1 KORINTIËRS 11:17-34

1 KORINTIËRS 11:17-34 Bybel vir almal (ABA)

Daar is iets anders wat ek vir julle moet sê, maar ek kan julle nie hieroor prys nie. Wanneer julle in die kerk bymekaar is, dan gebeur daar dinge wat julle geloof nie sterker maak nie, dit maak julle geloof swakker. Die eerste ding is: Ander mense het vir my vertel dat daar groepe in julle gemeente is wat teen mekaar is wanneer julle bymekaarkom. En ek dink dit is miskien waar wat daardie mense sê. Miskien is dit goed dat daar groepe is by julle, want nou kan 'n mens sien wie behoort regtig aan Christus en wie behoort nie aan Hom nie. Wanneer julle gemeente bymekaarkom om nagmaal te vier, dan vier julle nie regtig die nagmaal van die Here nie. Want wanneer julle eet, dan is daar party mense wat voor die ander begin eet, en hulle eet dan hulle eie kos. En wat gebeur dan? Party mense kry niks om te eet nie, en ander mense drink te veel. Het julle nie huise waar julle kan eet en drink nie? Ja, julle het. Julle wys dat die gemeente van God glad nie belangrik is vir julle nie, want julle verneder die mense wat min het. Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Nee, nooit nie. Ek sê hierdie dinge vir julle, want die Here self het vir my gesê wat die nagmaal is, en ek het dit ook vir julle geleer: Daardie nag toe Judas Iskariot vir die Here Jesus verraai het, het Jesus brood geneem en Hy het vir God dankie gesê. Toe het Hy die brood gebreek en gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.” Nadat hulle dit geëet het, het Jesus ook die beker geneem en gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die nuwe verbond. Elke maal wanneer julle die wyn drink, dan moet julle aan My dink.” Want elke maal wanneer julle hierdie brood eet en die wyn drink, dan preek julle dat die Here Jesus gesterf het. En julle doen dit totdat Hy weer kom. Daarom, as iemand nie op die regte manier die brood van die Here eet of die wyn van die Here drink nie, dan is hy so skuldig soos die mense wat vir die Here doodgemaak het. Elkeen moet eers vir homself ernstig vra of hy verstaan wat die nagmaal beteken en of hy reg lewe. En as hy dink dat hy dit verstaan en dat hy reg lewe, dan mag hy van die brood eet en uit die beker drink. Die gemeente is die liggaam van die Here. As jy dit nie verstaan nie, dan eet en drink jy verkeerd by die nagmaal. En dan sal die Here jou straf. Daarom is daar baie van julle wat swak en siek is, en daarom het baie mense ook gesterf. Ons moet eers vir onsself ernstig vra of ons verstaan wat die nagmaal beteken en of ons reg lewe. As julle dit gedoen het, dan het die Here julle nie gestraf nie. Maar as die Here ons straf, dan doen Hy dit soos 'n pa wat sy kinders straf. Hy wil ons nie saam met die mense van die wêreld straf nie. My vriende, daarom moet julle vir mekaar wag wanneer julle bymekaarkom om die nagmaal te vier. Wanneer iemand honger is, dan moet hy by sy huis eet voordat julle bymekaarkom. As julle dit nie doen nie, dan sal die Here julle straf. Daar is nog ander dinge waaroor ek met julle wil praat, maar ek sal dit doen wanneer ek na julle toe kom.

1 KORINTIËRS 11:17-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR terwyl ek dit beveel, kan ek dit nie prys nie dat julle saamkom, nie ten goede nie maar ten kwade. Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit. Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word. As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie. Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk. Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie. Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en 'n aantal het ontslaap. Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar; en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot 'n oordeel saamkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek kom.

1 KORINTIËRS 11:17-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Noudat ek besig is om voorskrifte te gee – daar is dinge wat ek nie prysenswaardig vind nie. Dit is dat julle samekomste eerder kwaad doen as goed. Wat my veral hinder, is dat daar, soos ek hoor, verdeeldheid onder julle is wanneer julle as gemeente saamkom; en gedeeltelik glo ek dit ook. Daar moet trouens partyskappe onder julle wees sodat dit bekend kan word wie van julle die toets kan deurstaan. As julle dan as gemeente saamkom, is dit nie meer die nagmaal van die Here wat julle vier nie, want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen gou sy eie eetgoed, met die gevolg dat party honger bly en party te veel drink. Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of het julle nie eerbied vir die gemeente van God nie, en wil julle die armes verneder? Wat moet ek vir julle sê? Moet ek julle prys? Hieroor prys ek julle beslis nie! Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Elkeen wat op 'n ongepaste wyse van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur 'n oordeel oor homself. Daarom is daar baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom, my broers, as julle saamkom om die nagmaal te vier, wag vir mekaar. As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek daar kom.

1 KORINTIËRS 11:17-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In my volgende voorskrif prys ek julle nie aan nie, dat wanneer julle bymekaarkom, dit meer kwaad as goed doen. Allereers hoor ek dat wanneer julle as •gemeente saamkom, daar verdeling onder julle is; en in 'n mate glo ek dit, want daar moet onvermydelik groeperings onder julle kom, sodat dit duidelik kan word wie die beproefdes onder julle is. Wanneer julle saamkom, is dit nie werklik om die Here se maaltyd te eet nie; want elkeen gaan voort om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger, en 'n ander word dronk. Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of minag julle die gemeente van God, en verneder julle diegene wat niks het nie? Wat kan ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Oor hierdie saak prys ek julle nie. Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.” Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom. Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here. Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om 'n oordeel oor homself te eet en te drink. Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en 'n hele paar het reeds ontslaap. Indien ons onsself deeglik sou beoordeel, sou ons nie geoordeel word nie. As ons deur die Here geoordeel word, word ons gedissiplineer, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Daarom, my broers, wag vir mekaar wanneer julle saamkom om te eet. As iemand honger is, laat hy tuis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring wanneer julle saamkom nie. Die oorblywende sake sal ek reël sodra ek kom.

1 KORINTIËRS 11:17-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Nou, hierin wat ek aan julle verkondig, loof ek julle nie, dat julle saamkom nie ten goede nie, maar ten kwade. Want eerstens, wanneer julle in die gemeente saamkom, hoor ek dat daar verdeeldheid onder julle is; en ek glo dit gedeeltelik. Want daar moet ook dwaalleer onder julle wees, sodat die wat goedgekeur is, onder julle openbaar kan word. Wanneer julle dan op een plek bymekaarkom, is dit nie om die nagmaal van die Here te eet nie. Want deur te eet, neem elkeen voor die ander sy eie maaltyd, en die een is honger en die ander is dronk. Wat? Het julle nie huise om in te eet en te drink nie? of verag julle die gemeente van God en beskaam die wat nie het nie? Wat sal ek vir jou sê? sal ek U hierin loof? Ek loof U nie. Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgegee het, dat die Here Jesus in dieselfde nag waarin Hy verraai is, brood geneem het. En nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Op dieselfde manier het Hy ook die beker geneem toe hy die maaltyd geëet het, en gesê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle dit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Daarom, elkeen wat hierdie brood eet en hierdie beker van die Here drink, onwaardig, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar laat iemand homself ondersoek en so van daardie brood eet en uit daardie beker drink. Want hy wat op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, sonder om die liggaam van die Here te onderskei. Daarom is baie swakkes en siekes onder julle, en baie slaap. Want as ons onsself sou oordeel, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. Daarom, my broeders, as julle bymekaarkom om te eet, vertoef vir mekaar. En as iemand honger het, laat hom by die huis eet; dat julle nie saamkom tot veroordeling nie. En die res sal ek regmaak as ek kom.

1 KORINTIËRS 11:17-34 Die Boodskap (DB)

Ek het nog iets om met julle te bespreek, maar dit is nie vir my so lekker nie, want hier is julle op die verkeerde pad en ek moet dit ongelukkig vir julle sê. As julle as gemeente bymekaarkom, bring dit die slegste in julle na vore in plaas van die beste. Ek hoor byvoorbeeld dat as julle veronderstel is om as gemeentelede saam te wees, julle groepe vorm wat elkeen sy eie ding doen. Soos ek julle ken, weet ek dat wat ek gehoor het nie sommer praatjies is nie. Die gedwarstrekkery is nie net sleg nie. Dit is ook goed, want so wys julle julle ware kleure. So kan ’n mens sien wie staan regtig aan die kant van God en wie nie. As julle bymekaarkom om saam nagmaal te hou, tree julle so lelik op dat ’n mens dit sowaar nooit “nagmaal” sal kan noem nie. Julle wag dan nie eens vir mekaar nie en deel ook nie julle kos wat elkeen saamgebring het met mekaar nie. Sonder om om te gee of jou medegelowige langs jou doodgaan van die honger, sal jy jou trommeldik eet en nog te veel wyn ook drink. Maar jy sal nie daaraan dink om vir hom langs jou ook ietsie aan te bied nie. Hoekom gaan jy dan nie maar liewer huis toe en gaan eet jou daar trommeldik en drink daar jou wyn alleen op nie? Is dit vir julle lekker om op hierdie manier die arm mense te verneder wat nie soveel kos soos julle rykes het nie? Wat verwag julle moet ek nou daarvan sê? Dink julle ek moet daaroor bly voel en julle vreeslik prys? So nooit aste nimmer nie. Kom ek verduidelik weer vir julle wat die Here self oor die nagmaal gesê het. Dit alles het die nag gebeur toe Jesus gevang is. ’n Rukkie voor Hy gevang is, het Hy saam met sy getrouste volgelinge geëet. Hy het die brood gevat en vir God daarvoor dankie gesê. Hy breek die groot stuk brood toe in kleiner stukke en deel dit uit. Terwyl Hy dit doen, sê Hy: “Dit is my liggaam wat net so gebreek word. Julle sal baie daarby baat. Elke keer as julle dit eet, moet julle dink aan wat Ek alles vir julle gedoen het.” Toe hulle amper klaar geëet het, vat Jesus die groot beker waarin die wyn gehou is. Toe sê Hy: “Die wyn in hierdie beker staan vir die nuwe ooreenkoms wat God met julle gemaak het omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink die wyn en elke keer as julle dit drink, onthou dan wat Ek vir julle gedoen het.” Eet die brood en drink die wyn dus in hierdie gesindheid totdat die Here terugkom. As julle dit so doen, is dit so goed soos ’n preek vir almal om te sien wat die dood van die Here vir julle beteken. Dit beteken dat ’n mens nie sommer skouerophalend die nagmaal kan eet asof dit niks is nie. As jy dit op so ’n traak-my-nieagtige manier doen, is jy amper net soos daardie mense wat vir Jesus geslaan en gespot het toe Hy gekruisig is. Hulle het nie besef wat die dood van Jesus regtig vir mense beteken nie. Wil jy regtig soos hulle wees? Sekerlik nie. Kyk dan diep in jouself en soek na die redes hoekom jy die nagmaal eet. Toets jou gesindheid voor jy van die brood en die wyn vat. As jy die nagmaal gebruik, maar jy gee nie om vir wat die brood en wyn beteken nie, kan dit ernstige gevolge vir jou hê. Jy gee die Here dan alle rede om jou te straf. Wil julle ’n bewys hiervoor hê? Kyk net hoeveel van julle het nie meer behoorlik krag om uit die bed op te staan nie en ly aan allerhande siektes. Party is selfs al dood. Wees dus liewer strenger met julleself en maak mooi seker dat julle die nagmaal eet soos die Here dit bedoel het. Wie dit met die regte gesindheid doen, sal die Here geen rede gee om hom te straf nie. Die Here wys nou liewer vir ons dat Hy met ons ongelukkig is as ons verkeerde dinge doen. Deur slegte dinge met ons te laat gebeur help Hy ons ook reg sodat ons nie eendag dieselfde paadjie sal loop as die wêreld wat nie in Hom glo nie. Die Here gaan hulle almal met die finale oordeel hard straf. My liewe vriende, nou sal julle goed verstaan waarom ek julle vra om maar te wag tot almal daar is voor julle die nagmaal eet. As iemand dan so honger is dat hy nie kan wag nie, laat hy iets by die huis eet. As julle dan bymekaar is, sal die versoeking nie daar wees om iets verkeerds te doen nie en sal dit ook nie vir die Here nodig wees om julle te straf nie. Dit is nou vir eers genoeg hieroor. Wanneer ons mekaar weer sien, kan ons verder gesels oor al die ander goed waaroor julle nog onseker is.

1 KORINTIËRS 11:17-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wanneer ek nou hierdie volgende saak ophaal, kan ek julle nie prys nie, want as julle as gemeente bymekaarkom, doen dit meer kwaad as goed. Wat vir my vooropstaan, is dat ek verneem dat daar groepvorming onder julle is wanneer julle as gemeente bymekaarkom, en in ’n mate glo ek dit. (Sulke verdelings onder julle kan selfs nodig wees in dié sin dat dit sal uitwys wie die staatmakers onder julle is.) As julle dan as gemeente bymekaarkom, is dit duidelik nie die Here se maaltyd wat julle eet nie. Want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen haastig sy eie ete met die gevolg dat die een honger bly en die ander een weer dronk word. Hoe is dit moontlik? Het julle dan nie julle eie huise waar julle kan eet en drink nie? Het julle geen respek vir die gemeente van God nie? Of wil julle die arm mense verneder? Wat verwag julle moet ek hieroor sê? Julle wil tog seker nie hê ek moet julle hieroor prys nie? Wel, dit sal ek sekerlik nie doen nie! Dít is wat die Here self gesê het en wat ek destyds aan julle oorgedra het net soos ek dit ontvang het. In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir júlle. Gebruik dit ter herinnering aan My.” Net so het Hy die wynbeker ná die maaltyd geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat verseël is deur my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, ter herinnering aan My.” Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die Here se dood totdat Hy terugkom. As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink. Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie. Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is. As ons onsself egter vooraf ondersoek, sal ons nie onder God se oordeel kom nie. Maar selfs as ons God se oordeel en dissipline moet verduur, sal ons nie saam met die wêreld veroordeel word nie. Daarom, my broers en susters, as julle vir die maaltyd van die Here bymekaarkom, wag vir mekaar. As julle werklik honger is, eet liewer vooraf by die huis sodat julle nie ’n oordeel oor julleself bring wanneer julle bymekaarkom nie. Die ander kwessies sal ek hanteer wanneer ek by julle aankom.