1 Korinthiërs 11:1-16

1 Korinthiërs 11:1-16 AFR20

Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van •Christus volg. Ek prys julle, omdat julle altyd aan my dink, en omdat julle vashou aan die tradisies, soos ek dit aan julle oorgelewer het. Maar ek wil hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. Elke man wat met 'n bedekking op sy kop bid of profeteer, doen sy hoof oneer aan. En elke vrou wat met 'n onbedekte kop bid of profeteer, doen haar hoof oneer aan; want dit is presies dieselfde asof haar kop geskeer is. Want as 'n vrou nie haar kop bedek nie, moet sy ook maar haar hare kort afsny. As dit vir haar 'n skande is om haar hare kort te sny of haar kop kaal te skeer, moet sy haar kop bedek. 'n Man behoort nie sy kop te bedek nie, omdat hy die beeld en sieraad van God is, terwyl die vrou die sieraad van die man is. Want die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man; en die man is nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou, ter wille van die engele, 'n teken van gesag op haar kop hê. Nogtans bestaan 'n vrou nie apart van 'n man nie en 'n man nie apart van 'n vrou nie – in die Here – want soos die vrou daar is uit die man, so ook is die man daar deur die vrou. Maar alle dinge kom van God. Oordeel julle self onder mekaar: Is dit gepas vir 'n vrou om met 'n onbedekte kop tot God te bid? Leer juis die natuurlike orde julle nie dat as 'n man sy hare lank dra, dit vir hom 'n oneer is, maar as 'n vrou haar hare lank dra, dit vir haar 'n eer is nie? Want lang hare is vir haar as 'n bedekking gegee. As iemand egter twisgierig wil wees – ons het nie so 'n gewoonte nie, en die ander •gemeentes van God ook nie.