Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het. Só moet ons ook ons lewens prysgee ter wille van ons broers en susters. Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings. Deur ons optrede sal ons weet dat ons getrou aan die waarheid lewe en dat ons ons gewete voor Hom tot rus kan bring. Maar selfs wanneer ons gewete ons sou aankla – God is groter as ons gewete en Hy weet alles. Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak. En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het. Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.

1 JOHANNES 3:1-24

1 JOHANNES 3:1-24 AFR83