1 KORINTIËRS 11:1-16
1 KORINTIËRS 11:1-16 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet doen soos ek doen. En ek doen soos Christus doen. Ek wil julle prys omdat julle altyd probeer onthou wat ek vir julle geleer het. Julle onthou en doen die dinge wat ek by die Here en by die ander apostels gehoor het en wat ek vir julle geleer het. Ek wil hê julle moet weet dat Christus die Hoof van elke man is. Die man is die hoof van sy vrou, en God is die Hoof van Christus. 'n Man wat bid of wat God se boodskap bring, moenie sy hare toemaak nie, want dan eer hy nie vir Christus, sy Hoof, nie. Maar 'n vrou wat bid of wat God se boodskap bring, moet 'n sluier oor haar kop dra. As sy nie 'n sluier dra nie, dan eer sy nie haar hoof, haar man, nie, want dan is sy dieselfde soos 'n vrou wat haar kop kaal geskeer het. As 'n vrou nie 'n sluier wil dra nie, dan moet sy ook haar hare afsny. Maar julle weet dat dit verkeerd is wanneer 'n vrou haar hare afsny of haar kop kaal skeer. Daarom moet sy 'n sluier dra wanneer sy bid of God se boodskap bring. 'n Man moenie iets op sy kop dra wanneer hy bid of God se boodskap bring nie, want hy is die hoof in God se plek en hy moet God eer. Maar die vrou moet haar man eer. Want God het die man nie uit die vrou gemaak nie, Hy het die vrou uit die man gemaak. En God het die vrou gemaak om die man te help, Hy het nie die man gemaak om die vrou te help nie. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra. So wys sy dat haar man haar hoof is. En dan is die engele ook tevrede. Maar onthou: Die man en die vrou behoort altwee aan die Here. Daarom het die man sy vrou nodig, en die vrou het haar man nodig. Ja, dit is reg, God het die vrou uit die man gemaak. Maar elke man word uit 'n vrou gebore. En so kom alles van God. Julle moet nou self besluit: Is dit reg dat 'n vrou tot God bid wanneer sy niks op haar kop dra nie? Nee. Ons sien by al die volke dat dit nie reg is dat 'n man lang hare dra nie. Maar as 'n vrou lang hare het en sy maak dit mooi, dan lyk sy pragtig. Want 'n vrou het lang hare gekry sodat sy haar kop kan toemaak. As daar iemand is wat oor hierdie dinge wil stry, dan sê ek vir hom: By ons én by die ander gemeentes van God stry ons nie oor hierdie dinge nie. Die vroue dra altyd sluiers wanneer hulle bid of wanneer hulle 'n boodskap van God bring.
1 KORINTIËRS 11:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WEES my navolgers, soos ek dit ook van Christus is. EN ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het. Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan; maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is. Want as 'n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny; maar as dit vir 'n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy haar hoof bedek. Want 'n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou 'n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele. En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie. Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God. Oordeel self: Is dit betaamlik dat 'n vrou met onbedekte hoof tot God bid? Of leer ook die natuur self julle nie dat as 'n man lang hare dra, dit vir hom 'n oneer is nie; maar as 'n vrou lang hare dra, dit vir haar 'n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as 'n bedekking? Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so 'n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie.
1 KORINTIËRS 11:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg. Ek vind dit prysenswaardig dat julle in alles aan my bly dink en vashou aan die oorgelewerde leer soos ek dit aan julle oorgedra het. Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en 'n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus. Elke man wat bid of profeteer met iets op sy kop, doen sy hoof, Christus, oneer aan. Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos 'n vrou wie se hare afgeskeer is. As 'n vrou nie iets op haar kop wil sit nie, kan sy ewe goed haar hare laat afsny. Maar aangesien dit 'n skande is vir 'n vrou om haar hare te laat afsny of afskeer, moet sy iets op haar kop sit. 'n Man behoort nie iets op sy kop te sit nie. Hy is die beeld en sieraad van God, maar die vrou is die sieraad van die man. Die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man. Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom behoort die vrou 'n teken van die man se gesag oor haar op haar kop te hê ter wille van die engele. Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld, maar alles is uit God. Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir 'n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid? Die algemene opvatting is tog dat dit vir 'n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie, maar dat dit vir 'n vrou wel eerbaar is. Lang hare is immers vir haar gegee as 'n bedekking. Ons het in die erediens nie 'n ander gewoonte nie, en die ander gemeentes van God ook nie. Dit sê ek vir iemand wat hieroor wil stry.
1 KORINTIËRS 11:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van •Christus volg. Ek prys julle, omdat julle altyd aan my dink, en omdat julle vashou aan die tradisies, soos ek dit aan julle oorgelewer het. Maar ek wil hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. Elke man wat met 'n bedekking op sy kop bid of profeteer, doen sy hoof oneer aan. En elke vrou wat met 'n onbedekte kop bid of profeteer, doen haar hoof oneer aan; want dit is presies dieselfde asof haar kop geskeer is. Want as 'n vrou nie haar kop bedek nie, moet sy ook maar haar hare kort afsny. As dit vir haar 'n skande is om haar hare kort te sny of haar kop kaal te skeer, moet sy haar kop bedek. 'n Man behoort nie sy kop te bedek nie, omdat hy die beeld en sieraad van God is, terwyl die vrou die sieraad van die man is. Want die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man; en die man is nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou, ter wille van die engele, 'n teken van gesag op haar kop hê. Nogtans bestaan 'n vrou nie apart van 'n man nie en 'n man nie apart van 'n vrou nie – in die Here – want soos die vrou daar is uit die man, so ook is die man daar deur die vrou. Maar alle dinge kom van God. Oordeel julle self onder mekaar: Is dit gepas vir 'n vrou om met 'n onbedekte kop tot God te bid? Leer juis die natuurlike orde julle nie dat as 'n man sy hare lank dra, dit vir hom 'n oneer is, maar as 'n vrou haar hare lank dra, dit vir haar 'n eer is nie? Want lang hare is vir haar as 'n bedekking gegee. As iemand egter twisgierig wil wees – ons het nie so 'n gewoonte nie, en die ander •gemeentes van God ook nie.
1 KORINTIËRS 11:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is. Ek loof julle nou, broeders, dat julle in alles aan My dink en die verordeninge onderhou soos Ek dit aan julle oorgelewer het. Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof van elke mens is; en die hoof van die vrou is die man; en die hoof van Christus is God. Elkeen wat bid of profeteer, met sy hoof bedek, onteer sy hoof. Maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan, want dit is selfs al een asof sy geskeer is. Want as die vrou nie bedek is nie, laat haar ook geskeer word; maar as dit vir 'n vrou skande is om geskeer of geskeer te word, laat haar toegemaak word. Want 'n man behoort wel sy hoof nie te bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie van die vrou nie; maar die vrou van die man. Die man is ook nie vir die vrou geskape nie; maar die vrou vir die man. Om hierdie rede behoort die vrou krag op haar hoof te hê ter wille van die engele. Nogtans is ook nie die man sonder die vrou of die vrou sonder die man in die Here nie. Want soos die vrou uit die man is, so is die man ook deur die vrou; maar alle dinge van God. Oordeel self: is dit lekker dat 'n vrou tot God bid? Leer die natuur self julle nie dat as 'n man lang hare het, dit vir hom 'n skande is nie? Maar as 'n vrou lang hare het, is dit vir haar 'n eer, want haar hare is aan haar gegee as 'n bedekking. Maar as iemand blykbaar twisgierig is, ons het nie so 'n gewoonte nie, ook nie die gemeentes van God nie.
1 KORINTIËRS 11:1-16 Die Boodskap (DB)
In ’n neutedop: julle moet doen wat ek doen, net soos ek doen wat Christus doen. Dit is vir my lekker om te hoor dat julle my nie vergeet het nie, maar gedurig aan my dink en dat julle die dinge doen wat ek vir julle as Christene geleer het. Daar is nog iets wat ek vir julle wil sê. Elke man staan onder die gesag van Christus en die vrou onder die gesag van die man. Almal staan egter onder die gesag van God. As enigiemand met God of oor God praat sonder die nodige respek, respekteer hy ook nie vir Christus nie. Net so steek ’n vrou haar man in die skande as sy sonder respek vir haar man met of oor God praat. Dit is so goed sy mismaak haarself liederlik. Sy kan haar maar mismaak as sy nie, soos ons gebruik is, uit respek vir haar man iets op haar kop het nie. As sy dit nie wil doen nie, moet sy maar al haar hare afsny. Dit is ons gebruik; ’n vrou moet iets op haar kop hê as teken van haar respek vir haar man, maar ’n man moet dit juis nie doen nie, uit respek vir God. Iets van die grootheid van God moet in die man sigbaar word. As teken daarvan moet hy dus nie iets op sy kop sit nie. Deur die klere wat ’n vrou aantrek, moet sy weer iets van haar respek vir haar man wys. Julle vra waarom. Wel, God het mos nie die man uit die vrou gemaak nie, maar die vrou uit die man. Die man is nie gemaak omdat daar ’n vrou was nie, maar die vrou omdat daar ’n man was. Daarom moet die vrou iets op haar kop dra om so te wys sy respekteer haar man. Selfs die hemelse wesens, die engele, sal dit kan sien. Noudat ons Christene is wat die Here dien, moet ons nie te veel argumenteer oor wie nou juis die belangrikste is, die man of die vrou, nie. Die man het die vrou nodig en die vrou die man. Dat dit so is, kan ons in die natuur sien. Net soos die eerste vrou uit die man geneem is, so word mans nou uit vroue gebore. Agter al hierdie dinge staan God self, want dit is Hy wat mans en vroue maak. Werk dit nou vir julleself uit: Is dit reg vir ’n vrou om met God te praat terwyl sy geen respek vir haar man het nie en dit wys deur nie ons gebruik te respekteer en iets op haar kop te sit nie? Sê julle gevoel nie ook vir julle dat ’n man wat lang hare dra hom belaglik maak, terwyl dit weer vir ’n vrou ’n pragtige versiering is nie? God het haar hare juis vir haar gegee om haar kop mooi toe te maak. As iemand nou hieroor wil stry, is my antwoord dat dit is hoe ons dinge doen. Nou bedoel ek nie net ons nie, maar al die ander Christene ook.
1 KORINTIËRS 11:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Volg julle dan my voorbeeld, soos ek Christus s’n volg. Ek wil julle daarvoor prys dat julle in alles aan my dink en dat julle bly vashou aan ons geloofsoortuigings soos ek dit aan julle oorgedra het. Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus hoof is oor elke man, dat die man hoof is oor sy vrou en dat God hoof is oor Christus. Elke man wat met ’n kopbedekking bid of profeteer, doen Christus oneer aan. En elke vrou wat bid of profeteer sonder dat sy haar kop bedek, doen haar man oneer aan, want dis dieselfde as wanneer haar hare afgeskeer sou wees. Ja, as sy weier om ’n kopbedekking te dra, kan sy ewe goed haar hare ook maar afsny. Maar aangesien dit ’n skande vir ’n vrou is as haar hare afgesny of haar kop kaalgeskeer is, behoort sy ’n kopbedekking te dra. ’n Man behoort egter nie ’n kopbedekking op te hê wanneer hy aanbid nie, want hy is God se beeld en sieraad. Die vrou is weer die man se sieraad. Die eerste man is immers nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man. Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. Die vrou moet dus ’n kopbedekking op hê as ’n teken van haar man se gesag oor haar, want die engele is besig om toe te kyk. Tog, voor die Here is die vrou aangewese op die man en die man is weer aangewese op die vrou. Want alhoewel die eerste vrou uit die man afkomstig was, is alle mans sedertdien uit vroue gebore. En uiteindelik is alles van God afkomstig. Oordeel julle nou maar self. Is dit ordentlik vir ’n vrou om in die erediens met ’n onbedekte kop tot God te bid? Leer julle gevoel van ordentlikheid nie vir julle dat dit vir ’n man oneervol is as hy ’n kopbedekking opsit, maar dat ’n bedekking vir ’n vrou juis ’n sieraad is nie? Lang hare is immers as ’n bedekking vir haar gegee. Maar as iemand hieroor wil argumenteer – ons het in elk geval nie so ’n gebruik nie en ook nie die ander gemeentes van God nie.