1 Korinthiërs 11:17-34

1 Korinthiërs 11:17-34 AFR20

In my volgende voorskrif prys ek julle nie aan nie, dat wanneer julle bymekaarkom, dit meer kwaad as goed doen. Allereers hoor ek dat wanneer julle as •gemeente saamkom, daar verdeling onder julle is; en in 'n mate glo ek dit, want daar moet onvermydelik groeperings onder julle kom, sodat dit duidelik kan word wie die beproefdes onder julle is. Wanneer julle saamkom, is dit nie werklik om die Here se maaltyd te eet nie; want elkeen gaan voort om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger, en 'n ander word dronk. Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of minag julle die gemeente van God, en verneder julle diegene wat niks het nie? Wat kan ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Oor hierdie saak prys ek julle nie. Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.” Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom. Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here. Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om 'n oordeel oor homself te eet en te drink. Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en 'n hele paar het reeds ontslaap. Indien ons onsself deeglik sou beoordeel, sou ons nie geoordeel word nie. As ons deur die Here geoordeel word, word ons gedissiplineer, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom, my broers, wag vir mekaar wanneer julle saamkom om te eet. As iemand honger is, laat hy tuis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring wanneer julle saamkom nie. Die oorblywende sake sal ek reël sodra ek kom.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Korinthiërs 11:17-34